Nel, Paul * 1867

Ds. Nel Paul

gebore

26 Jan. 1867

OORLEDE

7 Okt. 1943

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1892

ORDEN

1893

standplase

Masjonaland

1894 Makwassie

1897 Jeppestown

1907 Ermelo

EMERITEER

1934

 

Ds. Paul Nel is op 26 Januarie 1867 te Greytown, Natal, gebore. Sy teologiese opleiding het hy aan die Kweekskool te Stellenbosch ontvang en is in 1892 gelegitimeer. Nadat hy ‘n jaar in Masjonaland deurgebring het, het hy ‘n beroep na Makwassie aangeneem wat hy vir drie jaar bedien het toe hy na Jeppestown vertrek het. In laasgenoemde gemeente werk hy onvermoeid voort tot 1907 toe hy hom ‘n beroep na Ermelo laat welgeval het, waar hy vir 27 jaar gestaan het. Na ‘n vrugbare bediening van 42 jaar in die Kerk het hy sy emeritaat aanvaar. Hy was ‘n kragtige en invloedryke persoonlikheid wat groot dienste aan die Kerk in Transvaal bewys het. Die Sinodale vergaderinge het hy eers as assistentscriba en later as scriba gedien. Ook was hy verskeie kere Moderator van die Transvaalse Kerk. Vir baie jare was hy lid van die Raad van die Kerke ‘n Raad waarvan hy ook scriba en voorsitter was. Hy was ook redakteur van die eerste Transvaalse kerkblad De Vereeniging. Gedurende sy vrugbare bediening het hy veel tot stand gebring. Hy het vir geen opoffering teruggedeins omdat hy gedring was deur ‘n warme liefde vir die saak van die Here en vir die Kerk wat hy bedien het.Hy het visie gehad en dinge wat hy voorsien het, sal wellig later nog blyk waar te wees, soos dit al die geval is met die Teologiese Fakulteit wat hy in 1922 sien kom het. Toe hy op 7 Oktober 1943 oorlede is, het die Transvaalse Kerk een van sy groot manne verloor.