Esterhuyse, Andries Jacobus

 

GEBORE

7 Mrt. 1930

OORLEDE

24 Des. 1985

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1957

ORDEN

1958

STANDPLASE

Brandvlei

1961 Loxton

1966 Douglas

EMERITEER

Ds Andries JacobusEsterhuyse (7 Mrt. 1930 24 Des. 1985); ‘n seun van eerw H de W Esterhuyse wat reeds in 1932 na ‘n bediening van slegs vyf jaar in sy eerste gemeente, Philippolis, oorlede is, het skielik heengegaan terwyl hy in sy vierde Kaaplandse sendinggemeente gestaan het. Sy moeder was ‘n sendingverpleegster en sy eggenote ‘n dogter van eerw D J Faasen (oorlede 1943) wat op Saulspoort in Transvaal, in drie Vrystaatse sendinggemeentes en een in Kaapland gestaan het en ook enkele jare huisvader van die Sendinginstituut op Wellington was. Hy is op Ladybrand gebore en het op Willowmore gematrikuleer, nadat hy sy laerskool-opleiding eers op ‘n plaas in Williston en toe op Rietbron ontvang het. Na voltooiing van sy studie aan die sendinginstituut, word hy einde 1957 tot die bediening toegelaat en voordat hy op 25 Jul. 1958 op Brandvlei georden en bevestig word, werk hy in tydelike hoedanigheid op Rietbron. Daarna bedien hy die Karoogemeente Loxton (1961); Douglas/Pelindaba (1966) naby die samevloeiing van die Oranje en die Vaal, en Gamtoosvallei in Oos-Kaapland van 1971 af. In sy dienstyd word daar op Douglas ‘n kerkgebou opgerig en in Gamtoosvallei twee. Saam met sy gewone werksaamhede behartig hy die skribaat van die Ring van Port Elizabeth met groot nougesetheid, dien hy in die Verhoudingskomitee en hou hy in die Gamtoosvallei gereeld gevangenisdienste. Na ‘n ernstige hartaanval tydens sy gesin se vakansie op Jeffreysbaai, beswyk hy in ‘n voertuig op pad na Humansdorp se hospitaal. Hy was mensliewend, vriendelik, saggeaard, nederig en pligsgetrou. Daarby was hy bekend vir sy hartlike samewerking met ander gemeentes wat binne sy werksgebied geval het, terwyl hy met sy volgehoue werkywer in sy uitgestrekte gemeente oral agting afgedwing het.