DIE GESKIEDENIS VAN DIE STELLENBOSCH DROSDY
EN LATERE KWEEKSKOOLTERREIN
‘n Drost, is ’n regterlike en administratiewe amptenaar in ’n plattelandse distrik, destyds ook die distrik self, dis ook die ampsgebied, die plaaslike geregshof, die kantoor en die ampswoning van ’n landdros in die Kaap tussen 1685 tot 1828 toe dit afgeskaf is. Die woord is ’n afkorting van Nederlands drossaard uit Middelnederlands drossate = hofmeester + dy. Die betekenis is spoedig verskraal tot die gebou self. Die eerste drosdy is in 1687 te Stellenbosch opgerig. Sewe van die oorspronklike drosdy-geboue het behoue gebly, nl. Bathurst, Graaff-Reinet, Grahamstown, Swellendam, Tulbagh, Uitenhage en Worcester.
Die distrik van Stellenbosch is in 1679 sonder ’n dorp gestig. In 1685 het kommissaris Van Reede tot Drakenstein opdrag gegee dat die Eersterivierkolonie behoorlik opgemeet word. In 1682 is vier vryburgers as heemrade aangestel om mindere twiste op te los en toesig te hou oor die paaie en brûe. Hierdie raad van heemrade was die eerste burgerlike liggaam in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die drosdy te Stellenbosch was die eerste en oudste in SA.
Landmeter Wittebol het op 8 Mei 1680 onder toesig van Simon van der Stel die bouplanne opgetrek. Dit sou dien as Raadhuis en ampswoning van die landdros. Bouwerk het op 22 Oktober 1686 om veiligheidsredes op ’n klein langwerpige eiland (sien foto links) in die Eersterivier begin. Dit was ook een van die min gebiede wat nog nie as plase uitgegee was nie.
Bouwerk aan die eerste drosdy is teen in middel April 1687 voltooi. Dit het die amptelike woning van die eerste landdros Jan Mulder, wat in Julie 1685 aangestel is, geword. Sien skets van Van Stade links – gebou met drie skoorstene.
Teen 1707 moes die boonste verdieping afgebreek word om ineenstorting te voorkom. Teen 1709 was dit herbou en met gras gedek en die vloer met plaveistene bedek. Dit was nou ‘n enkelverdieping gebou en het ook ses skoorstene gehad. Hierdie tweede drosdy is saam met talle ander in die dorp (die kerk, twaalf woonhuise en enkele ander) deur die groot brand van 17 Desember 1710 vernietig.
Dit word egter weer opgebou en hierdie derde drosdy is op 1 November 1718 betrek. Volgens die 1757-skets het dit ‘n tipies simmetriese fasade en smal gewel gehad en was beskryf as een van die statigste wonings in die kolonie. Op 31 Oktober 1762 breek daar weer ‘n brand uit en behalwe vir enkele vertrekke onder die platdak brand die gebou af.
Die vierde drosdy verrys op dieselfde terrein en is in Kaaps-Hollandse styl met ‘n besonderse Barokgewel en is in 1768 in gebruik geneem.
Die laaste landdros van 1814 – 1827 was Daniel J van Ryneveld. Die amp van landdros is in 1827 afgeskaf en vervang met die van magistraat.
‘n Konsortium van honderd-en-dertien inwoners koop op 25 April 1846 toe die Drosdy vir $1 250 en stel dit tot beskikking van die Sinode vir die oprigting van ‘n Teologiese Seminarium of Kweekskool. Die Kaapse Sinode besluit op 11 Oktober 1852 om die aanbod te aanvaar en oordrag is op 20 September 1853 gefinaliseer. Op 1 November 1859 open dit as die eerste Teologiese Seminarium.
Die tweede Teologiese Seminarium: Teen 1863 (skaars vier jaar na die opening van die Teologiese Seminarium begin kla die Kuratorium: die gebou het “noch gerijf noch oog”. Die dosente kla dat hulle huise te klein is en lek. Otto Hager word aangestel as argitek en die bouwerk vorder stadig. Dit was eers in 1870 dat die nuwe gebou betrek kon word. Die eens sierlik Kaaps-Hollandse gebou is nou omskep in ’n Kaaps-Georgiaanse dubbelverdiepinggebou met Victoriaanse elemente. Die Son van Geregtigheid met die anker van hoop is bokant die voordeur aangebring. Die woorde “Sol iustitiae illustra nos” verskyn in die sierpleisterlint.
Die Derde Teologiese Seminarium: Reeds teen 1899 het die Kuratorium planne moes maak om, vanweë die groeiende getal studente, die gebou te vergroot. Intussen is daar ’n oorlog en die NG Kerk se Saakgelastigde maan teen bouwerk in “dezen onrustigen tijd”. Die dosente kla oor die dak wat lek! Op 7 November 1903 besluit die Sinode om £7 500 beskikbaar te stel en argitek Robertson word aangestel. Twaalf tenders word ontvang. Gourlay & Seun se tender van £12 109 word aanvaar. Die imposante trap word met marmer afgerond, ’n leiklip dak word opgesit. Nuwe meubels word aangeskaf. Proff Marais en Mulder het ’n groot aandeel in die onderneming gehad en dit kos die kerk uiteindelik £16 324 (16 324 pond, 18 sjielings en 8 pennies). Die nuwe gebou is op 16 Mei 1905 in gebruik geneem. Dr Andrew Murray preek in die Moederkerk en daarna volg ’n optog na die nuwe Kweekskool met al 42 die studente heel voor.
Daar word gepraat van neo-Renaissance en neo-Barok kenmerke wat nou deel geword het van die fasade van die Kweekskool, benewens ooreenkomste met die sogenaamde Tweede Keiserryk-mode – ’n mode wat hom geleen het tot monumentale gehoue van simmetriese ontwerp (gewoonlik met horisontale verdelings in drie of vyf vlakke), duidelik geartikuleerde vlakke en die gebruik van mansard-dakke in die een of ander vorm, dikwels bo projekterende eindpawiljoene. Ters Van Huysteen (1979:15) noem die “nuwe” Kweekskool ’n “statige ou dame …. sedig met haar mansarde hoedjie en haar geborduurde beffie” en sê dat sy die oudste bouwerk in Stellenbosch onder haar kuise romp versteek: “Sowaar in haar Franse kleredrag en met haar kundige grimering verberg die ou dame haar jare heel goed”
Vir die volgende klompie jare word daar min aan die gebou bestee. Die enigste noemens-waardige stryd was dat die Munisipaliteit ’n pad tussen die Eersterivier en die Kweekskool wou bou. Die Kweekskool se grond het tot in die Eersterivier geloop. Op 12 Junie 1935 aanvaar die Kuratorium ’n aanbod van £50 en Riverside Road (vandag Noordwal-Wes) word deur die Munisipaliteit gebou.
Die twee palmbome voor die Kweekskool is in 1934 geplant. Die Norfolk-den is reeds in 1848 geplant deur mev Van Ryneveld, eggenoot van die laaste landdros van Stellenbosch.
Die Vierde Teologiese Seminarium: In 1953 is daar weer groot veranderings aangebring. Die fasade van die Kweekskool is op 21 September 1979 is tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. In 1972 is die biblioteek en ouditorium aangebou en met ’n gang na die ou hoofgebou verbind. In 1997 word daar weer gebou en breek aan die biblioteek tot sy huidige vorm. Die Kerkargief en die Sol iustitiae-kapel is in 2004 gebou wat ook kantore vir die Diensgroep vir Gemeentebegeleiding insluit.
Interessanthede op die terrein:
In 1857 word John Murray en Nicolaas Jacobus Hofmeyr as professore na die Kweekskool beroep. Eers in 1859 was daar vier studente wat ingeskryf was en word die Kweekskool/Teologiese Seminarium op 1 November 1859 geopen. Die standbeeld in die Kweekskool-tuin is van hierdie eerste twee professore. Die gegraveerde reliëfwerk aan die kante stel di Jan Neethling (1826-1904), Andrew Murray jr. (1828-1917), Gottlieb van der Lingen (1804-1869) en Abraham Faure (1795-1875) voor. Die twee lewensgroot figure wat bo-op uitgebeeld word, is (sittend) prof John Murray (1826-1882), met prof Nicolaas Hofmeyr (1827-1909) wat langs hom staan. Hierdie twee teoloë was die eerste professore wat aangestel is om klas te gee by die Stellenbosse Kweekskool, wat gestig is om voornemende leraars van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op te lei in wat as die ortodokse Gereformeerde geloofsleer beskou is.
Die Stellenbosse teologieprofessor Johannes du Plessis (1868-1935) was ’n gevierde missioloog wat wyd in Afrika gereis het, ’n Bybelkenner en ’n toonaangewende figuur in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, sowel as ’n aktiewe rolspeler in die ontluikende ekumeniese beweging. Hy het ’n kampvegter vir hoër kritiek geword in ’n tyd toe die Nederduitse Gereformeerde Kerk oor die algemeen die histories-kritiese uitlegmetode as ’n gruwel beskou het. Hy is van kettery beskuldig, wat ’n uitgerekte stryd in die kerk en sekulêre regbank in die 1920’s tot die 1930’s tot gevolg gehad het, en hy is hiermee van leerbevoegdheid ontneem en het sy werk aan die Kweekskool verloor. Die inskripsie spreek die wens uit dat God sy nalatenskap sal verdedig. In 1937 het William Murray, CR louw, Pieter van der Merwe en ook later AF Louw ‘n monumente-komitee gestig en fondse gewerf. Dit is uit pienk Italiaanse marmer deur F Cuairan gebeitel. Die beeld is op 5 Julie 1944 op die hoek van Plein- en Van Riebeeckstrate onthul. In 2006 is dit na die terrein van die Kweekskool verskuif.