Booysen, Jan Jonathan

Ds JJ Booysen

Gebore

18 Nov. 1905

OORLEDE

26 Apr. 1983

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1936

ORDEN

1937

STANDPLASE

1937 Springs (Hpr.)

1938 Meru

1939 Messina

1944 Sanddrif

1948 Spoorwegbearbeiding

EMIRITEER

Ds. Jan Jonathan (Moos) Booysen (18 Nov. 1905-26 Apr. 1983) wat 28 jaar as voltydse spoorwegleraar van Transvaal diep spore sou trap, is op Vegkop in die distrik Heilbron in die Vrystaat gebore. Hy groei egter in die distrik Pietersburg in Noord-Transvaal op waar hy ook op die dorp die skooleindeksamen aflê. In 1932 kry hy aan die Universiteit van Stellenbosch die BA-graad en na voltooiing van die kursusaan die Teologiese Seminarie word hy einde 1936 gelegitimeer saam met verskeie manne wat dit op kerklike gebied ver sou bring. Sy ordening en bevestiging in sy eerste gemeente, Meru in die destydse Tanganjika in Oos-Afrika, volg op 17 Okt. 1937. Daar arbei hy met die erns en toewyding wat ook sy verdere bediening in Messina (November 1939) en Sanddrif (November 1944) kenmerk. Op 28 Mrt. 1948 word hy – as opvolger van ds. Pieter van der Hoven, sekretaris van die Witwatersrandse Armesorgraad, wat die werk in deeltydse hoedanigheid behartig het – spoorwegleraar eers van die hele Transvaal en toe (1957) net van Suid – maar van 1972 af ook van Wes-Transvaal. Onder sy leiding neem die beheer en administrasie van die werk heel gou ‘n ander gedaante aan. ‘n Nuwe patroon vir “spoorwegbediening” kry so sy beslag en mettertyd brei die werk grootliks uit. Afgesien van die gewone besoekwerk wat hy gedoen en die dienste wat hy by spoorwegstasies gehou het, is die bekende tydskrif “Spore” vir spoorwegmanne op sy inisiatief opgerig, terwyl hy ook kinderkampe en toere gereël en sendingwerk langs die spoorweë georganiseer het. Daarby bly hy student en in 1955 verwerf hy deur Unisa ‘n honneursgraad. In 1976 lê hy die tuig na ‘n geseënde en vrugbare bediening van 40 jaar neer. As spoorwegleraar woon hy eers op Benoni en later in Pretoria waar hy dan ook aan sy woning in Waterkloof die tydelike met die ewige verwissel. Hy was ‘n innig vrome mens en ‘n toegewyde gelowige, wat sy diens in eenvoud van hart en opregtheid van gemoed gelewer en sy hoë roeping met eer vervul het. By sy begrafnis is daar ook van sy besondere nederigheid getuig. (Jaarboek 1984).