
gestig
19 Maart 1920
ingelyf by
2014
Adres
H/v Eerstelaan en Derdestraat, Geduld
Eerste predikant
Ds D F Marais
Die NG Gemeente Springs was ‘n gemeente in die Hoëveld Sinode.
Dorpstigting en naamgewing
Springs kry sy naam van die regeringsplaas waarop die dorp aangelê is: De Springs, nr. 165. Dié naam staan in verband met die bodemgesteldheid, want die grond hier was moerassig en vol fonteine. Daar word beweer dat ‘n Engelsman, landmeter Brookes, die plaas opgemeet en die naam Springs gegee het. In Springs (“a natural fountain”) sou hy die verewiging van sy van, Brookes (“a rivulet”) gesien het, volgens die Kwarteeufees-Album Ned. Herv. of Geref. gemeente Springs, 1920-1945.
In die Volksraadsnotule van 2 Augustus 1889 is in verband met die tremweg van Boksburg na De Springs verwys na die regeringsplaas De Springs. Op 11 November 1904 is die regeringsplaas De Springs nr. 165 as dorp geproklameer. Eers op 27 Maart 1907 is ‘n gedeelte van De Springs nr. 165 tot openbare delwery verklaar.
Gemeentestigting
Die gemeente Springs is op 19 Maart 1920 met ‘n ledetal van 390 gestig. Die eerste leraar van hierdie gemeente was ds. D.F. Marais, wat op 28 Augustus 1920 bevestig is. Die gemeente was baie arm, sonder ‘n pastorie, met net ‘n kerksaaltjie wat die vorige jaar ingewy was, met ‘n skuldelas van nagenoeg £2 000. 1n 1922 vind die jong gemeente sy eerste terugslag, met die bloedige staking aan die hele Rand. Nadat die gemeente vir meer as twee jaar vakant was, is ds. W.R. de Kock, later predikant van Odendaalsrus, in 1924 as leraar bevestig. In die jaar 1927 smaak die gemeente die voorreg om ‘n eie pastorie te besit.
Ds. Malan se lang dienstyd
In Desember 1929 is die derde leraar binne minder as 10 jaar van sy bestaan bevestig, naamlik ds. D.J.S. Malan. Hy het die gemeente bearbei tot 1956, toe hy sy emeritaat aanvaar. Met die droogteramp van 1933 wat die hele land getref het, en die industriële ontwikkelinge van die daaropvolgende jare aan die Rand, het baie mense van die platteland ‘n heenkome hier gevind, met die gevolg dat die gemeente geweldig gegroei het; dit blyk hieruit, dat binne drie jaar drie gemeentes afgestig is, naamlik Springs-Oos, Geduld-Uitbreiding (later Springs-Noord genoem) en Selection Park.
Op 17 Junie 1939 kon die gemeente met vreugde sy lang gevoelde behoefte verwesenlik, toe die hoeksteen van hul kekrgebou deur ds. Malan gelê is. In Desember dieselfde jaar is die kerk ingewy.
In 1952 het Ons gemeentelike feesalbum berig: “Dat die gemeente van Springs nog steeds ‘n groeiende gemeente is en nog lank nie sy toppunt van stilstaan bereik het nie, blyk uit die feit dat op 11 Februarie 1949 ‘n medeleraar bevestig is, naamlik ds. T.P. Smith. Benewens ‘n sierlike kerkgebou beskik die gemeente oor twee pastorieë, ‘n kerksaal, en onlangs is ‘n gebou aangekoop wat eersdaags omgeskep sal word in ‘n saal waar dienste gehou sal word.”
Latere ontwikkelings
In 2010 het die moedergemeente 260 belydende lidmate en 15 dooplidmate gehad en was dit vakant. Ds. L.P. Steenkamp was pastorale hulp. In die laaste jaar van die gemeente se bestaan, 2013, was dit onderskeidelik 180 en 15. Ten spyte van die inlywing van die moedergemeente by Springs-Noord, het laasgenoemde se dooplidmate van 333 en belydende lidmate van 1 221 in 2010 afgeneem tot 253 en 1 088 in 2015. (Geskryf deur Morne van Rooyen).
Dogtergemeentes
- Springs-Oos,
- Geduld-Uitbreiding (later Springs-Noord genoem)
- Selectionpark
Predikante
- Daniël Francois Marais, 1920 – 1922
- William Russel de Kock, 1924 – 1929
- David Johannes Stefanus Malan, 1929 – 1956
- Thomas Philippus Smith, 1949 – 1959
- Gideon Jacobus Wilter Joubert, 1958 -1961
- Roelof Rudolf van Wyk, 1961 – 1964
- Jacobus Izak Du Toit Naude, 1966 -1967
- Coenraad Hendrik Van Graan, 1967 – 1968
- Nicolaas Wilhelm Pentz, 1977 -1980
- Johannes Joachim Myburgh,1979 -1982
- Albert Venter, 1983 – 2002
- Jacobus Barend Spies, 1988 -1995
- Jan Harm Grobler , 1988 – 2000
- Louis Lawrence Botha Naudé ,1989 – 1992 SAP Kpln
- Christiaan Frederik Fouché , 1993
- Lukas Petrus Steenkamp, 2003 -2013