Beck, Henricus

gebore

1669

oorlede

Jun 1755

universiteit

orden

gelegitimeer

standplase

1702 Drakenstein

1704 Stellenbosch

1726 Kaapstad

emeriteer

1731

Ds. Henricus Beck is in 1701 deur die Klassis van Amsterdam na die Kaap gestuur as opvolger van ds. Pierre Simond van Drakenstein. Die grootste gedeelte van sy gemeentelede was Franssprekend; daarom is juis ds. Beck uitgesoek, want hy was Frans besonder goed magtig. Sy opdrag was om in Hollands te preek, maar om met huisbesoek, waar nodig, Frans te praat. Hy het op 13 April 1702 in die Kaap aangekom en is in Mei na Drakenstein. Ná ‘n moeilike dienstyd daar is ds. Beck in 1704 ná ds. Van Loon se selfdood na Stellenbosch verplaas, maar hy het nog tot 1707 elke 14 dae die dienste op Drakenstein waargeneem. Op Sondag 13 Februarie 1707 is hy op Stellenbosch deur ds. Kalden in die huwelik bevestig met Johanna Constantia Elsevier, gebore op Ceylon in 1685. Sy was ‘n dogter van die sekunde Samuel Elsevier.

Ds. Beck het die teenwerking en verdagmaking van mense uit die anti-Van der Stel-groep ondervind. Meermale het van hulle sy lewe versuur en allerhande beskuldigings teen hom ingebring, maar telkens is hy, ook deur die nuwe bewind wat op dié van Willem Adriaan van der Stel gevolg het, eervol gehandhaaf. Met W.A. van der Stel se val op 16 April 1707 – dus twee maande ná ds. Beck se huwelik – het daar ‘n algehele verandering in die Kaap se bestuur gekom. Dit was nie alleen die goewerneur wat teruggeroep is nie, maar ook ander persone, onder wie die sekunde Samuel Elsevier, ds. Beck se skoonvader, en ds. Petrus Kalden. Dit was vir ds. Beck netelig. In Stellenbosch en Drakenstein het die anti-Van der Stel-groep vergeefs probeer om hom ook in die moeilikheid te bring, en toe is hy deur die nuwe bewind gelas om die dienste aan die Kaap in die plek van ds. Kalden waar te neem.

Naas die opregtheid van die duiwe het hy ook die versigtigheid van die slange nodig gehad, veral met die onrusstoker ds. Le Boucq by hom. Maar hy het hom in al die moeilikhede gehandhaaf en kon ook sy deel bydra om ‘n mate van kalmte te weeg te bring. Tot by die koms van ds. D’Ailly in 1708 het ds. Beck alleen gestaan in die bearbeiding van al drie die gemeentes. Dit was ‘n moeilike taak in hierdie tyd toe die vlamme van twis en partyskap verterend na alle kante uitgeslaan het. Nadat ds. Johannes Godefridus D’Ailly op 5 Februarie 1708 sy intreepreek in Kaapstad gehou het, en ds. Beck self sy afskeidspreek, is laasgenoemde na Stellenbosch terug.

Maar ná ds. D’Ailly se dood in 1726 is hy weer na die Kaap verplaas en het tot die einde van sy dienstyd die bediening daar vervul. Hy het die werk bly doen tot hy in 1729 “weegens zijn hooge jaaren, swak lighaam en swakke memorie” sy ontslag aangevra het, wat hom dan ook in 1731 eervol verleen is, met behoud van sy traktement. Ondanks sy hoë ouderdom was hy tog nog gewillig om preekbeurte waar te neem wanneer dit nodig was. Hy het blykbaar ‘n ouer indruk gemaak as wat hy jare getel het. O.F. Mentzel, wat in die jare 1733–1741 aan die Kaap gewoon het, praat van hom as ‘n grysaard van ongeveer 80 jaar. Hy het as liefhebbery ‘n paar kanonnetjies in sy tuin gehad wat hy met feestelike geleenthede afgevuur het. Toe hy sy tuin verkoop, het hy versoek dat hulle nog ‘n keer met kruid gelaai en afgeskiet word. Sy vrou is voor hom oorlede en daar was nie kinders nie. Ook sy suster wat in 1726 weduwee geword het, is voor hom oorlede. Hy was dus eensaam toe hy self in Junie 1755 die weg van alle vlees gaan. In sy testament het hy die kinders van sy suster gedenk en aan ‘n paar slawe vrylating gegee. Aan die diakonie het hy 50 ryksdaalders bemaak.

In ds. Beck se dienstyd is ’n nuwe kerk ingewy op dieselfde plek waar die teenswoordige gebou staan. Die eerste kerkgebou, in 1687 opgerig en reeds in 1689 vergroot, het in 1710 afgebrand in ’n brand wat die hele dorp op drie huise na in puin gelê het nadat die slaaf van landdros Samuel de Meurs gebied is “om vuur in die vertrek te brengen”. Intussen is die dienste gehou in die pastorie en in ’n “pershuize” wat behoort het aan die heemraad Jan Botma. Transport van die stuk grond vir kerk, voorhof en begraafplaas is verleen 3 Julie 1717 deur goewerneur Mauritz Dusques de Chavonnes. Die gemeente Kaapstad, wat destyds oor £9 300 beskik het, het ’n lening gegee en deur buitengewone kollektes moes die koste gedek word sodat die kerk eers in 1722 voltooi kon word, maar sonder solder, vloer, orrel of konsistorie ingewy is, toe die lidmaattal, ná 36 jaar, steeds niks meer as 60 getel het nie. (Geskryf deur Morne van Rooyen).