Badenhorst, Frederik Jacobus

Ds FJ Badenhorst

Gebore

25 Febr. 1925

OORLEDE

25 Nov. 2001

UNIVERSITEIT

BA (PUK); US

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

standplase

1951 Koster-Derby

1957 Louwsburg (Sending)

1961 Alkmaar

1964 Witpoortjie

1974 De Deur

EMERITEEr

8 Mei 1988

Ds. Bobby Badenhorst is op 25 Februarie 1925 op Losberg in die distrik van Potchefstroom gebore. Sy vader, Hendrik JacobusBadenhorst, was ‘n boer en sy moeder was Judith Magdalene Vermaas. Hy het die laerskole Potchefstroom (1932 tot 1933); Losberg (1934 tot 1937) en Fochville (1937 tot 1939) bygewoon en aan die seunskool Boy School Potchefstroom (1940 tot 1944) gematrikuleer.

Na matriek het hy die BA-graad aan die PU vir CHO (1945 tot 1948) behaal en daarna op Stellenbosch (1949-1952) gestudeer. Ds. Badenhorst is op 4 Desember 1952 gelegitimeer. Hy was as student baie betrokke by sendingaktiwiteite. Hy het in 1950 met Dalene Malan getrou wat hy van Fochville se dae reeds geken het.

Hulle is met ses kinders geseën, waarvan twee reeds oorlede is: Hendrik Jacobus, Magdalene, Andries Francois (oorlede in 1991); Judith Magdalene, Julia Sophia en Frederika Jacoba (oorlede in 1964); Daar is 23 kleinkinders.

Ds. Badenhorst het vyf gemeentes bedien. Hy is in 1951 georden en bevestig op Koster-Derby, daarna het hy ‘n beroep aanvaar na die Zoeloegemeente van die NGKA op Louwsburg. Hier het hy die taal vinnig baasgeraak. Vier jaar later het hy ‘n beroep na Alkmaar aanvaar, voor hy in 1964 na Witpoortjie aan die Wes-Rand geskuif het. In hierdie gemeente het hy vir tien jaar gewerk voordat hy in 1974 op De Deur bevestig is.

Gedurende sy bediening was Bobbie hoofsaaklik betrokke by die kerk se sendingkommissies en by die Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid. Hy het ook ‘n aandeel gehad aan die ontstaan van twee hoërskole, op Koster en op Witpoortjie.

Na veertien jaar op De Deur het ds. Badenhorst op 08 Mei 1988 emeritaat aanvaar. Hy het sy bediening daarna voortgesit. Eers het hy vir negentien maande in Biesjesvlei in Wes-Transvaal gewerk en daarna vir nog negentien maande vir die NGKA-gemeente op Coligny. Hulle het in 1992 na Doornkloof (Verwoerdburg) getrek waar hy namens die kerk ‘n bediening onder kankerpasiënte in die Unitas-hospitaal begin het. Hy het ook as ouderling gedien totdat hy weens swak gesondheid moes bedank het.

Op 25 November 2001 is hy weens hartprobleme oorlede. Bobby Badenhorst het sy hele lewe aan die Here gewy. Dr GS Burgers vergelyk hom, tydens die roudiens in die Doornkloof-gemeente, met Henog (Gen. 5:24 ) “wat met God gewandel het” (Heb. 11:5); “Bobby se wandel met God was sigbaar, hoorbaar, was beleefbaar, versterkend, verrykend, was ‘n geestelike fees”.

Hy was ‘n sagte mens en ‘n vredemaker. Sy kinders onthou met liefde sy getuienislewe vir Christus. Hy het inderdaad met God gewandel.

(Dirk Viljoen, aan die hand van die biografiese vorm wat hy op 23 Jan. 1997 ingevul het, en ‘n gesprek met sy seun Hendrik, sowel as ‘n huldeblyk van dr GS Burgers.) – (Jaarboek 2002/333).