Wium, Daniel Pieter

Ds Daan Wium

GEBORE

15 Jul 1949

OORLEDE

16 Okt 2021

UNIVERSITEIT

BA (Hons) MTh (US)

gelegitimeer

1974

ORDEN

1975

standplase

1975 Koringberg

1978 NGSK Gemeente

1991 Moorreesburg

2016 Emeritus

2016 Moorreesburg (Vastetermynpos)

  EMERITEER

31 2016

DS DAAN WIUM (BA Hons, BTh) 15 Julie 1949 — 16 Oktober 2021

Daniel Pieter Wium is op 15 Julie 1949 gebore in Kaapstad. Hy begin sy skoolopleiding in die omgewing en matrikuleer in 1967 aan die Hoërskool Voortrekker in Wynberg onder die wakende skaduwee van Tafelberg. Daan voel geroepe om predikant te word en studeer aan die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA (Admissie)-graad verwerf wat hom in 1970 toegang gee tot die Kweekskool in die Eikestad. Hier verwerf hy die BTh-graad en hy word aan die einde van 1974 as proponent gelegitimeer. In sy finalejaar het Daan gespesialiseer in die Ou Testament oor die Bybelboek Miga.

Prop DP Wium word beroep na die NG Gemeente Koringberg, ‘n mooi Swartlandse dorp net noord van Moorreesburg op pad na Piketberg. Die gemeente wat in 1973 hulle eeufees gevier het, het vakant geraak toe ds SJ Pieterse in 1974 skielik aan ‘n hart-aanval beswyk het. ‘n Beroep slaag op proponent Daan Wium van Stellenbosch en hy word op 12 April 1975 met handoplegging in die kerkgebou op Koringberg bevestig. Hy was ongetroud en na sy troue met mej. Mariaan Barnard, ‘n musiekonderwyseres en orrelis, is menige lidmaat met groot liefde na kerk op ‘n Sondag in die pastorie met koek en tee verwelkom. Mariette Odendaal onthou: “Daan se preke was diep-geestelik. Sy erns en ywer waarmee hy die gemeente bedien het, het ‘n besondere indruk op my as jong volwassene gemaak.” Op 2 April 1978 word hy ook die leraar van die NG Sendingkerk Koringberg, waarna hy al-bei gemeentes met gemak geestelik kon bedien. Uit sy huwelik met Mariaan is twee seuns gebore, Daniël en Jakobus.

Ds Daan en Mariaan Wium se pad loop na die buurdorp Moorreesburg, waar hy sy intreepreek op 21 Julie 1991 lewer met Johannes 6:63 as teksvers. Hier werk hy met ywer tussen die Swartlanders en hulle onthou sy omgee, liefde, vriendelikheid en altyd die glimlag wanneer hy groet. Na agt jaar op Moorreesburg kom daar ‘n skerp draai op die pad toe hy in 1999 sy vrou Mariaan verloor na ‘n stryd met kanker. Maar die Here voorsien en hy trou in 2001 met Hannalie Wessels, iemand met wie hy ‘n diep gelukkige lewe ervaar. Die gesin word vergroot met haar kinders, Naudé en Marli Wessels, wat deur ds Daan beskou word as sy eie en hy oorrompel hulle met sy liefdevolle menswees.

Ds Daan Wium bedien 25 jaar lank die gemeente Moorreesburg met oor-gawe en lewer sy afskeidspreek op 31 Julie 2016. In ‘n afskeidsbrief aan die gemeente, skryf hy oor SES dinge wat hy op Moorreesburg kon leer. Hy skryf: “1. Ek het lojaliteit geleer. Om op grond van ons geloof in Jesus, te beleef hoe lidmate deur dik en dun aan jou waarde vashou, terwyl ‘n mens deur verskillende siklusse van jou lewe gaan. 2. Ek het gasvryheid geleer. Hoe ander met openheid na jou uitreik, jou teenwoordigheid koester, harte en lewens oopmaak om jou welkom te laat voel, die ekstra kilometer vir jou te stap. 3. Ek het huislikheid geleer. Hoeveel huise is vir jou oopgemaak, asof dit net so wel jou eie huis kon wees. 4. Ek het vertroue geleer. Om toegelaat te word in iemand se hart, storie en verlede, is een van die grootste voorregte. 5. Ek het vir Jesus beter leer ken. Om saam met geloofsgroepe saam na Jesus te groei is die lewe. 6. Ek het myself beter leer ken. Net deur iemand anders se karakter ervaar jy ‘n korreksie op jouself. Deur opbouende en liefdevolle kritiek kon ek leer en iets beter maak en ervaar waar ek die Here in my lewe blokkeer. Ons gaan eendag soos Jesus wees, dit is so goed om jouself te leer ken, om te kan weet waar die geloofsuitdagings lê. Ek sou nie sonder u kon groei nie.”

Na sy aftrede bly hy nog ses maande lank werk te Moorreesburg in ‘n kontrakpos, tot hy finaal aftree. Jurie van Dyk skryf namens die kerkraad: “Ons verloor ‘n geliefde leraar, ‘n opregte mens, ‘n Bybelse Daniël, ‘n Natanael wat in die harte van die mense gekruip het, daar gaan setel het en lank nadat hy Moorreesburg verlaat het, steeds daar sal bly.”

Ds Daan en Hannelie Wium vestig hulle mettertyd in Ceres waar hy na ‘n stryd met kanker op 16 Oktober 2021 sterf. Hy word die laaste tien dae van sy lewe met liefde versorg in Huis Maudie Kriel waarvandaan hy hemelwaarts gedra word. Ds Jandré Viljoen het met sy kitaar by Daan se sterwensuur gespeel, dit het ‘n kalm en rustige atmosfeer geskep. ‘n Gedenkdiens word op 21 Oktober 2021 in die NG Kerk Moorreesburg gehou waar sy lewe gevier word. Ds. Jandré Viljoen het die Woord bedien en daar is op ‘n waardige wyse deur sy vrou, kinders en gemeentelede van hom afskeid geneem.

Sy dogter Marli skryf oor drie dinge wat sy van ds Daan geleer het, wat sy menswees beskryf. “1. Die waarde van iemand se naam en om mense op hulle naam te noem. Probeer dit en kyk hoe verander hulle gesindheid. 2. ‘n Mens neem besluite met die inligting en feite wat jy op daardie oomblik het, moenie na die tyd spyt daaroor wees nie. 3. Fokus op die persoon van Jesus, nie op reëls, wette en vergifnis vra nie. As jy in ‘n verhouding is met die Here, hoef jy nie te dink aan wat jy mag en nie mag doen nie. Jesus leef deur jou, dit kom vanself.”

Ds. Daan Wium was        absolute legende, mentor en voorbeeld. Sy vrou, kinders en vriende gaan hom mis. Daar is fisies ‘n groot leemte, maar nie in hulle hart nie. Daar sal hy altyd leef.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 413)