Wessels, Johannes Petrus

 

gebore

03 Okt. 1943

OORLEDE

07 Aug. 2002

UNIVERSITEIT

(BA, BTh, DIPL. TEOL.)

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Piet Wessels se lewe het op tragiese wyse ten einde gekom toe hy op 60-jarige ouderdom in ʼn motorongeluk gesterf het. Hulle was op pad na hulle strandhuis by Outeniquastrand, toe ʼn sleepwaentjie duskant die brug oor die Oranjerivier, naby Colesberg, buite beheer geraak en hulle trompop voor ʼn vragmotor beland het. Sy kleindogter Neiri is ook op slag dood, terwyl sy dogter, Carien Breytenbach, en nog ʼn kleindogter ernstige beserings opgedoen het. Sy vrou was wonderbaarlik feitlik ongedeerd.

Piet is op 3 Oktober 1943 op Excelsior gebore. Sy ouers, Dirk Cornelis Johannes Wessels en Susarah Helena Nel, het geboer. Beide sy laer- (*1949-1955) en hoërskooljare (*1956-1961) het hy op Excelsior deurgebring. Piet was hoofseun van die skool en die koshuis en het vir drie jaar in die eerste-rugbyspan gespeel.

Van 1963 tot 1965 was Piet ʼn student aan die Vrystaatse universiteit waar hy die BA-graad verwerf het. Daarna het hy aan die Universiteit van Stellenbosch die BTh (*1968) en Diploma in Teologie (*1969) behaal. Hy was aktief betrokke by die studentelewe en was redakteur van die Polumnia-blad in 1968 en ondervoorsitter van Polumnia in 1969. Aan die einde van 1969 is ds. Wessels gelegitimeer.

In sy laaste jaar aan die Kweekskool het Piet in die huwelik getree met Hermana (Mana) Malherbe. Uit hierdie huwelik is vier kinders gebore, Marina (*1971); Carien (*1972); Dirk Cornelis Johannes (*1975) en Hermanus Lambertus Malherbe (*1976); Hulle is al vier getroud.

Op ds. Wessels se begrafnis het sy oudste dogter vertel dat hulle sonskyn kinderdae gehad het en dat hulle ouers die pastorie, wat maar soms ʼn glashuis kan wees, vir hulle ʼn huis-huis gemaak het. ʼn Huis waar geloof in Christus, liefde vir mekaar en opregte omgee vir ander mense, die grondslag gelê het vir die toekoms.

Ds. Wessels se eerste gemeente was Prieska waar hy die vloed in 1974 beleef het. ʼn Jaar later het ʼn beroep na Stilfontein-Sentraal aanvaar. Hy het ook nog die evangelie bedien in die gemeentes Pretoria (*1980); Pietermaritzburg-Noord (*1985) en Universitas in Bloemfontein (*1990); Hy was leraar van die gemeente ten tyde van sy dood.

Ds. Retief Botha, sy medeleraar, het op sy begrafnis gesê dat God ook hierdie seer gebeure in sy diens sal gebruik. Hy het gesê dat Piet Wessels een van die mooiste dinge was wat in sy bediening gebeur het. Hy was vir hom kollega en vriend, gebedsmaat, beplanningsvennoot, tennis-opponent, bonzai-entoesias, houtwerk-entoesias en pastor. Soveel toewyding, nederigheid en pligsgetrouheid kry jy nie elke dag nie. Hy het sy beginsels uitgeleef en sy bediening op die Bybel gegrond. Hy het oneindige geduld met mense gehad en was ure lank met ingewikkelde situasies besig – hy kon nie tou opgooi nie. Sy deernisvolle menseverhoudings was ʼn uitstaande kenmerk van hom.

In die begrafnisbrief staan onder meer: “Ons vind ons troos, nou en vir die toekoms, in die onwrikbare sekerheid dat dit waarop sy hele menswees en bediening gefokus was, n1 die lewe in en deur Christus, nou volkome bereik is. Ons loof die Here vir sy lewe”.

(Dirk Viljoen, na aanleiding van sy biografiese vorm wat hy op 18/03/1997 ingevul het, ʼn gesprek met sy eggenote, Mana, en ʼn huldiging deur ds. Retief Botha.) (Jaarboek 2003).