Die Wesleyaanse Sendinggenootskap wat in 1813 gestig is, was bestem om na die L.S.G. sy plek in die ry van buitelandse sendinggenootskappe in Suid-Afrika in te neem. Op 14 April 1816 het Barnabas Shaw, met sv vrou in Kaapstad aangekom. Dit was die begin van die Wesleyaanse sendingwerk in Suid-Afrika. Op 6 September 1816 het die egpaar saam met eerw. H. Schmelen van die L.S.G. na Namakwaland vertrek. Op pad het hulle Jantjie Wildschut, hoof van die Namakwas, ontmoet. Hy was onderweg na Kaapstad om ‘n sendeling te soek. Dadelik het die egpaar hom vergesel na Leliefontein aan die Kamiesberge waar hulle ‘n sendingstasie gestig het. Dit was ‘n moeilike arbeidsveld, en pionierswerk moes verrig word, maar dit het tot sukses gelei. Shaw het spoedig die belangstelling gewek en steun ontvang van Lord Charles Somerset wat ‘n gebied van 2 000 morge aan die Namakwas toegeken het tot bestending van die werk.
In 1818 toe Archbell en Edwards aangekom het, is ‘n tweede stasie in die Boesmanland opgerig, naamlik Rietfontein. Die werk het uitgebrei en was geseënd. Waardevolle dienste is deur ‘n ry van Wesleyaanse sendelinge in Namakwaland gelewer, tot die Rynse Sending die werk oorgeneem het.
Droogtes, die opening van die kopermyne en die Anglo-Boere-oorlog het tot gevolg gehad die verspreiding van die bevolking oor geheel Narnakwaland. In later jare het van hierdie mense ‘n leidende aandeel in baie sendinggemeentes in die Noordweste tot aan die Oranje geneem. Die Wesleyane se bydrae tot die Sendingkerk moet dus eerstens in hul baanbrekerswerk en tweedens in hul konstruktiewe geestelike arbeid gesien word. Hul
sendingmetodiek het hemelsbreed verskil van die van die L.S.G. en aangeskakel by die tradisionele Suid-Afrikaanse sendingbeleid.
Bron: Kriel, C.J. 1961. Die Geskiedenis van die NG Sendingkerk in SA, 1881 – 1956.