
gebore
8 Okt 1860
OORLEDE
14 Sept. 1930
UNIVERSITEIT
US
gelegitimeer
1886
ORDEN
1887
standplase
1887 Steytlerville
1908 geskors
EMERITEER
–
In ‘n vergadering van 21 Julie 1890 kry ds. Weitz buitengewone mag om as voorsitter van die kerkraad erwe en grond namens die raad aan kopers van erwe oor te dra. Sy aandag is in beslag gehou deur dorpsake, aansoeke om verlof tot die aanvra van dranklisensies en dergelike dinge. As die Kerkraad al die aansoeke toegestaan het, sou die dorp meer as een hotel en meer as een drankwinkel gehad het. Dikwels het spesiale kerkraadsvergaderings voorgekom. In hierdie vergaderinge is sekulêre sake afgehandel. Die leraar was die geestelike leier van die gemeente, maar ds. Weitz was veel meer as dit. Sy nagedagtenis word in hierdie verband met opregte dankbaarheid gedenk. Aan nie-bepaalde kerklike werk het hy in sy beste lewensjare sy beste kragte gewy. Hy self het elke kerkraadsvergadering met gebed geopen en self sonder uitsondering elke vergadering met gebed gesluit.
Ongelukkig het geestelike werk skade gely. In die vergadering van 3 Julie 1902 is onder meer genotuleer: “De Vergadering acht het wenschelijk haar rechten op gronden op der haar beheer te verkoopen aan de Munisipaliteit, ten einde haar aandacht meer ongestoord te wyden aan de geestelike belangen der gemeente. Daar wordt besloten vertegenwoordigers uit de gemeente byeen te roepen tot eene vergadering op 5 Augustus 1902 ten einde de gevoelens van de vertegenwoordigers te vernemen.” Van besondere betekenis is die gedagte dat die kerkraad sy aandag meer ongestoord wil wy aan die geestelike belange van die gemeente. Van hierdie vergadering was ds. Weitz die voorsitter.
Op 19 Junie 1908 word hy egter geskors uit die bediening weens ontug. Nadat hy uit Steytlerville vertrek het, het hy ‘n brief onder datum 29 Junie 1908 aan die kerkraad geskryf waarin hy die kerkraad bedank “vir die liefde en verdraagsaamheid hom altyd bewys gedurende sy meer as 20 jaar dienstyd in die gemeente en bid die Here sy rykste seën die gemeente toe”. Konsulent D.A. Cilliers het as voorsitter van die vergadering opgetree. Nog ‘n brief, onder datum 19 Maart 1910, is gerig aan die heer Hendrik Kilian van Bosrivier, waarin ds. Weitz die kerkraad vra om sy portret wat uit die konsistorie verwyder is, as geskenk aan hom te gee. Die Raad staan sy versoek in vergadering geteken op 29 Julie 1912 toe.
Dis moontlik sy laaste brief (volgens Kerkraadsnotule Junie 1920) waarin die oudleraar vra dat sy toestand aan die gemeente bekendgemaak en om hulp gevra sal word. Daar word besluit om dit aan die gemeente bekend te maak en by die diens op Saterdagaand voor die Julie-Nagmaal by die deure te kollekteer. “Sy nagedagtenis wek elke keer by ons ‘n tere gevoel van medemenslikheid,” het L.J. Schonees in die gemeente se eeufeesgedenkboek van 1976 geskryf.
Hy sterf op 14 September 1930.