Vorster, Jacobus Daniel

Dr Koot Vorster

gebore

26 Nov. 1909

OORLEDE

8 Jan. 1982

UNIVERSITEIT

BA (US); M Div en ThD (PU vir CHO)

gelegitimeer

1934

ORDEN

1935

standplase

1935 De Nieuwe Kerk, Kaapstad

1944 Tafelberg

EMERITEER

1980

Dr Jacobus Daniel (Koot) Vorster (26.11.1909 – 8.1.1982) was een van die bekendste kerkmanne in ons land en die oudste van die moderators van drie agtereenvolgende Algemene sinodes wat die NG Kerk binne die kort bestek van vyf maande ontval het. “Met sy formidabele voorkoms en optrede het hy een van die kleurrykste en mees omstrede kerkleiers in Suid-Afrika geword.” So lees ons in ʼn Kaapstadse dagblad voor sy aftrede, terwyl ons na sy heengaan verneem dat hy ” ʼn stoere kerkman (was) wat net altyd diens gelewer het aan die Here en die Kerk – ʼn merkwaardige man met buitengewone hoedanighede wat in sy leeftyd elke leiersposisie in die NG Kerk beklee en die vertroue van die Kerk en die ganse volk geniet het”. Hy is as die negende van sy ouers se veertien kinders op Spitskop naby Jamestown in Oos-Kaapland gebore. Soos sy moeder later vertel het, is hy kleintyd deur ʼn dokter dood verklaar, maar deur die Here teruggegee. Die voorlaaste van die kinders, adv B J (John) Vorster, het Eerste Minister en later Staatspresident van die RSA geword en dit is beslis merkwaardig dat uit dieselfde huisgesin ʼn staatshoof en ʼn moderator van die Algemene Sinode van die grootste Kerk hier te lande aan ons gegee is. Hy voltooi sy hoërskoolopleiding op Sterkstroom en omdat hy in 1927 die roeping tot die bediening gekry het, gaan hy die volgende jaar Stellenbosch toe om vir predikant te leer.

Nadat hy in 1934 gelegitimeer is, staan hy in 1935 as hulpprediker aan die sy van wyle ds. H S Theron in die Karoogemeente Prins Albert. Daar ontmoet hy prof Robert Broom, en omdat die jong leraar hom met die opspoor van fossiele behulpsaam was, vernoem die welbekende paleontoloog een van die oerdiere na hom. Nog in dieselfde jaar, op 10 Augustus, word hy as medeleraar van wyle ds. P B Ackermann in De Nieuwe Kerk (Kaapstad) bevestig. Sy eintlike werkkring was die Duiwelspiekwyk met die indrukwekkende Hertzogsaal aan die Buitenkant as vergaderplek. Die leraar se verbintenis met hierdie plek duur oor die 45 jaar, want toe die betrokke gedeelte van De Nieuwe Kerk in Oktober 1944 afstig, aanvaar hy die beroep wat met algemene stemme op hom uitgebring is en op 10.12.1944 word hy as die eerste leraar van die gemeente Tafelberg bevestig. Daar sit hy die herderlike versorging en die opbouwerk onvermoeid voort, sodat daar kort voor sy aftrede gesê is dat hy die geliefde herder was van diegene wat die Here aan sy sorg toevertrou het.

In 1936 en daarna moet hy verskeie groot operasies ondergaan en daar word selfs gevrees dat hy ʼn invalide sou bly. Nogtans lê hy ʼn verstommende werkkrag aan die dag en voer hy ʼn besonder bedrywige lewe – van sy betrokkenheid by die politieke woelinge tydens die Tweede Wêreldoorlog, tot sy deelname aan die kerklike polemieke van sy laaste jare. In 1938 is hy voorsitter van die reëlingskomitee van die Voortrekeeufeesviering in Wes-Kaapland en in dieselfde en die volgende jaar van die Aparte Woonbuurte-Organisasie. In die veelbewoë en troebele jare van Wêreldoorlog II word hy weens sy bedrywighede in die Ossewa-Brandwag vir ʼn paar jaar, “met langverlof van die kerkraad en met toestemming van die Ring weggepak”. Hierdie tyd van gedwonge afsondering gebruik hy nuttig om hom onder prof H G Stoker van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verder in sy lieflingsvak, Kerkreg, te verdiep en in 1943 behaal hy op ʼn verhandeling oor die Kerk en Kerkregering van die Voortrekkers die MDiv-graad met lof.

In dieselfde jaar word hy in sy gemeente terugverwelkom en kort daarna begin sy dienstyd as skriba van die Ring en Ringskommissie van Kaapstad, wat so lank duur dat hy nooit ringsvoorsitter word nie! In 1953 word hy tot aktuarius van die Kaapse Sinode verkies – ʼn amp wat hy ook in die daaropvolgende sinodes beklee, totdat die Sinode van 1975 hom in die voorsitterstoel plaas. As aktuarius lewer hy ondermeer deur sy deeglike adviese aan kerkrade dienste van onskatbare waarde. As moderatuurslid dien hy in die Kuratorium van die Stellenbosse Kweekskool en as aktuarius ampshalwe ook as skriba van die destydse Proponents-eksamenkommissie. Langs die weg maak hy op talle jongmanne ʼn blywende indruk, terwyl die invIoed wat van sy kragtige persoonlikheid uitgaan, vir hulle en hul bediening rigtinggewend is. Dat hy nie alleen met ʼn besondere intellek begaaf en ʼn fyn akademikus was nie, maar ook ʼn man van die praktyk, het telkens by die Proponentseksamen uit sy ondervraging van die kandidate in die Kerkreg geblyk. In 1954 promoveer die PU vir CHO hom dan ook tot doktor in die teologie (ThD) op ʼn proefskrif oor die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die Kompanjie (1652-1792); Ook in 1953 word hy lid van die Federale Raad van NG Kerke en hy bly in die raad aan tot met die ontbinding daarvan net voor die konstituering van die eerste Algemene Sinode op 12.1O. 1962 in Kaapstad. Grootliks ten gevolge van sy onverpoosde ywer is die Kaapse Ordonnansie 7 van 1843 geskrap en dit was op sy voorstel dat in 1962 ʼn algemene sinode tot stand kom. Voorts het hy hom beywer vir ʼn Kerkorde wat tegelyk akte van vereniging sou wees. Die eerste vier hoofstukke van die Kerkorde is dan ook deur hom opgestel. Met reg is daar dusvan hom gesê dat hy hom grootliks vir die totstandkoming van die Algemene Sinode van 1962 beywer en al die voorbereidsels vir “daardie belangrike konstitusionele ontwikkeling van die Kerk” beplan het. Na die aanvaarding van die Kerkorde deur die Raad van Kerke, versoek die onderskeie sinodes hom om die betekenis daarvan vir hulle te kom toelig. Verder was dit op sy voorstel dat die Kerk se naam die Nederduitse Gereformeerde Kerk moes wees. Die Algemene Sinodes van 1962 (Kaapstad) en 1966 (Bloemfontein) kies hom as aktuarius en die een van 1970 (Pretoria) tot moderator, terwyl hy in die volgende vergadering (Kaapstad 1974) as assessor optree. Voorts is hy in 1963 een van die NG Kerk se afgevaardigdes na die Gereformeerde Ekumesiese Sinode in Grand Rapids. (VSA); waar belangrike sake soos die rassevraagstuk en leerkwessies in die Geref Kerke in Nederland aan die orde kom. Daar word hy ook as lid van die Interimkommissie gekies. Verder onderneem hy destyds. ʼn studiereis in verband met ons beroepstelsel na verskillende lande waar daar Geref Kerke bestaan. Drie jaar later woon hy weer as afgevaardigde van die NG Kerk die GES by, die keer in Lunteren (Nederland); Toe hy en nog twee verteenwoordigers op uitnodiging in 1970 die Geref Kerke in Nederland se Generale Sinode bywoon, maak hy weer groot indruk deur sy redenaarsvermoë. Twee jaar daarna is hy lid van die NG Kerk se afvaardiging na die GES in Sydney (Australië) en daar tree hy as voorsitter op van die kommissie wat oor die vrou in die amp – ʼn kwessie wat hom besonder geinteresseer het en waaroor hy baie sterk oortuigings daarop nagehou het – moet rapporteer. Telkens as daar met buitelandse kerke onderhandel moes word, was hy onder die NG Kerk se woordvoerders. Ook neem hy aan talle samesprekings met die inheemse kerke van Suider-Afrika deel. In al hierdie tussenkerklike byeenkomste laat hy sy teenwoordigheid terdeë voel en sy naam raak dan ook in kerklike kringe selfs tot ver buite ons landsgrense bekend. Nadat hy in 1964 by die volkskongres teen die Kommunisme in Pretoria ʼn belangrike rol gespeel het, word hy voorsitter van die Nasionale Raad teen Kommunisme. In die hoedanigheid tree hy in 1966 in Chicago by ʼn internasionale simposium oor Kommunisme as genooide spreker op. Op haas alle terreine van die kerklike lewe het hy in die frontlinie beweeg. Die oprigting van die Kerksentrum in Kaapstad was byvoorbeeld in ʼn groot mate aan sy bemoeienis te danke, terwyl hy ook as voorsitter van die Regskommissie en die Kommissie van Toesig en Kontrole van die Kaapse Sinode belangrike dienste aan die Kerk bewys het. Buiten sy doktorale proefskrif wat in 1956 uitgegee is, verskyn daar uit sy pen onder meer Die Vuurrooi Draak (teen die Kommunisme); die beroepstelsel en ʼn hele reeks van brosjures, artikels en lesings – in almal waarvan hy die sterk Calvinistiese standpunt verdedig en handhaaf, die liberalisme en ander vreemde strominge en neigings aan die kaak stel en ʼn Christelike openbare mening bepleit. Daarby was hy medeskrywer van Die Vrymesselary Ontmasker. Vanaf Maart 1949 dien hy in die redaksie  (Later as redakteur) van Die Geref Vaandel en toe die blad deur Die NG Teologiese Tydskrif opgevolg word, word hy ook in die redaksie daarvan benoem. Sy werkie Die Seun van die Mens – wie is Hy? verskyn na sy dood. As voorsitter van die direksie van die NG Kerk-Uitgewers bepleit hy die instelling en toekenning van ʼn prys vir letterkunde wat aan die Skriftuurlike, estetiese en etiese norme beantwoord. Nooit skroom hy om teen die verwording te getuig wat die sonde meebring nie, maar terselfdertyd doen hy as ware Calvinis ook alles in sy vermoë om positief die Koninkryk van God op alle lewensterreine te bevorder. Hoewel hy sy standpunte sterk gestel en soms stroef voorgekom het, was hy in die daaglikse omgang ʼn hartlike mens met ʼn sagte hart, ʼn liefdevolle gemoed en ʼn fyn humorsin. As gesaghebbende op die gebied van die kerkreg, as forse prediker, gloedvolle redenaar en oorredende debatteerder, as onverskrokke stryder vir wat hy geglo het reg was, as bekwame voorsitter, as skerpsinnige denker, as kerk- en volksman uit een stuk en as troue “wagter op die mure”, was hy iemand wie se invloed nog lank in die NG Kerk sal voortleef. Hy is skielik oorlede op die plaas Middelwater buite Steynsburg waar hy en mev Vorster na sy aftrede naby hul dogter en skoonseun gaan bly het. (Jaarboek 1983/268).