Van Eyssen, Jaco Johannes

gebore

28 April 1960

oorlede

7 Desember 2020

UNIVERSITEIT

BA BTh MTh (US)

gelegitimeer

1988

ORDEN

1989

standplase

1989 Ariamsvlei

1993 CSV

1996 Witbank-Panorama

2011 Witbank Panorama uitgestuurde Petra College

2014 Willowmore

2018 Edenburg

emeriteer

29 November 2020

DS JACO VAN EYSSEN (BA, BTh, MTh) 28 April 1960 — 7 Desember 2020

Jaco Johannes van Eyssen is op 28 April 1960 te Stellenbosch gebore. Sy vader is Jakobus Johannes van Eyssen, wat in die Strand opgroei en ‘n leeftyd lank die boekhouer is by die munisipaliteit van Stellenbosch. Sy moeder is Anna Maria de Villiers, wat voor haar troue by die CSV-kantoor op Stellenbosch werk. Jaco se ouma is Maria Petronella Schuun, ‘n onderwyseres wat uit ‘n gesiene familie van Rietbron en Willowmore stam.

Jaco begin sy skoolopleiding in 1967 aan die Laerskool AF Louw op Stellenbosch en word later leerling aan die Handelskool op Stellenbosch, wat later die Hoërskool Stellenbosch word. Hy was onderhoofseun van die skool en is deur die Rotariërs gekies om as deel van ‘n landswye groep toekomstige leiers opgelei te word. Een van sy groot lekkerkrydinge op Stellenbosch was om in professor Charles Fensham se “Bosorkes” te speel, want hy was knap met die kitaar, mondfluitjie en bas.

Toe reeds was Jaco op sy beskeie manier ‘n pionier, wat ongestoord met durf en geloof die onkonvensionele gedoen het. Wat Jaco se roeping voorafgegaan het, was toe hy besluit het hy wil regtig vir Jesus lewe, het hy ‘n voorwaarde gestel. Hy sou enigiets doen, net nie ‘n predikant word nie. Net voor sy matriekjaar terwyl hy deel was van die Strand se stranddiensspan, ontvang hy die roeping om predikant te word. Hy vlug soos Jona van ouds en doen sy weermagopleiding, toe hy een nag weer duidelik die roepstem van die Here hoor.

Jaco vertrek na Stellenbosch en ver-werf in 1983 die BA (Admissie), wat hom toegang gee tot die Fakulteit Teologie in die Eikestad. Hy is deel van verskeie Admissiebondtoere, is die verhoogbestuurder en begin ‘n eie boereorkes. Maar hy onderbreek sy BTh-studies in 1986 om saam met oom Hans von Staden in die Dorothea-Sending te gaan werk. Dit was ‘n unieke leerskool vir Jaco en na die dood van oom Hans aan die einde van 1986 keer hy terug na Stellenbosch en het Jaco sy studies voortgesit. Tydens Jaco se studentejare het hy ook by die NG Kerkboekhandel en Wever gewerk.

Jaco trou in 1983 met mej. Christina Hester le Roux, wat haar BMus-graad verwerf en haar man in sy roeping met oorgawe bystaan. Uit die huwelik is drie dogters gebore: Tina, getroud met Francois du Toit en hulle woon in Witbank. Jacorien, getroud met Marthinus Nel en hulle woon in Durbanville. Anel, getroud met Andries Botha en hulle woon in Nederland.

Aan die einde van 1988 word prop Jaco Johannes van Eyssen gelegitimeer en hy word aan die begin van 1989 met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Ariamsvlei, ‘n grensgemeente tussen Suid-Afrika en Namibië. Hy word bevestig deur ds. AC Loubser, destyds predikant van die NG Gemeente Upington-Oos. Daar was ‘n groot droogte in die gebied en teen 1991 het die gemeente en gemeenskap in Ariamsvlei baie swaargekry. Die Here gee uitkoms en ‘n ooreenkoms word tussen die CSV op Stellenbosch en die gemeente gesluit wat ds. Jaco in staat stel om drie maande elke jaar deur Namibië te reis en CSV-takke aan die gang te hou en skole te besoek. In 1993 en 1994 is hy leier van die CSV-Jeugspan in die destydse Transvaal. In 1995 skep die VG Kerk en die NG Gemeente Ladismith in die Kaap ‘n geestelike pos om plaaswerkers te bedien, wat deur ds. Francois van Tonder beskryf word as ‘n besondere geseënde tyd in die omgewing van Ladismith.

In 1996 word ds. Jaco van Eyssen die leraar van die NG Gemeente Panorama in Witbank, waar onder sy leiding ‘n CMR-pleeghuis begin word. In 2001 verwerf Jaco die MTh in Jeugbediening en in 2009 verlaat ds. Jaco die gemeente en werk vir die Petra Instituut vir Kinderbediening op De Doorns en kry hy die visie om die twee kampusse te Witrivier en De Doorns te amalgameer.

In 2014 word ds. Jaco van Eyssen leraar van die NG Gemeente Willowmore, waar hy in ‘n kontrakpos die boeregemeenskap bedien. In 2018 skakel dr Frans Kotze van Edenburg die skrywer en vra of ek ds. Jaco ken want hy het aansoek gedoen vir die leraars-pos. Op die ingewing van die oomblik verklaar ek telefonies dat hulle hom maar kan beroep na Edenburg. So word ds. Jaco in 2018 die leraar van die NG Gemeente Edenburg, ‘n gemeente wat hom baie vryheid gee om vir oulaas sy liefde op mense uit te stort. Op 2 Julie 2020 kry ds. Jaco die skokkende nuus dat hy kraakbeenkanker het en dat dit reeds versprei het. Ds. Jaco lei op 29 November 2020 die Kerssangdiens en ontvang sy emeritaat. Hulle verhuis op 2 Desember 2020 na Bloemfontein waar hy op 7 Desember 2020 sterf. Dit is grendeltyd, maar ‘n herinneringsdiens word deur ds. Kobus Dippenaar van Bethulie in die kerkgebou te Edenburg gehou.

In ‘n brief aan die NG gemeente Edenburg, skryf ds. Jaco nadat hy gehoor het die kanker het deur sy hele liggaam versprei: “Ek het net ‘n skielike en oorweldigende opwinding beleef om na Jesus toe te gaan, baie gouer as wat ek aanvanklik gedink het. Dit is nou ‘n week later en ek voel nog net so opgewonde. Gelukkig verstaan my vrou dit. Sy sou baie graag saam wou gaan, maar sy sal nog ‘n rukkie moet wag”. So eindig die toegewyde lewe van ds Jaco van Eyssen, wat op ‘n besondere manier ‘n dienskneg was in die koninkryksdiens. (Bl. 406)