Van Der Colf, Adriaan Petrus

 

GEBORE

16 Des. 1932

OORLEDE

16 Jun. 2002

UNIVERSITEIT

(BA, Dip Teol., MA, DLitt et Phil)

GELEGITIMEER

1960

ORDEN

1961

STANDPLASE

1961 Suid-Rand

1966 Blinkpan

EMERITEER

Dr. Attie van der Colf is op 16 Junie 2002 skielik aan ʼn hartaanval oorlede. Hy was nog so gesond dat sy vrou, Fesia, op reis was in Hawaii en sy daar van sy dood moes verneem. Dit was baie onverwags. Hoewel hy reeds afgetree het, het hy nog ʼn vol en vrugbare lewe gelei en was hy ywerig besig met dig- en skryfwerk.

Attie is op 16 Desember 1932 op die plaas Nabis in die Karasburg-distrik in Namibië gebore. Sy vader, Elias Lourens van der Colf, het daar geboer. Sy moeder was Louisa Jacoba Kriel.

Hy het die laerskole Aninuis (*1940 tot 1941); Upington (*1942 tot 1944) en Keetmanshoop (*1945 tot 1947) bygewoon, en aan die hoërskool op die dorp gematrikuleer. Op skool het hy aan atletiek en rugby deelgeneem. Hy was toe al bedrewe met die skryf van opstelle en gedigte, en het ook graag seëls versamel, handwerk gedoen en baie gelees.

Na matriek het hy hom aan die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf en die BA-graad in 1954 behaal. Voordat hy aan die Kweekskool op Stellenbosch begin studeer het, het hy eers ʼn draai in die onderwys gemaak. Hy het in 1960 die diploma in teologie en die MA-graad in Afrikaans-Nederlands voltooi. Die tema van sy proefskrif was “Hubris – ʼn Grieks Afrikaanse studie”.

Aan die einde van 1960 is hy gelegitimeer. Tydens sy studentedae was hy ʼn lid van die berg-en-toerklub, het hy in die bestuur van die Admissiebond gedien en bydraes gelewer vir die universiteit, Kweekskool en Admissiebond se publikasies.

In 1977 het hy by die Randse Afrikaanse Universiteit ingeskryf en die graad DLitt et Phil verwerf. Sy proefskrif handel oor: “Godsdiens en poësie – ʼn ondersoek na die verhouding van enkele gedigte van NP Van Wyk Louw”.

Op 18 April 1961 is ds. Van der Colf georden en bevestig in sy eerste gemeente, Suidrand in Johannesburg. Hier het hy leiding geneem met die bou van die kerk. In 1966 het hy leraar van die gemeente Blinkpan in die destydse Oos-Transvaal geword. Ook hier het hy gehelp met die bou van ʼn kerk.

In 1971 is hy na Pretoria beroep as direkteur van kerklike inligting vir die sinodes van Noord- en Suid-Transvaal, Natal en Midde-Afrika. In 1977 het hy teruggekeer na die aktiewe bediening en ʼn beroep na die Linden-gemeente in Johannesburg aanvaar. Hy was vir agtien jaar lank, tot sy aftrede op 31 Mei 1995, in die gemeente.

Hy is op 16 April 1960 getroud met Eufesia Maria Laubscher. Hulle het vyf kinders gehad: Elias Lourens (21 Junie 1961); Samuel Laubscher (08 Mei 1962); Adriaan Petrus(12 Julie 1963); JacobusMartin (26 Junie 1964) en Annemarie Louise (29 Maart 1966); Daar is reeds vyf kleinseuns en twee kleindogters.

Johan Symington skryf onder andere oor hom:

“Van die plaas af, deur Keetmanshoop, Stellenbosch toe, lees hy, studeer hy, neem hy in en laat die soet van die taal diep in sy binneste lê. G’n wonder dat hy later sy doktorsgraad by RAU sou behaal nie en dit nogal in die departement van die “tintinkietaal” oor die werk van Van Wyk Louw. Uit sy gedigte ontdek hy die diepe geloof van ʼn groot filosoof en kon hy soms so gemaklik uit Van Wyk Louw se werk aanhaal, soos ook uit ander gedigte en geskrifte.”

Daar het ten minste elf publikasies uit sy hand verskyn, waaronder Hier staan ons (ʼn Geloftefees-bundel); ʼn Tweede kans (oor die Abraham Kriel Kinderhuis); Die bome wou ʼn koning hê (oor Bybelse plante); Op silwer wieke (reisindrukke van die Ooste); Gesond (oor die waarde van gesondheid); Daadchristene gevra (Bybelkor – oor Jakobus); Klein woorde (Stemmingsartikels, NGKU); Geloof maak jou ʼn wenner (Hebreërs – Bybelkor); Lig en Lewe (Bybeldagboek 1991, NGKU); Handboek vir die Erediens 1988 (mede-opsteller) en Langs stille waters (ʼn vroeë-oggend radioprogram op Sondae wat hy vir nege jaar behartig het).

Hy het ook sewe boeke uit Engels vertaal en talle boekresensies en geestelike artikels geskryf.

Dit is egter veral vir sy bydrae tot die skryf en vertaling van kerk- en geestelike liedere wat hy onthou sal word en sal voortleef vir baie jare. Hy is tereg genoem “die troebadoer van die kerk”. Dr Van der Colf het hom beywer vir die vernuwing van die kerklied.

Hy was onder andere verantwoordelik vir: 110 liedere in die Afrikaanse Gesangboek van 1978, 90 liedere in die Jeugsangbundel, 22 liedere in Sing onder mekaar, 80 liedere in die kleutersangbundel Sing en Loof, 80 liedere in die Sionsgesange, 10 liedere in Gideons Sing en 126 liedere in die Liedboek van 2001. Dr Van der Colf was ook verantwoordelik vir die Lied van die Randse Afrikaanse Universiteit, Lied van die 5SA-Eenheid, Ladysmith Natal, die Feeslied van die SA Polisie 75 jaar, en 24 Skrifberymings vir die Gereformeerde Kerke.

Dit was geen verrassing toe die gesogte Pieter van Drummelen-medalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir bevordering van Afrikaans op godsdienstige gebied in 1990 aan hom toegeken is nie.

Sy bekendste lied is waarskynlik die Afrikaanse woorde vir “Amazing Grace” wat die Verlore Seun as tema gebruik.

Maar dit was ook nie net op literêre en kunsgebied waar hy sy deel gedoen het nie. Behalwe dat hy skriba en assessor van die Suid-Transvaalse Sinode was, was hy ook voorsitter van die Eredienskommissie van die Algemene Sinode, ondervoorsitter van die Kommissie vir Ampsbediening en Evangelisasie, skriba van die Psalmkommissie, skriba van die Kommissie vir die Gesangberyming 1976 – 1979 en lid van die kommissies vir die Jeugsangbundel en Sing onder mekaar.

Hy het voorgestel dat die Sinode van Suid-Transvaal jaarliks vergader en die eerste een georganiseer. Sy werk as predikant vir inligting het hy met toewyding gedoen en ʼn indrukwekkende argief vir die kerk opgebou.

Attie was ʼn stil, nederige man wat hom nooit teenoor ander laat geld het nie. Hy was altyd netjies en georganiseerd, ʼn voorbeeld van wellewendheid, altyd vriendelik, hoflik en opreg. Die kerk sal hom mis. Sy familie en vriende sal hom mis. Saam met Johan Symington sing ons wat agterbly:

“Genade onbeskryflik groot

Hy is weer tuis in die Vaderhuis!” (Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 27/01/1997 ingevul het, ʼn huldiging wat ds. Johan Symington tydens sy begrafnis gelewer het, en berigte in Die Kerkbode en Beeld.) (Jaarboek2003).