Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap

Met die aankoms van die eerste sendelinge van die L.S.G., en deur die inisiatief van dr. Van der Kemp en ds. M. C. Vos, is daar op 22 April 1799 oorgegaan tot die stigting van die “Zuid-Afrikaansche Genootschap ter bevordering van de Uytbreiding van Christus Ryk residerende aan de Hoofdplaats.” Agt direkteure is in Kaapstad gekies, en ds. M. C. Vos is as buite-direkteur aangestel. Aan die einde van daardie  jaar het die ledetal reeds op 298 gestaan.

Die werk onder die slawe en heidene, tot hiertoe deur Christene gedoen, is onmiddellik georganiseerd voortgesit. Sendeling H. Manenberg is vir die werk in die Kaap afgesonder. Deur die toedoen van mev. Moller is ‘n gebou, later genoem “De Kleine Oefeningshuys” in Houtstraat afgesonder waarin dienste gehou word. Op 25 Maart 1804 is “Die Gestig” in Langstraat in Kaastad plegtig deur ds. J. P. Serrurier aan die diens van die Here gewy – die tweede kerkgebou wat in die moederstad tot stand gekom het. Ook die onderwys onder die gekleurdes in Kaapstad geniet die vereiste aandag, en ‘n skooltjie wat opgerig is het spoedig gebloei.

Ook buite Kaapstad het die S.A.G. selfstandige werkkringe gestig. In 1816 is J. Joubert, ‘n leek, naby Swellendam geplaas waar later die sendingstasie Soar sou ontstaan. Eerw. C. de Haas het in 1823, ‘n aanvang gemaak met die werk in die Tygerberge. Die gemeente Gestig is eers op 18 Augustus 1937 ingelyf by die NG Sendingkerk. In 1956 het die Genootskap nog bestaan met ‘n selfstandige direksie wat die belange van die geneente “Die Suid-Afrikaanse Gestig” behartig.

Hulpgenootskappe en uitbreiding na die Platteland.

Kragtens Artikel XVI van die grondreëls van die S.A.G. is al gou in die buitegemeentes kringe gevorm met die oog op plaaslike belange. Stellenbosch, Roodezand en Wagenmakersvallei was die eerste wat selfstandige sendingwerk in hulle omgewing beplan en dit onder die aandag van die direkteure gebring het. Op 27 Julie 1801 is dan ook besluit om ‘n verskil te maak tussen die “Hoofd-Direksie en te Stellenbosch, Roodezand en Wagenmakersvally… op ijder derzelve een  bijzondere directie diende aangesteld te worden. Om ijder derzelve in’t bijzonder in zijn kring of kerkgemeente werkzaam te zijn, ter bevordering van het groote oogmerk des Genootschaps. Grondwetten zullen geformeerd, en hun zullen bezorgd worden, opdat ijder directie zig daarna zullen reegelen.”

Dit het uitgeloop op die stigting van ‘n aantal hulpgenooskappe wat selfstandig in eie omgewing opgetree het, maar wat tog baie jare lank deur onderlinge samewerking met die hoofgenootskap en met mekaar verbonde gebly het. Die grootste krag, invloed en uitbreiding van die S.A.G., wat ‘n besondere bydra gelewer het tot die latere Sendingkerk, moet juis in die ontstaan en werk van hierdie hulpgenootskappe gesoek word.

Die volgende dien as oorsig in verband met die hulpgenooskappe:

Die Wagenmakersvallysche Hulpgenootschap.

Teen die einde van die agttiende eeu (1796) was Jan Jaco van Zulch, ‘n apostel van Van Lier, onder blankes en slawe hier werksaam. Van Zulch en ‘n klein kring uit die wyk van die gemeente Paarl, het onmiddellik aansluiting by die S.A.G. gesoek. Hulle het o.a. gepleit vir ‘n sendeling. Teen die einde van daardie jaar is J. Read en A. A. van der Lingen daarheen gestuur om tydelik behulpsaam te wees.

Op 26 Augustus 1801 is oorgegaan tot die stigting van “De Wagenmakersvallysche Hulpgenootschap” met sy eie direkteure. ‘n Paar maande later het Bastiaan Tromp aangekom as eerste voltydse sendeling. Tromp het ‘n uitgestrekte arbeidsveld gehad, maar met groot toewyding die werk aangepak met “eene paard.” Ongelukkig het die aanstelling van Tromp nie die goedkeuring van die Paarlse Kerkraad weggedra nie, asook ‘n aansienlike aantal inwoners van die Wagenmakersvallei nie bevredig nie. Dit lei tot ‘n jammerlike stryd tussen die Kerkraad en die S.A.G. ‘n Leek, Daniel le Roux, is eindelik deur die Kerkraad aangestel, en Tromp is verplaas. Tot in 1843 zorgde het Boven Valleische Genootschap voor de instandhouding der gebouwen terwyl het Parysche Genootschap den zendeling onderhield.” Hierdie hulpgenootskap het ‘n werkkring opgebou en met behulp van die Paryse Genootskap ‘n strategiese en invloedryke gemeente aan die Sendingkerk nagelaat.

Die Roodezandsche Hulpgenootschap.

Nêrens was die grond so goed voorberei vir die koms van die genootskaplike sending soos te Roodezand nie. Dit was aan die invloed van Van Lier en M. C. Vos te danke. Op 3 Oktober 1799 is onder voorsitterskap van ds. Vos die Roodezandsche Hulpgenootschap gestig. Die jong genootskap het ‘n uitgestrekte gebied vir sy rekening geneem. Met behulp van talle medewerkers is die arbeidsveld ver en wyd beset o.m. Winterhoek, Bosjesveld, Honingberg, Piquetberg, Breederivier, Roggeveld, onder Cederberge en agter Sneeuberg, Groote Bokkeveld en Over Hexrivier.

Die direksie het op 9 Julie 1803 hul eerste sendeling in die persoon van eerw. John Irwin verwelkom. Dit was egter sy opvolger, eerw. Arrie Vos, wat met sy opvoedingswerk die gemeente gedurende sy dienstyd sterk opgebou het. Die aankoms van die Rynse sendeling Gustav Adolph Zahn in 1829, en die oorname van die gemeente daarna deur die Rynse Genootskap, het in ’n  groot veld geseënde vrugte vir die N.G. Sending afgewerp.

Die Outeniqualandsche Hulpgenootschap.

Binne die eerste jaar van die stigting van die S.A. Genootskap het hy ook ingeskrewe lede van die genootskap in die verre Outeniekwaland gehad. Op ’n   algemene vergadering, gehou in Kaapstad op 26 Augustus 1801, is die eerste direkteure vir die Hulpgenootskap benoem.

Enkele briewe is gewissel in verband met hulle werk. Daarin is die nood van die heidendom plaaslik onder die aandag van die direkteure gebring.Roerend word dan gepleit “om hulpe te bieden met een Zendeling.”

Op 4 Mei 1803 het die S.A. Genootskap besluit om eerw. James Read daarheen te stuur, maar om die een of ander rede het hy nooit daar begin werk nie. Dat daar geseënde werk onder die heidene gedoen is, val nie te betwyfel nie. Hiervan maak die Direkteure in die algemene jaarvergadering van 25 Augustus 1802 melding. Die arbeid is nie vrugteloos nie, want waar eers roekeloosheid onder die heidene was, kom hulle “tot de vergader plaats om Gods woort te hooren.”

Die Stellenbosche Hulpgenootschap.

Dr. Van Lier se medewerker op Stellenbosch was Johannes Nicolaas Desch (of Detsch). Reeds sedert 1798 het by vir die slawe dienste gehou en begin met ‘n skool, bygestaan deur ds. Mosel.

Soos ook op Drakenstein was die kerkraad hier nie die genooskaplike sending goedgesind nie. Maar as gevolg van die ywer van Desch is die Stellenbosche Hulpgenootschap op 26 Augustus 1801 gestig. Meeue Jan Bakker is aangestel om onder die slawe te werk. Eers in 1823 is ‘n “oefeningshuijs op die Braak of Koningsplein” gebou en op 5 Februarie 1824 ingewy in die teeenwoordigheid van die goewerneur, lord Charles Somerset.

In Oktober 1829 het die eerste sendeling van die Rvnse Genootskap in Suid-Afrika aangekom, en slaag Stellenbosch se Genootskap daarin om die dienste van Paulus Daniel Luckhoff te verkry. Kort hierna word besluit “om  deze genoodschap met het Duitsche te verenigen.”

Hier op Stellenbosch is ‘n groot en sterk gemeente opgebou wat ‘n sieraad van die N.G. Sendingkerk geword het. Waarskynlik het hierdie hulpgenootskap die langste voortbestaan.

Die Graaff-Reinetsche Hulpgenootschap.

Hierdie genootskap het ‘n ingewikkelde en veelbewoë geskiedenis. Vroeg in die negentiende eeu was op Graaff-Reinet ’n  hulpgenootskap werksaam. Dit is bekend dat hulle Van der Kemp en Read in 1802 daar behulpsaam was. ‘n Tydperk van stilstand het egter gevolg. Die verdere verloop van die geskiedenis word deur ds. A. Faure (later dr.) in ‘n verslag van die “Graaff-Reinetsche Zendelings Genootschap,” gehou op 25 Desember 1820, breedvoerig meegedeel. Daaruit blyk dat in 1814 onder bestuur van eerw. Kicherer en in medewerking met die LS.G. ‘n genootskap daar gestig is. Eerw. A. van Lingen is teen 1817 as sendeling aangestel.

Op 1 Augustus 1819 is toe onder leiding van ds. A. Faure oorgegaan tot die stigting van “De Graaff-Reinctsche Zendelingsgenootschap.” Dit was ‘n hulpgenootskap van die S.A. Genootskap. Kort na die stigting is ‘n skool opgerig waarvan die rol spoedig tot 142 aangegroei het, en “enige het in de kennis de: Goddelike waarheden grote vordering gemaakt. In die begin van 1821 het Landdros Stockenstrom ‘n stuk grond gegee vir die bou van ‘n “oefeningshuis” en op 24 April 1821 is die hoeksteen deur ds. Faure gelê. Alhoewel hierdie hulpgenootskap in 1828 met die L.S.G. verenig is, het die N.G. Kerk later die gemeente oorgeneem. Groot was die invloed wat hiervandaan na omliggende plekke uitgegaan het.

Die Paarlsche Hulpgenootschap

Met die stigting van die S.A. Genootskap het ds. R. N. Aling en die Kerkraad van Drakenstein bedenkinge geopper. Lidmate van die Paarl het as lede by die hulpgenootskap van Wagenersvallei ingeskryf. In 1814 het die Kerkraad egter verlof gegee tot die oprigting van ‘n “Oefeningshuis” in die Hoofstraat. Hier is ‘n aanvang met ‘n skool gemaak, en dienste is vir die slawe en vrye gekleurdes gehou.

In November 1819 is met toestemming van die Kerkraad oorgegaan tot die stigting van “De Paarlsche Medewerkend Zendinggenootschap. Die jaar daarop het die Londense Sending Genootskap die werk oorgeneem. Eerw. Evan Evans is as sendeling aangestel en hy het al die omliggende dele van die distrik bearbei. ‘n Ruimer kerkgebou, genoem “de Zionskapel”, is in 1823 opgerig. ‘n Tweede “oeffeningshuis” is in 1830 in Suider-Paarl, opgerig waar ook eventueel die selfstandige gemeente Immanuel tot stand gekom het.

In 1877 het Eerw. P. Dempers die herderstaf hier opgeneem. Gedurende sy bediening het daar ‘n skeuring plaasgevind. Eerw. F. Weich het in 1898 die werk as eerste sendeling van die NG. Kerk alhier aanvaar.

Die Worcestersche Hulpgenootskap.

Die sendinggeskiedenis van Worcester hang ten nouste saam met die van Roodezand (Tulbagh). Vanaf 1799 het gereelde werkers van die S.A.G. daar opgetree. Gedurende die bediening van Arrie Vos en Zahn is die werk voortgesit.

Op aandrang van lidmate van de moedergemeente, Worcester wat in 1821 gestig is, is by die Rynse Genootskap met sukses aangeklop om ‘n sendeling. Op 16 Februarie 1832 het eerw. G. Terlinden dan ook sy intreerede op Worcester gehou.

Kort na sy bevestiging is die “Worcestersche Zending Genootschap” gestig, en in 1833 het daar reeds ‘n klein ,,Gestig” bestaan.

Op ‘n vergadering van die Worcesterse Genootskap, gehou op 6 April 1839, is besluit om die Rynse Genootskap te versoek om die werk voort te sit, “,waardoor het werk onzes Heeren en Zaligmakers zijnen verderen vasten voortgang onder de heidene hier zal hebben.”

Ander hulpgenootskappe.

Daar was beslis kleinere hulpgenootskappe waarvan die geskiedenis ongelukkig onbekend is. Hier en daar skemer dit uit die geskiedenis deur dat hulle wel bestaan en ‘n bydrae tot die sendingwerk in eie omgewing gelewer het.

Die bestaan van die volgende kon wel vasgestel word: Het Caledonsche Hulpgenootschap; die Swellendamsche Genootschap; die Zwartlandsche Zendelinggenootschap; die Beaufort-Wes Zendelings Hulp Genootschap; en ook op Clanwilliam en Franschhoek. Dat daar baie ander was, word algemeen aanvaar.

Dit blyk ook uit die geskiedenis dat oral waar die S.A. Genootskap met sy hulpgenootskappe, soos in al bogenoemde gevalle, die voortou geneem het, daar later selfstandige gemeente van die Sendingkerk ontstaan het.

Bron: Kriel, C.J. 1961. Die Geskiedenis van die NG Sendingkerk in SA, 1881 – 1956.