Stander, Philippus Petrus

Ds. Stander Philippus

gebore

11 Jun. 1909

OORLEDE

29 Jul. 1999

UNIVERSITEIT

–

gelegitimeer

1935

ORDEN

1937

standplase

1937 Compounds (Johannesburg)

1939 Oos-Rand

1944 Noord-Zoeloeland

1949 Babanango en Dingaanstat-evangelisteskool

1960 Rektor Teologiese Skool Dingaanstat

EMERITEER

–

Prof Philippus Petrus Stander 11/06/1909 – 29/07/1999

Prof Flip Stander is op 11 Junie 1909 in ‘n brandarm gesin naby Belfast gebore waar sy vader as bywoner op ‘n familielid se plaas geboer het. Sy skoolloopbaan het aan verskeie skole geskied, naamlik die Groenvlei-plaasskool in die Belfast-distrik (1917-1919); Vaalbosbult by die delwerye van Schweizer Reneke (1919-1921) en Witrivier (1922-1924) waar sy skoolhoof hom die st. 6-eksamen laat skryf het terwyl hy nog in st. 5 was. Hy het die tweede beste in die klas geslaag en duseen standerd oorgeslaan. Hy het matriek met eersteklas in 1928 op Belfast geslaag. In 1929 het hy eers by die Ouditeurskantoor van die Provinsiale Administrasie gaan werk, ook om te help om sy ouers in die depressiejare te onderhou. Teen hierdie agtergrond het hy die roeping ontvang om die evangelie aan die Zoeloe-volk te bring.

In Februarie 1933 het hy na die Sending-Instituut op Wellington gegaan om hom as “donkie vir Christus” (soos die sendingstudente destyds genoem is) te bekwaam. Na sy teologiese studies, is hy in 1935 op Wellington gelegitimeer. Aan die begin van 1936 het hy met ‘n fiets die evangelie op Ermelo begin bedien. In dieselfde jaar het hy vir drie maande Zoeloe gaan aanleer by ds. SD Simelane, die eerste Zoeloe-leraar van die NG Kerk in Afrika op Ningizimu naby Mahlabatini. Op 2 Junie 1937 is hy met Salie Zaaiman van Zastron, wat hy op Wellington ontmoet het, getroud. Sy is as maatskaplike werker op Wellington opgelei. Hy is in 1938 georden vir die Kampongsending in Johannesburg. In 1939 is sy werkkring die Oos-Randse Kampongsending. Ook hier het hy sy besoekwerk per fiets gedoen.

Sedert 1944 was hy sendingleraar in Noord-Zoeloeland te Nongoma. Hy het daar met ‘n kinderhuis en die Evangelisteskool begin. Hy het hom beywer vir en besig gehou met die opleiding van kerkleiers vir die Zoeloes. In 1949 is die eerste stene van die sendingstasie op Dingaanstat gelê. Vir vyfjaar was hy en sy vrou alleen en het hy self die doseerwerk vir die evangeliste gedoen. Hy het alles op die sendingstasie bestuur en sy vrou het in die kantoor gewerk. Hy was argitek, bouheer, lektor, plaasbestuurder, bouer, pastor en mentor van almal. Hulle het finansiële hulp van die onderskeie Transvaalse sinodes, die Vroue-Sendingverenigings van Transvaal en Natal en die Kindersendingkrans van destyds ontvang. Daar het ook talle besoekers na hierdie historiese plekke kom. Hy het dus’n groot korrespondensie behartig en moes ook baie administratiewe werk doen met primitiewe fasiliteite.

In 1949 het hy amptelik in die gemeente Babanango gewerk, maar steeds op Dingaanstat gewoon. In hierdie tyd is die Teologiese Skool te Dingaanstat gevestig. In 1960 is hy aangestel as dosent en rektor van hierdie skool. In 1971 is hy benoem as professor van die Teologiese Skool Dingaanstat.

Hy lewer ook nog baie ander dienste in hierdie tyd vir die Zoeloes. Hy het ‘n tehuis vir behoewende kinders opgerig (eintlik straatkinders van die Rand) wat genoem is: Kinderhuis Dingaanstat asook ‘n skool vir blinde en dowe kinders (Vuleka) te Nkandla en ‘n huis vir bejaarde Zoeloes (Kwabadala).

Ook op die breër kerklike terrein het hy uitstekende diens gelewer. Hy het lank in die Sinodale Kommissie gedien asook in verskeie ander kommissies van die NG Sendingkerk in Natal, verskeie ringskommissies en ook in die Sinodale Sendingkommissie van die NG Kerk van Natal.

Hy het op 5 Desember 1974 emeritaat aanvaar. Die egpaar het eers Marble Hall (1974-1978) toe getrek, maar verhuis later na Kloofsig (1978-1986) en (in 1995) na Verwoerdburg, Centurion. Na sy aftrede het hy die interessante stokperdjie van boekbindery beoefen. So het hy 2 150 boeke en veral Bybels herstel. Hy het ook bejaardes besoek om hulle te versterk en te vertroos.

Hy het egter asemhalingsprobleme en ‘n vergrote hart ontwikkel. Die laaste twee jaar was hy in die Centurion-Rusoord se Versorgingseenheid na beroerte-aanvalle. Sy vrou het ook die Alzheimersindroom ontwikkel. Op 28 Junie is hy in die hospitaal opgeneem weens longontsteking en hartversaking en op 29 Julie is hy Oorlede.

‘n Roudiens is op 2 Augustus 1999 in die NG Gemeente Kloofsig gehou. Familie, vriende, oudstudente en kinderhuis kinders het van heinde en verre gekom om “die Here te dank vir ‘n `Donkie’ wat sy Meester met toewyding in Zoeloeland gedien het”. Sy as is in November 1999 op Dingaanstad ter ruste gelê.

Hy word oorleef deur sy vrou, Salie, en vier kinders, Hercules, Zaaiman, Ida en Marie met hulle eggenotes, sowel as veertien kleinkinders en nege agterkleinkinders. – Dirk Viljoen, aan die hand van die biografiese vorm en ‘n “In Memoriam” geskrif deur sy seun Hercules.