Deborah Retief – Heldin van die Sandvlaktes
W. L. MAREE

Suid-Afrika het ook sy groot Sendingheldinne gehad — vroue wat in geloofsmoed en dapperheid die gelykes was van ‘n Mary Slessor, ‘n Ida Scudder en ‘n Gladys Aylward. Een van hulle was Deborah Retief, die Afrikanerdogter wat maande lank as die enigste blanke in ‘n groot Bantoestat gewoon het, wat geweier het om pad te gee toe ‘n pokke-epidemie die omgewing geteister het, en wat getrou op haar pos gebly het terwyl ‘n oorlog rondom haar gewoed het.
Deborah (Borrie) Retief is op 10 Julie 1853 op ‘n plaas naby die Paarl gebore as een van twaalf kinders. Reeds van jongs af het sy ‘n begeerte gehad am na die sendingveld te gaan. Die begeerte is versterk tydens haar studietyd aan die Hugenote Seminarie op Wellington, waar die twee hoofde, mejj. Ferguson en Bliss, voortdurend die leerlinge tot sendingywer aangespoor het. Deborah het ‘n rukkie as matrone in ’n meisieskoshuis gaan werk voordat die deur na die sendingveld in 1887 vir haar oopgegaan het. In die jaar is sy aangestel om mej. Mary Murray op die sendingstasie by Mochudi, in Betsjoeanaland (tans Botswana), te gaan help.
Deborah het per trein tot op Potchefstroom gereis, waar mej. Murray haar ingewag het. Daarvandaan is die twee vroue per ossewa voort na Mochudi. Die reis deur die gelyk sandwêreld, tussen die doringbome deur, het tien dae geduur. Die Sondag het die reisigers stil in die veld deurgebring, maar teen die aand het die wadrywer aan die hand gedoen dat hulle die wa inspan en verder gaan. Omdat die twee vroue getwyfel het of dit die regte ding was om te doen, het hulle eers saam neergekniel en die Here se leiding gevra. Daarna het hulle ingestem. Die volgende oggend het die Wa se disselboom eensklaps gebreek en ‘n lang oponthoud veroorsaak. Na daardie voorval wou Deborah nooit weer ‘n wadrywer toelaat om op ‘n Sondag in te span nie.
Eindelik het die twee vroue Mochudi bereik. Dit was ‘n kolossale stat, met etlike honderde hutte wat tussen ‘n paar kliprantjies aan die kant van die Kalahariwoestyn gelê het. Voorlopig moes Mary en Deborah hulle intrek in ‘n treurige ou hartbeeshuisie neem. Daar was baie pligte waarmee die dames kon help. Deborah het byvoorbeeld begin om soggens vir die kinders, smiddags vir ‘n paar jong mans en saans vir ‘n aantal vroue skool te hou. Een oggend toe die twee dames aan die ontbyttafel sit, sien hulle deur die venster vyf waens met pale aankom en voor die deur stilhou. By die waens was honderd Bantoes wat ‘n taamlike lawaai gemaak het. Vol verbasing — en seker met ‘n bietjie angs — is Mary en Deborah buitentoe am te gaan kyk wat aan die gang was. Hulle was totaal uit die veld geslaan toe hulle verneem dat die geselskap deur die jong opperhoof Lentswe gestuur is om ‘n nuwe huis vir hulle te bou. Spoedig was die huis voltooi en kon die twee vroue daar intrek.
Mochudi was in daardie jare baie afgesonderd. Die sendingpersoneel het net twee keer per jaar pos ontvang, en elke paar maande moes hulle na Kimberley reis om voorrade te gaan koop. Soms het Deborah die lang rit daarheen of na Saulspoort, die buursendingstasie, alleen met ’n paar Bantoehelpers onderneem. Meermale het sy geen koffie of suiker gehad nie en moes sy tevrede wees om net van pap te lewe. Intussen het die arbeid van die sendeling, eerw. F. B. Beyer, en die twee sendingdames vrug gedra. Die opkomste by die dienste het so groot geword, dat die kerkie spoedig heeltemal te klein was. Opperhoof Lentswe was die Christendom teen daardie tyd so goedgesind dat by ‘n nuwe kerk laat bou het. Wat nog belangriker was, was die radikale verandering wat besig was om in Lentswe se hart plaas vind. Hy het steeds meer belangstelling in die godsdiens getoon en naderhand die begeerte uitgespreek om gedoop te word
Eerw. Beyer wou egter nie halsoorkop tot so ’n stap oorgaan nie. Hy het besef dat die bekering van ‘n opperhoof ‘n ingrypende gebeurtenis sou wees en by wou dus seker maak dat Lentswe se bekering waarlik eg was. Een groot struikelblok was dat Lentswe hom nog by die Christene as ‘n Christen en by die heidene as ‘n heiden voorgedoen het. Hierby het by drie vroue gehad, terwyl die kerk geheelenal teen veelwywery gekant was.
Een dag het Lentswe nie die stat verdwyn om in eensaamheid die saak met die Here uit te maak. Eers twee of drie weke later het hy weer sy verskyning gemaak. Sy gemoedstryd was beëindig en hy het rus vir sy siel gevind. Hy het hom by die sendeling gaan aanmeld met ‘n gesig waarop sy lewensverandering duidelik te lees was. Hy het twee van sy vroue na hulle families teruggestuur en volkome met die heidendom gebreek.
Op versoek van eerw. Beyer het Lentswe sy besluit op ‘n groot stamvergadering aan sy onderdane bekendgemaak. In ‘n merkwaardige toespraak. wat ’n diepe indruk op al die aanwesiges gemaak het, het die opperhoof verklaar dat by afsien van alles wat strydig met die Christelike geloof is. ,,So lank as wat ek lewe wil ek ‘n Christen wees en bly. en as ‘n Christen hoop ek om deur Gods krag te wees wat my volk die reg het om te verwag — julIe regverdige koning,” het hy gesê.
Die doop van Lentswe en sy gesin was ’n onvergeetlike gebeurtenis. Die nuwe kerk was vir die geleentheid met palmtakke versier. Lentswe het verkies om sy ou naam te behou, wat ,,woord” of ,,rots” beteken. Aan een van sy seuns het hy die naam Offentse gegee, wat beteken ,,ek het oorwin”. Vir die sendeling en vir mejj. Retief en Murray was dit ‘n heuglike gebeurtenis. ,,Die Here het groot dinge aan ons gedoen en dus is ons verheugd” het eerw. Beyer aan die Sendingkommissie geskryf. “Dit is ’n belangrike, geskiedkundige gebeurtenis onder die Bakgatlastam en seën vir die land en volk en vir ons arbeid onder hulle.”
Dwarsdeur sy lewe het Lentswe getrou aan die Christendom gebly. Die Bybel was sy gids wanneer hy voor moeilike besluite te staan gekom het en hy het strenge wette in ooreenstemming met die Bybelse voorskrifte uitgevaardig. Vir alle praktiese doeleindes het die Christelike godsdiens nou die amptelike godsdiens van die Bakgatlastam geword. Die gemeente het vinnig gegroei en die opperhoof het alle moontlike hulp aan die kerk verleen. Twee jaar na Lentswe se bekering het eerw. Beyer vertrek, hoofsaaklik weens die krankheid van sy vrou. In die hg van die veranderde atmosfeer op Mochudi het mejj. Retief en Murray kans gesien om alleen daar agter te bly. Hulle het getrou met hulle werk voortgegaan en het die opperhoof gevra om ‘n nuwe skoolgebou te laat oprig. Hulle dapperheid het so ‘n indruk op hom gemaak, dat hy pertinent sy onderdane se aandag op die twee jong vroue se moed en toewyding gevestig het.
Die jaar na ds Beyers se vertrek het ‘n pokke-epidemie uitgebreek. Lentswe het vervoer tot Mary en Deborah se beskikking gestel sodat hulle kon padgee voordat die gebied onder kwarantyn geplaas word, maar nadat hulle die saak bespreek en daaroor gebid het, het hulle die aanbod beleefd van die hand gewys. Hulle het dit as hulle plig beskou om in die uur van beproewing by die stam te bly. Die paaie het ses maande gesluit gebly. Intussen het die twee vroue elke dag in die stat rondgegaan om waar nodig te help. Hulle self is gelukkig nie deur die siekte aangetas nie en die pokke het nie veel lewens geëis nie. Toe die epidemie verby was, is ‘n groot dankdiens, waar 4 000 manne teenwoordig was, gehou om die Here vir die uitredding te dank.
As gevolg van miere en swaar reëns het Deborah se buisie naderhand onbewoonbaar geword. ’n Winkelier het toe aangebied om sy huis vir R160 aan haar te verkoop. Sy het die opperhoof se broer, Ramono, geraadpleeg en hy het wee dat uitstel gevra om die saak te oordink. Na hy ‘n middag met sy Bybel in die veld deurgebring het, het hy R80 aan haar gebring. Hy het gesê dat dit ’n blyk van waardering was vir alles wat sy vir die dogters van die stam gedoen het. Deborah het dus nodig gehad om net R80 by te sit vir die koopsom van die huis. In die huis het sy tot die einde van haar lang dienstyd op Mochudi gebly.
Sy het verskeie noue ontkomings gehad. Een keer het ‘n brand in haar slaapkamer ontstaan en het sy byna al haar klere verloor. Gelukkig was daar darem welwillende vriende in die Kaapkolonie wat gehelp het om vir die verlies te vergoed. By ’n ander geleentheid het die dak van ’n tydelike kerk, wat van pale gemaak en met gras gedek was, op haar ingestort. Een paal het so naby haar geval dat dit haar rok geskeur het, maar sy self het sonder letsel daarvan afgekom.
Mej. Murray is intussen na Saulspoort verplaas, maar, in 1896 het mej. Retief weer, gawe geselskap gekry toe die nuwe personeellede by haar aangesluit het. Hulle was ’n jong sendeling ds. Willie Neethling, sy suster. mej. Miemie Neethling, en nog ‘n helper. Danie Joubert. Deborah was bly oor hulle koms, want groot nood het destyds op Mochudi geheers. Weens die runderpes het die Bantoes byna al hulle vee verloor en daarby het ‘n ontsettende droogte die land geteister. Die sendingpersoneel was verplig om waar moontlik voedsel te probeer verskaf. Trein vragte voedsel is uit die Kaapkolonie gestuur en onder die Bantoes uitgedeel.
Net ‘n paar dae na ds. Neethling se koms het hy een middag saam met die opperhoof se broer gaan kyk na die kerk, wat kort tevore deur ’n stormwind beskadig is, om die herstelwerk te bespreek. ‘n Stormpie het opgesteek en ds. Neethling het teen die muur gaan skuil. Skielik het die gewel op hom ingestort en hom ernstig beseer. Hy is huis toe gedra, waar hy dieselfde nag oorlede is. “Twyfel tog nooit aan die liefde van God nie” het hy voor sy dood gesê. “Hy maak nooit ‘n fout nie.” In ‘n nuwe begraafplaas ‘n ent buite die stat is die jong ds. Neethling begrawe. . . en weer was dan geen sendeling op Mochudi nie.
Intussen het mejj. Retief en Neethling moedig voortgegaan. Hulle het hulle aandag veral toegespits op die opperhoof se heidenmoeder, wat vroeër een van die groot struikelblokke in die weg van sy bekering was. Geleidelik het die ou moeder belangstelling in die godsdiens begin toon, naderhand die katkisasieklasse bygewoon, en het eindelik haar lewe aan die Here oorgegee. ‘n Paar maande na ds. Neethling se dood het sy vader, wat sekretaris van die Sendingkommissie was, Mochudi besoek en kon hy die opperhoof se moeder doop. Die ou vrou het tot haar dood ‘n getroue Christen en ‘n steunpilaar van die gemeente gebly.
Na ‘n vakature van anderhalwe jaar het die jeugdige en bekwame ds. Pieter Stofberg aangekom om die leë plek te vul. Hy was vergesel deur sy jong eggenote Annie, maar ook aan haar is net ‘n kort werktyd gegun voor sy aan malaria gesterf het. Steeds was dit maar Deborah Retief wat as die moeder van die gemeente moes optree, totdat die Tweede Vryheidsoorlog haar werk tydelik onderbreek het.
Slegs twee weke na die uitbreek van die oorlog in 1899 het ’n gewapende Britse patrollie opgedaag, al die blanke personeellede gevange geneem en na ‘n spoorwegstasie ‘n ent van Mochudi geneem. Daarvandaan is hulle per trein na Bulawayo gestuur. Hulle kon beweeg waar hulle wou, maar moes hulle elke dag om twaalfuur by die polisie aanmeld. Verder moes hulle hulle besig hou so goed as wat hulle kon. Deborah het gereeld dienste vir ‘n klompie Bantoes op die dorp gehou.
Na ‘n paar maande het die groepie bannelinge verlof gekry om na Transvaal of die Kaapkolonie terug te keer. Mej. Retief is eers na die Morgenster-sendingstasie in Masjonaland, en in Augustus 1900 het sy en Danie Joubert ‘n poging aangewend om Mochudi te bereik. Hulle het per trein tot by die naaste spoorwegstasie gereis en daarvandaan die paar myl na die sendingstasie gestap. Aan Deborah is wel verlof verleen om daar te bly, maar geeneen van die mans kon die nodige toestemming kry nie. Die dapper mej. Retief het besluit om stokalleen die fort op die sendingstasie te hou, en dit ten spyte van die feit dat die Bakgatlastam teen daardie tyd ook in die oorlog ingesleep was.
,,As ek soms eensaam voel, dan help dit om te dink aan hoe eensaam die Groot Sendeling, ons Meester, moes gevoel het toe hy op die sondige aarde was,” het sy in daardie tyd geskryf. ,,Ek is nog gesond en is bly dat ek die werk om Sy ontwil kan doen.” Toe sy later gevra is of sy dan nie bang was so alleen tussen die swartes nie, was haar antwoord: ,,Nee, ek was gerus en sonder kommer, want ek het in die midde van my volk gewoon.”
Vier maande na die vredesluiting was die hele sendinggeselskap weer saam op Mochudi en kon hulle hul werk hervat. ,,Die Here is goed, Hy lei ons en is gedurig met ons,” het Deborah geskryf. Gedurende die oorlog het die sending natuurlik baie veld verloor, maar onder ds. Stofberg se leiding het die personeel hulle bes gedoen om die verlore terrein is herwin. Reeds in 1904 is die groot nuwe kerkgebou, wat vandag nog op Mochudi staan, voltooi.
Na ds. Stofberg se dood in 1907 het verskillende sendelinge op Mochudi gekom en gegaan. Daar was eerw. Joubert, eerw. Knobel, ds. Murray, ds. Barrish, mnr. Hibbert en ds. Reyneke wat almal korter of langer tydperke daar gearbei bet. Een persoon het egter pal daar gebly — Deborah Retief. Daar was spanningsvolle tye met allerlei plaaslike krisisse, maar Deborah het rustig haar gang gegaan. Die meeste van die tyd was sy die enigste blanke sendingwerkster naas die sendelinge en hulle eggenotes.
In 1915 het Deborah wel ‘n helpster in die persoon van mej Anna van der Walt gekry, maar die jaar later is Anna tydens die griepepidemie oorlede. Eers in 1922 het daar weer ‘n tweede sendingwerkster gekom. Hierdie keer was dit mej. Agnes Krynauw, wat 22 jaar lank toegewyde diens op Mochudi sou lewer.
Mej. Retief het oud geword in diens van haar Meester, die sending en die Bakgatlavolk. Sy het onder meer naaldwerkklasse aan die dogters gegee, die vrouebidure gelei en die vroue in die stat besoek. Die betreklik goeie kleredrag van die Bakgatlavroue is in ‘n groot mate aan haar opheffende invloed toegeskryf. Voortdurend kon ‘n mens die klein, tingerige vroutjie deur die warm sand sien slof of die klipperige randjies sien uitklim. Haar vriendelike offervaardigheid, bedaarde raadgewing en tere sorg het almal op die sendingstasie bemoedig.
Dit was altyd haar taak om vir die voorraad Bybels en gesangboeke op die sendingstasie te sorg. Haar standpunt was: ,,Ek maak voorsiening vir die Bybels, want die Here het gesê sy Woord sal nie ledig tot Hom terugkeer nie. My woorde wag faal, maar die Woord van die Here kan nie.” Haar katkisasieklas het haar ook groot vreugde gegee.
Mej. Retief was nie net onselfsugtig nie, maar ook baie beskeie en ingetoë. Sy was so bang dat sy dalk ’n verkeerde indruk in haar verslae sou skep, dat die Vrouesendingbond slegs met die grootste moeite verslae van haar werk kon kry. Sy het byna nooit oor haarself en haar werk gepraat nie en ook nooit ongevraagde raad aangebied nie. Almal wat haar advies gevra het, is egter deur haar wyse insig getref. Dit kon ook nie anders nie, want dit het berus op haar kinderlike geloof, haar groot mensekennis en haar jarelange ervaring van die Bakgatlavolk.
Eindelik het Deborah Retief op hoë ouderdom in 1930 finaal die tuig neergelê. Beskeie soos sy was, het sy nie kans gesien vir ‘n formele afskeid nie. Sy het byna ongemerk vertrek, asof sy met ‘n gewone vakansie weggaan, met die gedagte om later terug te keer en almal te groet. Die moeilike taak het haar gelukkig gespaar gebly. Sy sou Mochudi nie weer in haar lewe sien nie. Na sy slegs enkele maande in ‘n ouetehuis in Kaapstad tuis was, is sy in April 1931 oorlede.
Ver van Mochudi, waar sy haar lewenstaak verrig het, het Deborah haar graf in Kaapstad gevind. Wie haar graf besoek, vind haar lewensarbeid in een sin op haar grafsteen saamgevat: ,,Meer as veertig jaar van haar lewe was gewy aan troue sendingarbeid onder die Bakgatlavolk op Mochudi.”
Daar op Mochudi waar almal haar so goed geken het, is die tyding van haar heengaan met groot droefheid ontvang. Die volgende Sondag het die nuwe opperhoof — Lentswe se opvolger — die stam na ‘n roudiens opgeroep. Die kansel, asook die plek waar sy altyd by die venster gesit het, was in swart gehul. By die volgende nagmaalsviering is sestig lede van haar katkisasieklas as lidmate bevestig; as ‘n laaste treffende huldeblyk het hulle almal roubande om die arms gedra.
Mej. Retief het haar boedel aan die Vrouesendingbond bemaak en daaruit het die bestuur ‘n bedraggie beskikbaar gestel vir die sendinghospitaal wat kort na haar dood op Mochudi opgerig is. As blyk van waardering vir haar toegewyde arbeid het die hospitaal haar naam gekry en staan dit vandag daar as ‘n lewende monument: die Deborah Retief-gedenkhospitaal.
Nederig soos sy was, met haar lewe gewy aan die verkondiging van die evangelie onder die Bakgatlavolk, sou sy egter geen tasbare monument begeer het nie. Sy is oorlede in ‘n tydperk toe daar, onder die bearbeiding van ds. Johan Reyneke, ‘n groot opbloei in die sendingwerk op Mochudi was. Dit moes haar grootliks verbly het, want dit was wat sy die graagste wou sien — lewens oorgegee aan die Here wat sy met haar hele hart lief gehad en gedien het.
Bron: Voorligter, Junie 1978, p 10-11, 30, 35