Pepler, David Ryk

 

GEBORE

24 Mrt. 1935

OORLEDE

10 Okt. 2004

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1959

ORDEN

1960

standplase

1960 Robertson

1961 Robertson-Oos

1965 Port Elizabeth-Nooitgedacht

Emeritus

Ds. David Pepler (BA Lis Teologie) 24/03/1935 – 10/10/2004

David Ryk Pepler is op 24 Maart 1935 op Oudtshoorn gebore, ‘n seun uit die pastorie van die NG Gemeente De Hoop digby Oudtshoorn. Sy vader was ds. Hendrik Lodewyk Pepler, ‘n boorling van Tarkastad wat in 1931 op Stellenbosch afstudeer. Hy trou met Ella Margaretha Lombard, saam bedien hulle die NG Gemeentes Mosselbaai (1932-1933); De Hoop (1933-1945); Adelaide (1945-1954); Mosselbaai (1954-1958) en word in 1959 die eerste leraar van die nuwe MosselbaaiSuid, waar hy op 29 Julie 1978 aftree na 46 jaar en agt maande in die aktiewe bediening. Ds. Henry Hopkins beskryf hom as `ʼn beskeie, getroue en toegewyde arbeider wat erns gemaak het met die evangeliebediening en diep spore getrap het in die gemeentes waar hy gestaan het”.

Die jong David ontvang vanaf 1941 sy eerste skoolopleiding aan Laerskool De Hoop naby Oudtshoorn in die Klein-Karoo. In 1945 neem sy vader ‘n beroep aan na die NG Gemeente Adelaide in Oos-Kaapland, waar hy in 1952 aan die Hoërskool Adelaide matrikuleer. David is voorsitter van die CSV en Debatsvereniging en blink ook uit in rugby en tennis. David verwerf onderskeidings in verskeie vakke en is ook hoofseun van die skool en voel geroepe om soos sy vader hom te bekwaam as predikant van die NG Kerk.

Hy vertrek in 1952 na Stellenbosch en is ‘n inwoner van Dagbreek en word in 1959 primarius van die bekende koshuis in Matieland. David speel ‘n aktiewe rol in die studentelewe. Hy behaal in 1955 die BA (Admissie) en studeer vier jaar lank aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch en word einde van 1959 as proponent gelegitimeer. Hy trou op 16 Julie 1960 in Mosselbaai met Winnie Robertson en uit die huwelik is vyf kinders gebore. Karen is ‘n arbeidsterapeut, getroud met dr Hannes Coetzee; Elmarie is ‘n onderwyseres, getroud met Theuns van Schoor; Hennie is ‘n sake-man en is getroud met Annekie Gouws; Dawid is ‘n sakeman en is getroud met Vanessa Hamman en die jongste seun Willem is soos sy twee broers ook ‘n sakeman. Met ds. David Pepler se dood het hy en Winnie ses kleinkinders.

Ds. David Pepler word op 13 Februarie 1960 met handoplegging in die NG Moedergemeente op Robertson ontvang en bevestig. Na slegs ‘n jaar stig die NG Gemeente Robertson-Oos af en word die jong ds. David die eerste leraar van die nuwe gemeente. In die lente van 1965 kom ‘n roepstem na die Baai en word hy leraar van die NG Gemeente Port-Elizabeth-Nooitgedacht. Einde 1968 neem hy afskeid van die Oos-Kaap en word studenteleraar van die NG Gemeente Oudtshoorn-Wes. Hier op sy geboortedorp doen hy uitstekende werk onder studente, terwyl die Klein-Karoo altyd vir hom ‘n bekoring inhou. Op 3 Oktober 1980 word hy leraar van die NG Gemeente Bellville-Wes, waar hy werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 25 April 1999. In sy dienstyd was ds. David betrokke by die bou van vier kerkgeboue en twee pastorieë, ‘n deeglike en vierkantige mens wat met oorgawe gewerk het. Hy het ook gedien op die kommissies van Sending, Jeug, Hospitaalpastoraat en die beheerrade van Ramot en Hugenote Kollege. Ds. David het uitstekende diens verrig as voorsitter van die dagbestuur en uitvoerende komitee van Diens van Barmhartigheid in die NG Kerk in Suid-Afrika, iemand wat met deeglike voorbereiding en kalme deeglikheid die saak gedien het. Met sy sterk persoonlikheid, deeglikheid, entoesiasme en pligsgetrouheid trap hy diep spore op die kerklike werf.

Die laaste jare van ds. David Pepler se lewenskwaliteit al hoe swakker weens die aftakelende motor-neuron siekte waaraan hy gely het, sodat hy uiteindelik bewegingloos op sy bed kon lê. Hy het sy beproewing met geduld en geloofsvertroue verduur, maar sy dood op Sondag 10 Oktober 2004 was ‘n oorstap na die Hemelse heerlikheid. Sy begrafnisdiens vind op 15 Oktober 2004 vanuit die NG Gemeente Bellville-Wes plaas, ‘n troosboodskap word deur ds. Pix van Rensburg gelewer, terwyl prof Phil Robinson ‘n roerende gebed doen. Ds. Eric Brand skryf in ‘n huldeblyk: “David was ‘n gesellige mens en ‘n geliefde en gewaardeerde gemeentepredikant. Hy was lief vir sy mense, sy kerk en sy Here. As evangeliedienaar het hy ‘n hoë premie geplaas op Skrifgetroue prediking en deeglike huisbesoek en hy het ook sy talente op ‘n breër front vir kerk en gemeenskap ten dienste gestel. Mag sy dierbares troos vind in die wete dat David Pepler se aardse taak afgehandel was – netjies en deeglik en volledig, volgens sy aard”. Dr Gerdrie van der Merwe.