NG Gemeente Stellenbosch-Wes

NG Gemeente Stellenbosch-Wes

gestig

24 November 1952

ring

Ring van Stellenbosch

Adres

Alexanderstraat 3, Stellenbosch

Eerste predikant

Ds AGE van Velden

Die NG Gemeente Stellenbosch-Wes is ‘n gemeente in die Sinode van Wes-Kaapland.

 

Die gemeente Stellenbosch (die Moedergemeente), met ongeveer 2000 lidmate en ‘n studentetal wat snel na meer as 4000 groei, moes in 1951 die werklikheid besef en besluite met verreikende gevolge neem. Met die vertrek van ds ZB Loots, moes die vakature gevul word om ds TCB Stofberg en ds WS Conradie by te staan. Ds JS Gericke is vir die vakature beroep, maar dit was duidelik dat die drie leraars nóg hulp moes kry. Dus is ‘n vierde leraar, ds AGE van Velden, beroep.

Die werksverdeling en funksionering van die vier leraars was ‘n volgende probleem. Op die Moedergemeente se Kerkraadsvergadering van 30 April 1951 stel prof S Pauw voor dat ‘n deel van die gemeente afstig om ‘n nuwe gemeente te vorm. Hy verwys na ‘n brief met 90 handtekeninge van lidmate van die Vlaeberg-Vlottenburg gebied wat vra vir afstiging van ‘n nuwe gemeente. Die saaltjie by Vlottenburg is reeds gebruik vir kerkdienste en Sondagskool vir nabygeleë kinders. Dit sterk onmiddelik sy saak, maar van die ouer garde, wat grootgeword het in die Moederkerk, byt swaar aan die voorstel.

As alternatief, stel ds Conradie voor dat die gemeente in twee gedeel word met Pleinstraat-Van Riebeekstraat as skeidslyn. Hierdie voorstel was glad nie aanvaarbaar nie. ‘n Derde voorstel is ter tafel gelê wat, volgens prof FJM Potgieter, die Parogie-stelsel heet. Volgens hierdie stelsel sou die gemeente in wyke verdeel word en elke predikant sou ‘n wyk kry waarvoor hy verantwoordelik sou wees. Hierdie voorstel is ook nie met groot entoesiasme ontvang nie, dus het die Kerkraad ‘n Kommissie aangestel om ‘n moontlike afstigting te ondersoek.

Op 20 November 1951, by ‘n spesiale vergadering, stel prof Pauw sy saak met betrekking tot afstigting. Aangesien die nuwe Kerkraad van 1952 die verantwoordelikheid van moontlike afstigting sou moes neem, is besluit om die saak vir eers daar te laat. By die Kerkraadsvergadering vroeg in 1952, stel prof Pauw, sterk gesteun deur mnr JC de Waal, weer sy saak en word sy voorstel met 31 teen 10 stemme aanvaar. Een van die probleme was blykbaar die finansiële implikasies, want die nuwe gemeente moes grond koop en ‘n kerk bou, terwyl die Moedergemeente ‘n ruim bruidskat moes skenk om die projek aan die gang te kry. Dit word egter duidelik gestel dat finansies nie in die weg van die bediening mag staan nie.

Die volgende stap was om waarborge en steun vir die nuwe gemeente te kry sodat dit wel finansieel die mas sou opkom en voldoende steun sou geniet. Terwyl IH Verster en SA Theron, onder andere, ywerig borge gesoek het, het oom Johnnie Carinus die Vlaeberg-Vlottenburg gebied se oorweldigende steun vir afstigting verkry. Ds Gericke het die steun van die westelike deel van die dorp vanaf Hertestraat gewerf. Genoeg steun en voldoende waarborge het die Kerkraad oortuig dat ‘n nuwe gemeente wel lewensvatbaar sou wees.

Nou moes die grense van die nuwe gemeente vasgestel word. ‘n Komitee bestaande uit die leraars, IH Verster (konvenor), SA Theron, CH Loubser, WJ le Roux, AH Brink en WJ Louw is vir hierdie taak aangewys. Na verskeie beraadslagings is die volgende grense eenparig aanvaar: vanaf Meerlust Faure, met die Eersterivier langs tot by Krigestraat, daarvandaan oor Dorpstraat met Hertestraat oor Markstraat tot Alexanderstraat, vandaar tot by Birdstraat, van Birdstraat tot by Merrimanlaan, daarvandaan tot by Papegaaiberg en verder met ‘n reguit lyn oor Papegaaiberg met die ry koppe langs tot by Kanonkop en met die bestaande grense tussen Kuilsrivier en Stellenbosch tot by Meerlust. Die middellyne van die strate sou as grense dien, behalwe vir Hertestraat, wat ook Schreuderstraat insluit, waar albei kante sou geld. Na veel beraadslagings is ‘n bruidskat van £8750 vir die nuwe gemeente aangebied en die naam van die nuwe gemeente as Stellenbosch-Wes aanvaar. Weereens is beklemtoon dat geld eintlik nie ter sprake was nie, maar wat werklik saak maak is of dit die verkondiging van die evangelie en die uitbreiding van Gods koninkryk sou bevorder tot eer van die Here.

Op 24 November 1952 is die nuwe gemeente, Stellenbosch-Wes, gestig onder leiding van die Ringskommissie, bestaande uit di AGE van Velden, OA Cloete en SP Malan. Op die laaste Kerkraadsvergadering van die Moedergemeente, waarop Stellenbosch-Wes se lidmate nog sitting gehad het, verduidelik mnr JG Carinus snr dat dit noodsaaklik geword het dat die hele stuk grond van die Goeie Hoop Behuisingsskema langs Alexander- en Papegaaistrate aangekoop word vir ongeveer £8340, nadat die Munisipaliteit ‘n deel oorgeneem het teen £3000. Vervolgens word die Moedergemeente versoek om nou die volle bruidskat beskikbaar te stel.

AANKOOP VAN GROND VIR KERKBOU

Persele groot genoeg vir ‘n kerk en ‘n toekomstige saal het begin skaars raak op Stellenbosch. Die eerste perseel wat oorweeg was, is dié waarop die woonstelblok, Alexanderhof, nou staan. Dit is beskou as ‘n bietjie knap, veral met die oog op parkering. Die tweede was die KWV se wingerd langs Strandweg en tussen Dorpstraat en die rivier. Die beswaar hierteen was dat hierdie besige strate te steurend sou wees. Die derde perseel was die dorpsplasie wat aan mnr Johannes van der Byl behoort het en nou deur die Goeie Hoop Behuisingskema besit is.

Die plasie was tussen twee en drie morge (1.75 en 2.6 ha) groot en is voorheen deur Johannes van der Byl vir die kweek van vrugtebome gebruik. Na sy dood het Johannes van der Byl jnr, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, die plasie geërf en dit verhuur. Verhuringsprobleme het hom genoodsaak om in 1940 die grond aan die Goedehoop Behuisingsmaatskappy vir £10 000 te verkoop.

Die Goedehoop Behuisingsmaatskappy wou die grond gebruik vir die bou van ‘n koshuis vir werkende jong dames. Na ‘n behoefte-bepaling is gevind dat slegs drie dames sou belangstel in so ‘n projek. Die gebrek aan belangstelling en materiaaltekorte en boubeperkings gedurende die oorlog, het die gedagte aan enige bouwerk finaal gekelder en is alle voornemens vir ontwikkeling bevries.

Dit was asof die Here sake so beskik het, want toe oom Johnnie Carinus die maatskappy nader om die perseel vir ‘n kerkgebou te koop, was hulle heel inskiklik en het dit aangebied teen ‘n koopprys van £10 000 plus lae rente vir 11 jaar – ‘n winskopie! Dis onmiddellik bekragtig. Die Munisipaliteit wou egter Papegaaistraat verleng om aan te sluit by Alexanderstraat en koop toe die straat en die deel waarop Molenhof nou staan vir £2900. Dit het beteken dat die Kerk slegs £8100 vir sy deel van ongeveer 1.8113 morg (1.56 ha) moes betaal, wat ruim gedek is deur die die Moedergemeente se bruidskat van £8750.

Mnr George Blake, burgemeester, en raadslid Stoffel Smit was destyds Stellenbosch se belangrikste bouers. Hulle was ook Rotariërlede en, tydens ‘n kongres in Pietermaritzburg, waarheen hul afgevaardig was, kom hulle diep onder die indruk van die behoefte van ouer mense wat afgetree het sonder pensioen en dus feitlik sonder heenkome. Hulle besluit daar en dan, onder aansporing van die Rotariërs, om namens die Munisipaliteit en saam met die Rotariërs Molenhof te bou waarin 26 afgetrede egpare gehuisves kon word. As vrywillige organisasie, stig die Rotariërs, op aanbeveling van prof Erika Theron, die Simon van der Stel Utiliteitsmaatskappy om die bouery en beheer deur te voer. Vir die beskeie bedrag van £1 is die grond van die Munisipaliteit gekoop. Die Munisipaliteit kon hiermee in ‘n publieke behoefte voorsien sonder om betrokke te wees by die rompslomp van ‘n bouery en die verdere beheer en verhuring van die gebou. ‘n Lening van £26 000 is van die Departement van Volkswelsyn verkry teen ‘n rentekoers van 1% vir 50 jaar.

Die huur van die woonstelletjies is vasgestel op £1-10-0 per maand. ‘n Aantal jare gelede toe die lening reeds afgewerk is tot ongeveer £19 000 het die Regering met die Maatskappy ooreengekom om die bedrag af te skryf indien hul £11 000 kan bydra.

Hoe wonderlik is die weë van die Here nie – dat Hy vir 11 jaar die grond ongeskonde bewaar het en toe nog kon voorsien, nie net in die kerk se behoeftes nie, maar ook in woonplekke vir behoeftige pensioentrekkers feitlik langs die kerk.

VESTIGING

Die volgende stap was om die nuwe gemeente te vestig, sy strukture reg te kry en om dit onafhanklik te maak. Die gebruik van die DS Bothasaal van die ACVV in Merrimanlaan is verkry teen 5s 0d per Sondag maar die gemeente moes dikwels self die stoele regsit. Mnre Walters, Oosthuizen, Ackermann en Brynard was hier die voorvatters en alles was elke Sondag gereed vir kerkdienste, al moes hulle Saterdagaand laat of Sondagoggend vroeg werk.

Die konsulent, ds AGE van Velden, het die eerste erediens op Sondag 14 Desember 1952 in die Bothasaal waargeneem na aanleiding van Efesiërs 6:11 “Die wapenrusting van God.” Op 21 Desember 1952 is die volgende eerste Kerkraadslede voorgestel:

Ouderlinge: JG Carinus, GJ Krige, JW Roux, TJ Neethling, CJ Ackermann, JHJ van der Merwe, DJ le Roux en SW Walters. Diakens: JH Neethling, RE Lombard, DD Joubert (Jan/seun), PJ Roux, SA Theron, IH Verster en PF Joubert.

Die Kerkraad beroep ds AGE van Velden van die Moedergemeente op 22 Desember 1952 en was verheug toe hy onmiddellik aanneem. Die finale koopkontrak vir die gronde is ook dié dag gesluit, asook die koop van die ideaal geleë huis van mnr Grove in Herholdstraat vir ‘n billike £5500 om as pastorie te dien. Aangesien mnr Grove die reg behou het om die huis te bewoon tot die einde van 1953, moes ds Van Velden tydelik elders gehuisves word. Die CSV se huis in Crusestraat is toe vir dié doel deur die Kerkraad vir ‘n jaar gehuur

Kerkdienste in die DS Bothasaal het dadelik ‘n aanvang geneem. Hiervoor het die Kerkraad gelukkig die dienste van prop GE Hugo bekom. Mej Marianne Stipp (later getroud met SAS van Zyl) het die eredienste se sang begelei op ‘n klavier geskenk deur mev EJ Swart. Mev Ans Blok het ‘n koor op die been gebring, ‘n funksie wat sy wonderlik en met toewyding verrig het vir etlike jare.

Dit was baie duidelik hoe die Here in alles voorsien het en hoe die lidmate se entoesiasme gegroei het. Aanvanklik het sake in die gemeente stadig gevorder maar het al meer momentum gekry toe elkeen sy deel bydra. Daar was lidmate wat swaar afskeid geneem het van die Moedergemeente, waar hul vir jare tuis was, maar hulle het spoedig net so tuis gevoel in die nuwe gemeente. Die Kersgety van 1954 was werklik ‘n belewenis. ‘n Reeds hegte groepie jongmense het die aand voor Kersfees by die predikant en by Molenhof gaan sing. Op advies van sy geneesheer, het ds van Velden vier weke siekteverlof geneem, terwyl prop Hans Blok waargeneem het.

Onder leiding van prop Blok is die eerste week van 1955 afgesonder vir bidure elke aand. Aan die begin het slegs ‘n paar huisgesinne daaraan deelgeneem maar later het al meer lidmate die bidure bygewoon. Getalle was nie ter sake nie, omdat toewyding en aanbidding voorrang geniet het. Die ywerige ds Van Velden het hom soms ooreis sodat die Kerkraad, dankbaar vir sy ywer en toewyding en bekommerd oor sy gesondheid, in September 1955, met liefde vir hom 14 dae verpligte verlof sowel as ‘n bonus gegee het, sodat hy kon ontspan en sy kragte herwin.

Die Kerkraadsvergaderings is eers in die konsistorie van die Moedergemeente gehou maar is later verskuif na die woning van mnr JHJ van der Merwe, Bergsig. Mnr SA Theron is as die eerste Skriba gekies, en mnr DJ le Roux as die eerste Kassier. Albei het hul dienste gratis aangebied.

Die weeklikse bidure is gehou in ‘n redelik beknopte vertrek wat deur mnr en mev Potgieter van Markstraat 22 beskikbaar gestel is. ‘n Groter vertrek in mnr Van Copenhagen se huis op die hoek van Laundrylaan (nou Heynikelaan) en Markstraat was beskikbaar. Dit is vroeër, onder andere, gebruik vir ‘n snoepwinkel. Die Kerkraad moes egter self die krag laat aanskakel en die kragrekening betaal en boonop moes die plek gemeubileer word. Weens dié kostes is besluit om die vertrek by die Potgieters te behou, al was dit soms ‘n bietjie beknop.

Die weeklikse bidure is relatief goed bygewoon en was heel aangenaam en gesellig. Hier het die welsprekende oom Jan van der Merwe een aand sy geheim verklap. Toe elkeen ‘n vers kry om te lees op versoek van ds van Velden, verklaar hy plegtig, “As ek praat of sing, hakkel ek nie, maar sodra ek moet lees hakkel ek verskriklik.” Al hakkelende het hy darem sy vers gelees! Sy probleem het blykbaar op Laerskool ontstaan toe hy iets moes lees, nie goed daarin geslaag het nie en ‘n drag slae op die lyf geloop het.

Ds van Velden het die beroep reeds op 26 Januarie 1953 aanvaar, maar is eers op 27 en 28 Februarie ontvang. Sy intreepreek lewer hy op 1 Maart met teksvers, Kolossense 2:18-19, “Vashou aan die Hoof, Jesus Christus.” Onmiddellik na sy beroepsaanvaarding het hy sy volle gewig by die gemeente ingegooi en gehelp met die organisasie. Die Sondagskool se eerste Onderhoof was IH Verster en Sekretaris, Jannie Malan. Die DS Bothasaal, kantoor en kleedkamers is gebruik as kategese lokale. Net voor die eerste byeenkoms, met die aanbreek van die nuwe skoolkwartaal van Januarie 1953, het ds Van Velden vir GF Loedolff gevra om die belydenisklas waar te neem. Eers aan die einde van die jaar het ds Van Velden self die klas oorgeneem. Hoewel beknop, met twee tot drie klasse in die saal, het alles tog vlot verloop, danksy die toewyding van die Kategete. Intussen het mnre Schutte en De Wit die dienste en Sondagskool by Vlottenburg waargeneem.

Die eerste kerkkoor, onder mev Ans Blok se inspirende leiding, het vinnig gegroei en het reeds by die eerste sooispit-geleentheid opgetree en dikwels ook by eredienste. Om veral die aanddienste op te helder, is voor die dienste lekker saamgesing onder leiding van Loedolff en mej Stipp.

Skenkings het uit verskeie oorde gekom en veral items benodig om die gemeente prakties aan die gang te kry, was baie welkom. Die volgende is geskenk:

  • JJ Kritzinger – doopbak (tydelik)
  • DJ le Roux – voorhangselkleed vir die kateder
  • GF Loedolff – koraalboek
  • WD Ackermann – kollektebordjies
  • DD Joubert – Kanselbybel
  • JH de Wet – nagmaalservies
  • F de Wet – nagmaalkelkies
  • Mev EJ Swart – klavier.
    (Vir die eerste nagmaalviering het die Moederkerk sy nagmaalservies vir die gemeente geleen.)

Voordat die bou van die kerk kon begin, was daar belangrike verwikkelings. Die Moederkerk was besig om sy orrel te herbou en, in die proses, het waardevolle orrelpype, veral houtpype met suiwer basklanke, wat in 1857 in Engeland vervaardig is, oortollig geraak. Die boot, The Royal Arthur, wat die pype na Suid-Afrika verskeep het, het in April 1857 aan die Franse kus tydens ‘n storm gestrand. ‘n Deel van sy vrag, ook die orrelpype, is gered. Van hulle is egter deur seewater beskadig en is deur die orrelbouer, Hill, vervang. Prof GG Cillie jnr kon nie toesien dat hierdie ryp houtpype verlore raak nie, en het dadelik planne beraam om hulle êrens te gebruik. Hy was daarvan bewus dat die nuwe gemeente sou kerk bou en dus ‘n orrel sou benodig.

Op 11 Mei 1953 bied hy aan om, as sy bydrae, die spesifikasies vir ‘n orrel gratis op te stel en toesig te hou oor die bou van die orrel. Die oortollige pype was natuurlik deel van sy spesifikasies. Orrels kan nie van die rak gekoop word nie en moet vroegtydig bestel word. Die tender van Cooper, Gill en Tomkins vir £4085 is derhalwe in geloof aanvaar nog voordat daar enige planne vir ‘n kerkgebou was.

Dieselfde probleem van beskikbaarheid het ook vir die kerkhorlosie en klok gegeld. Die Kerkraad besluit derhalwe op 11 Mei 1953 om WW Keay se tender van £1063.18.0 volgens sy spesifikasies te aanvaar. Dit was miskien ‘n waagstuk maar hy was destyds blykbaar die enigste firma wat hierdie dienste kon lewer. Die klok sou spesiaal in Duitsland gegiet word en moes ‘n duidelike G-klank hê.

DIE BOU VAN DIE KERK

Mnre JW Roux en TJ Neethling besoek verskeie argitekte en beveel mnr JB Collins aan, omdat hy belowe het om slegs die koste van die planne, as fooi, te verhaal. Ander argitekte was nie bereid om hul fooie te verlaag nie sodat die Kerkraad mnr Collins se aanbod, aanvaar. Toe hy later egter gekonfronteer is oor sy fooie, verklaar hy dat hy, volgens die argitekskode, verplig is om die volle fooi te vra, maar dat hy ‘n ruim bydrae sou maak. Dié bydrae blyk later £100 te wees, terwyl die fooi ongeveer £1500 was. Die opdrag was dat die kerk nie ultra modern moes wees nie, maar iets van die oue moes bevat, soos ‘n Gotiese boustyl en kurwes.

Vervolgens moes die Kerkraad kies tussen ‘n kruiskerk of ‘n enkelvoudige skip sonder vleuels. Voorkeur is verleen aan laasgenoemde en die argitek se tekenaar, mnr J van Ryswyk, het onmiddellik begin werk. Na verskeie voorleggings, is op 9 September 1953 besluit om die finale planne te aanvaar. Dit was die eerste vergadering wat nuutgekose diaken GF Loedolff bygewoon het. Na ‘n vlugtige blik op die planne besef hy, met sy ingenieurservaring, dat die planne eers deeglik ondersoek moes word en versoek die Kerkraad om die planne aan hom beskikbaar te stel.

Na deeglike ondersoek en voldoende inligting ingewin is oor pasvoltooide kerke soos dié van Gansbaai, Ceres, Wolseley en andere, het Loedolff op die Kerkraadsvergadering van 10 Desember 1953 formeel voorgestel dat die planne verwerp word. Hy het ‘n hele aantal tekortkomings uitgewys en, onder andere, getoon dat daar ernstige probleme met die akoestiek sou wees en ook bewys dat die koste, soos voorgestel, uiters optimisties was en nie haalbaar sou wees nie. Na ‘n bespreking het JJ Kritzinger gevra dat die argitekstekenaar, mnr Van Ryswyk, moes antwoord op die kritiek. Sy woorde was verdoemend: “Ek stem ten volle saam met wat Loedolff gesê het.” Die Kerkraad was stomgeslaan en het ‘n formele mosie aanvaar dat kennis gegee word van ‘n mosie dat al die planne herroep word. ‘n Spesiale Kerkraadsvergadering is belê vir 21 Desember 1953 waarop die mosie finaal aanvaar is en die vorige planne finaal gekelder is.

Dit blyk toe dat daar etlike misverstande was en dat die argitek se opdrag nie voldoende beskryf is nie. ‘n Komitee bestaande uit DD Joubert, JG Carinus, JJ Kritzinger, TJ Neethling en GF Loedolff is saamgestel om verskeie kerke te besoek, mnr Collins te ontmoet en om hom van nuwe, meer volledige opdragte te voorsien met die oog op ‘n meer ekonomiese en doelmatige kerkgebou. Daar is gevoel dat kerkgangers meer kontak met die prediker moet hê en dat ‘n langwerpige kerkvorm nie net onekonomies is nie, maar dat dit onpersoonlik kan wees. Die kerkvorm, soos dié van Somerset-Wes se Moederkerk, was meer aanvaarbaar, maar mnr Neethling het gevoel dat iets van ‘n Gotiese vorm ook ingesluit moet word. As voorbeeld is die Lutherse kerkie op Groentemarkplein besoek en sy ingang, aan die oostekant na die plein, is aan die argitek uitgewys as ideaal.

Mnr Collins wou nie die Komitee op hul besoeke vergesel nie, maar het verkies om alleen in die kerk in Somerset-Wes te gaan sit om die kerk se atmosfeer te ervaar. Nadat die argitek volledig ingelig is oor die Kerkraad se behoeftes, het hy met nuwe planne na vore gekom. Na etlike kleiner wysigings, byvoorbeeld dat die koorgalery se plafon moes lig om vir die lang orrelpype voorsiening te maak, is die planne op 10 Mei 1954 finaal aanvaar en kon die bestekopnemers voortgaan en die tenderdokumente voorberei. Daar sou 462 sitplekke in die kerk, 64 op elke galery en 40 vir die koor beskikbaar wees. Gurney & Anderson is as bestekopnemers aangestel terwyl die firma, Stubbs, vir die struktuurstaal en beton verantwoordelik sou wees en die firma, Williams, vir die elektriese werke en beligting.

Nadat alles afgehandel en die terrein gereed gemaak is vir die bouery, is volgens die planne ontdek dat die kerk ongeveer 100 vt vanaf Alexanderstraat en Papegaaistraat sou staan. Dit is beskou as onnodig ver en die afstande is na 70 vt verminder. Hierdie plasing sou minder druk op die orige gronde plaas en meer ruimte laat vir verdere ontwikkeling. Verskeie persone het etlike pogings aangewend om die terrein te beplan, maar elkeen moes uitvind dat dit geen maklike taak is om die terrein sinvol te beplan nie, sodat die terugskuif van die kerk tog as wys beskou is. Teen hierdie tyd was die Finansiële Komitee, onder mnr JG Carinus se bekwame leiding, besig om, waar moontlik, geld te leen teen die beste voorwaardes. Die NG Kerk se Komitee van Toesig en Kontrole was bereid om £8000 teen ‘n rentekoers van 5% te leen en die Rozenhof Trustfonds sou £16 000 leen. Die werk is in geloof aangepak en, met die lidmate se ruim bydraes, het daar eintlik nooit ‘n krisis ontstaan nie.

Die boukontrak ten bedrae van £23 209.13.0 is aan mnr PWJ Hougaard met sy bekwame voorman, mnr JC Carstens, toegeken. Mnr Kuipers het die kontrak van £1289 vir die elektriese werke, apparaat en ligte gekry terwyl die Paarlse Meubelmakers van die tweeling broers De Villiers, die kontrak vir £3467.10.0 gekry het vir die banke en paneelwerk van berkehout.

Nadat die gebou uitgepen is, het die sooispit-geleentheid, waarby ds AF Louw en prof GBA Gerdener opgetree het, op 22 September 1954 plaasgevind. Ds van Velden het die eerste sooie gespit, daarna het etlike lidmate meegedoen, terwyl Dirk Joubert van La Provence, gewys het hoe ‘n mens ‘n graaf hanteer! Tant Grietjie Roux van Bordeaux, Vlottenburg, het op 91 jarige ouderdom ook ‘n sooi gespit. Sy is op die rype ouderdom van 101 jaar oorlede.

Teen hierdie tyd was daar reeds ‘n berg sand (ongeveer 149 vragmotor- en sleepwavragte) op die terrein, geskenk en aangery deur Paul Roux. Dit was Stellenbosch se beste bou- en betonsand, ‘n uiters waardevolle skenking, aangesien die bouer nie sand moes koop nie en hy dus dié item uit sy berekenings kon laat.

GF Loedolff, wat naby gewoon het, is gevra om as toesighouer oor die bouery op te tree. Reeds van die begin af was daar hartlike samewerking tussen die bouer mnr Hougaard, sy voorman mnr JC Carstens, die argitek en die toesighouer, sodat die werk vinnig gevorder het. Net voordat vloerhoogte bereik is, het die argitek die Boukomitee voor ‘n keuse gestel: ‘n skuins vloer na die preekstoel, of ‘n gelyk vloer? Laasgenoemde is verkies.

Net meer as ‘n maand nadat die eerste sooie gespit is, het die volgende geleentheid, die hoeksteenlegging, op 27 November 1954 plaasgevind. Ds van Velden het die hoeksteen simbolies gelê, prof JJ Muller het die boodskap gelewer en die kerkkoor, onder leiding van mev Blok, het opgetree. Onder die hoeksteen is nie eietydse geldstukke en note ingemessel, soos dit die gebruik destyds was nie, maar wel die program van dié geleentheid en ‘n plaaslike koerant.

Nou moes die gemeente fondse insamel. Die vrouens het onderneem om £5000 in te samel vir die orrel en vir die aankoop van ‘n klavier. Die jongmense en kinders sou werk vir die klok en horlosie met ‘n doelwit van £1200, terwyl die mans voluit sou werk vir die bou van die kerk. Almal het hartlik saamgewerk en oom Johnnie Carinus se insameling en verkryging van finansies en lenings kan nie onderskat word nie. Hoewel dit hom gegun was om te sien hoe die kerkgebou vorm aanneem, sou hy nooit die voltooide produk sien nie, want op 11 April 1955 is dié ware strydros te Pietersburg oorlede. Oudl HC Ackermann is ook tragies op 6 Junie 1955 in ‘n treinongeluk oorlede en in ongeveer dieselfde tyd is Paul en Rena Roux se babadogter Mari-Louise oorlede. Ds van Velden het op die Sondag na Mari-Louise se dood, in sy boodskap treffend daarop gewys dat, of jy net ‘n paar maande, 50 jaar of 80 jaar oud is, alle lewens kosbaar is in die oë van die Here.

Soos die bouwerk gevorder het, het bydraes ingestroom. Onder andere, is die volgende skenkings aangeteken, behalwe dié wat reeds vroeër genoem is:

JJ Kritzinger: Haan op die toring en die blitsafleier JHJ van der Merwe: Doopbak en blomstaander GJ Krige: Een van die kerk se deure (£100) AS Austin: Vlekvrye staalbak vir die doopfont Firma Edrich (mnre Swart en Lubbe): Preekstoel stoele SP en DD Joubert : Spreiligte om die toring te verlig TJ Neethling en seun: Preekstoel ontwerp deur Spears en gebou deur Brimble en Briggs WD Ackermann : Kollekteborde Mnr en mev Verwey: Tafel in die moederskamer, aanvanklik as kombuis benut AH Brink: Drie groot swarthoutstompe van sy plaas G Blake: Die opsaag van die stompe GH Starck: Die vervaardiging van 48 swarthout stoele vir die konsistorie De Villiers broers van Paarl Meubelmakers: Psalm- en Gesangborde Mev M Olivier: Gehoorstelsel SW Walters: Nagmaaltafel JAF Oosthuizen: Konsistorietafel, op veiling gekoop van landmeter Krige, Dorpstr. N Momberg, H Louw en P Louw: Mazista leiklippe vir plaveisel rondom die kerk JP Neethling: Alle vervoer, ook van leiklippe en gruis vir die parkeerterreine P Roux: Alle sand vir die bouwerk op die terrein gelewer G van Niekerk en WG Brynard: Tafeltjies by ingange

Etlike lidmate het geld in hul testamente aan die kerk bemaak en van ‘n hele aantal anonieme skenkers is tot £400 en meer ontvang. Tydens Loedolff se ondersoek na pryse en planne van kerke, het ‘n predikant hom ernstig gewaarsku om bedag te wees op Satan se aandeel. Hy het baie duidelik gewaarsku dat wanneer ‘n kerk gebou word, die Satan een van die ywerigste helpers is – natuurlik om sake te beduiwel. Daar is hard probeer om sy slinksheid uit te skakel, maar nie altyd met eweveel sukses nie. So het ons almal, bouers en toesighouer, veronderstel dat die argitek die galerye so ontwerp het dat die liturgiese deel voor die preekstoel ook vir sittendes sigbaar sou wees. Die argitek het later erken dat hy dit nie ondersoek en bevestig het nie. Nou het ons steeds die probleem dat die predikant wel sigbaar is, maar nie die deel voor die preekstoel nie. Wat die koorgalery betref, kon die verbasing op die argitek se gesig gelees word toe hy op die betonvloer agter die orrel staan en nie die preekstoel kon sien nie. Die koorbanke is toe op ‘n hout stellasie geplaas sodat koorlede die predikant kan sien. Dis tog jammer dat die banke op die galerye ook nie destyds gelig is nie. Mnr DJ Loubser het later die voorste ry banke van die orrelgalery gelig.

Die moeilikste deel van die bouery was om die Gotiese vorm van die hoofvensters te giet. Met goeie beplanning en vakmanskap onder mnr Carstens se bekwame leiding, is dit suksesvol voltooi om die buite-aansig van die kerk inderdaad te versier. Ons glo dat dit ‘n aanwins vir Stellenbosch is.

Die toringspits het ook probleme opgelewer. Die staalraamwerk is op steiers langs die toring geplaas, beplank en met koperplate bedek terwyl die windrigtings en weerhaan bevestig is deur mnr Hine. Daar sou nie weer geleentheid wees om die weerhaan se as te olie nie, dus is dit deeglik met ghries gepak. Die toring is daarna stadig opgehys, ingeskuif en in sy regte posisie gevestig.

Probleme het ook nie weggebly nie. Baie vinnig het die opgeloste koperoksied van die koperplate op die kerktoring afgeloop en dit lelik gevlek. Mnr Collins was nogal opgewonde hieroor want, volgens hom, het dit ‘n indruk van oudheid gewek. Die lidmate en Kerkraad was egter nie tevrede nie en, op advies van Loedolff, is ‘n geut onder die koperbeslag aangebring om te verhoed dat die afloopwater op die toring beland. Dit het uitstekend gewerk sodat daar nie verdere vlekke voorgekom het nie.

Aanvanklik het die toring ook gelek. ‘n Keermuurtjie binne die toringbasis het die probleem opgelos deur die water wat inlek op te vang en onder beheer uit te laat. ‘n Soortgelyke probleem het by die horlosiegesigte voorgekom waar veral die noord-weste wind water langs die rame ingedryf het. Dit was voor die dae van silikonrubber, sodat ‘n keermuurtjie weereens gebruik is om die water wat inlek op te vang en dan beheerd uit te laat.

Die argitekte was aanvanklik van mening dat die koperplaatbedekking met koperspykers vasgespyker kon word en het so ‘n eeu-oue fout herhaal. Die groter uitsettingsvermoë van koper as dit warm word en krimpvermoë wanneer dit afkoel, teenoor dié van die hout waarop dit vasgespyker is, het met verloop van tyd die spykers losgewikkel. Die suigkrag van sterk winde het die plate begin aflig sodat hulle sigbaar losgeraak het. Paul Roux en ‘n paar rotsklimmers het teen die toring opgeklim en die plate weer vasgespyker. Dit was vergeefs omdat die oorsaak nie verwyder is nie. Oral in die wêreld is daar dakke wat suksesvol met koper beklee is, sodat daar ‘n oplossing moes wees. Die fout was dat die plate te stewig vasgespyker was sodat geen beweging toegelaat is nie. Die korrekte manier is om gerolde lasse te maak en spykers te beperk. Later is ‘n stellasie om die toring opgerig, die plate verwyder en op die korrekte manier, met behoorlike lasse gemaak deur plaatmetaalwerkers wat die kuns verstaan om dit te doen, teruggeplaas. ‘n Soortgelyke fout is ook by Stellenbosch Moederkerk gemaak toe die ou verweerde koperplate vervang is en die werk later oorgedoen moes word.

Die weerhaan het ook op ‘n stadium vasgehaak; ‘n verkeerde ghries wat hard geword het, is dalk gebruik. Mnr HH Smit vertel dat hy vanaf mnr Theron Smit se huis, skuins oorkant in Alexanderstraat, die haan se stert met ‘n loodkoeël raakgeskiet het om dit los te kry. Die haan het blykbaar so groot geskrik dat hy vir ‘n lang ruk lustig gedraai het totdat hy nou onlangs weer vasgehaak het! Toe dié skietery rugbaar geraak het, het die dominee een oggend van die kansel mooi gevra dat daar nie weer na die haan geskiet moet word nie. Die haan is van staal, beklee met brons sodat, indien ‘n koeël dit tref en die beskermende brons gebreek word, die staal blootgestel word en kan roes.

Die klok het ook probleme opgelewer. Dit het sy eie ossilerende stelsel om die hamerslag te beheer. Die slagritme is vas en kan nie verander word nie, al word daar ook hoe hard probeer om die klok vinniger te laat swaai. By meer as een geleentheid moes Loedolff die klok terugdraai, nadat ‘n nuwe koster of predikant die klok vinniger (of stadiger) wou laat slaan deur die swaai van die klok self te versnel. Dan het die klok gewoonlik bollemakisie geslaan en die steel van die hamer wat aan die horlosie gekoppel is, gebuig. Loedolff moes dan die hamersteel terugbuig en die klok weer omkeer. Hy het ook ‘n ogie oor die horlosie gehou en het in die begin geduldig die horlosie se tyd ingestel en sodoende verhoed dat die horlosiebouers uit Kaapstad ontbied word om dit te doen. Die betondak oor die orrelgalery het ook op ‘n stadium gelek, maar is permanent herstel deur nog ‘n laag waterdigting aan te bring.

Die blokkiesvloer van Irokohout is deur mnr Mostert gelê. Die feit dat geen blokkie ooit losgeraak het nie en dat dit so netjies gelê is, spreek boekdele vir sy vakmanskap. Die volgende aan die beurt was die banke van berkehout. As ‘n monster het Paarl Meubelmakers ‘n kort bankie wat agter in die kerk sou pas volgens argiteksvoorskrif gemaak. Dit was nie gemaklik nie, dus is ‘n tweede proefbank met ‘n breër sitplek gemaak. Dit was ook nie baie bevredigend nie. Toe het Pieter, ds Van Velden se seun, hom daarop gewys dat die banke in die Studentekerk baie smal, maar tog gemaklik is. Na ondersoek deur die Meubelmakers en die argitek is ‘n derde bank gemaak; dit was aanvaarbaar en is as model gebruik. Een van die afgekeurde banke is wel agter in die kerk geplaas. Die verskil is so gering dat ‘n mens dit nie dadelik merk nie.

Met die vloere gelê en die paneelwerk aangebring het die orrelbouer aan die beurt gekom. Die orrelpype is reeds afgelewer, asook die Moederkerk se ou orrelpype wat op aanbeveling van dr Cillie gebruik moes word. Die orrelbouer was mnr AX Smith van Cooper, Gill & Tomkins, die verskaffer van die orrel. Elk van die 1260 pype, van klein tot groot, moes afsonderlik afgewerk, gestem en ingebou word. By geleentheid het ds AF Louw, toe reeds afgetree, die kerk besoek terwyl die orrelbouer besig was. Hy groet en stel homself voor as Louw. “Smith,” antwoord die bouer. Volgens sy gewoonte, vra ds Louw, “Mnr Smith, vanwaar is u?” (Ds Louw het, tot by sy oudag, besondere belanggestel in mense, hul vanne en herkoms.) Toe Smith antwoord dat hy van Bloemfontein is, lui ‘n klokkie onmiddellik by ds AF. “Weet jy,” vertel hy, “toe ‘n orrel jare gelede gebou is in een van Bloemfontein se kerke, was die orrelbouer ene mnr Smith en by hom was so ‘n jong seun wat hom gehelp het. Is jy nie miskien familie van hom nie?” Tot ds AF se groot vreugde sê mnr Smith dat dit wel hy was wat sy pa gehelp het en dat hy ds Louw herken het! Die wêreld is soms klein en die ambag van die vader word dikwels oorgedra aan die seun.

Die kansel, vervaardig, uit imbuiahout, is deur mnr Spears ontwerp en deur Brimble & Briggs, die firma vir wie hy gewerk het, gebou. Soos reeds gemeld, is die kansel geskenk deur mnr TJ Neethling en sy seun. Die kanselkleed, met “Vrede vir julle” daarop, is deur mev Anna Neethling, oom Tielman se vrou, geskenk. Sy het dit met die hand geborduur.

Die argitek het oorspronklik voorgestel dat die muur om die kerk die hele lengte van die grond langs Papegaaistraat en Alexanderstraat gebou moes word. Hiervoor was die Boukommissie nie te vinde nie en het wyslik besluit om dit slegs 30 vt verby die kerk aan albei kante te laat bou. Die koste van die huidige muur was destyds net meer as £3000.

Mnre N Momberg, H Louw en P Louw het die leiklip plaveisel om die kerk geskenk. Van die Kerkraadslede het ywerig aangebied om dit self te lê. Na die eerste Saterdag se werk is dit slegs tussen die kerk en die slootjie aan die suidekant gelê, dus het belangstelling om self die leie te lê so gekwyn weens die omvang van die werk en die min Saterdae per week, dat besluit is om die taak aan die bouer oor te laat. Op aanbeveling van mnr Collins is seringbome om die kerk geplant. Dit was nie die beste keuse nie, aangesien hul wortelstelsel later die teerblad beskadig het.

Die hele kerkbouproses is voltooi met die hartlike samewerking van alle betrokkenes. So goed was die gesindheid dat die Kerkraad ‘n horlosie geskenk het aan die bouvoorman, mnr Carstens, en ‘n gemakstoel aan die bouer, mnr Hougaard, wat hierdie as sy laaste groot opdrag beskou het en pas daarna afgetree het as bouer.

KERKINWYDING EN FEESTE

Die hartlike samewerking, harde werk en bou van die kerk was sekerlik die faktor wat die gemeente summier saamgesnoer het. Aanvanklik het ván die ouer garde wat in die Moederkerk “grootgeword” het dit moeilik gevind het om weg te breek, maar toe die kerkgebou eers staan, het hulle reeds die nuwe gemeente bankvas ondersteun. Die kerkinwyding op 17 en 18 September 1955 was inderdaad ‘n geleentheid wat almal finaal gekonsolideer het en kon laat feesvier.

Die kerkklokke het vir die eerste keer op 17 September 1955 om 13:30 gelui, daarna om 14:00 en weer om 14:30, waarna Psalm 84:1 spontaan gesing is deur die gemeente wat voor die kerkdeure aan die westekant vergader het. Na enkele dankbetuigings, het ds AF Louw ‘n gebed gedoen, mnr JB Collins het die kerk se sleutel aan mev Van Velden oorhandig om die kerk oop te sluit, en terwyl die gemeente binnegegaan het, het die koor, onder leiding van mev Ans Blok, Psalm 100 verse 1, 3 en 4 gesing met begeleiding van die orrelis, mev B Smith.

Na afhandeling van formaliteite, soos verwelkomings en groete van die Ring van Stellenbosch, lewer dr AJ van der Merwe van die Groote Kerk Kaapstad en Moderator van die NG Kerk, die wydingsrede met as teksvers Psalm 84:3, “My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here.” Na verskeie kooritems, sluit die konsulent, ds PWJ van Jaarsveld, die verrigtinge met ‘n dankgebed af. Ter stywing van die boufonds kry die gemeente geleentheid vir dankoffers per kollekte.

Om 19:00 is die orrel ingewy met koorsang onder leiding van mev Blok en met ‘n orreluitvoering deur dr GG Cillie. Ds AS Cronje het die wydingsrede gelewer na aanleiding van Psalm 150:1, “Halleluja! Loof God in sy heiligdom.” Tydens die sang- en orreluitvoering het mev Corrie van Eeden enkele altsolo’s gelewer. Die uitvoering is met koorsang, “Heilig, heilig, heilig is die Here” afgesluit. Na ‘n kollekte vir die orrelfonds, is die verrigtinge met ‘n dankgebed en die uitspreek van die seën afgesluit.

Op 18 September 1955 om 09:00 lui die klokke om die gemeente na die erediens te nooi vir die wyding van die kansel en die voorstelling van nuwe lidmate. Die koor tree weer op en ‘n kollekte word weer vir die boufonds opgeneem. By dié geleentheid bedien dr JCG Kotze die Woord na aanleiding van 1 Korintiërs 14:24-25, “Die profeterende gemeente,” ter wyding van die kansel. Na voorstelling van nuwe lidmate deur ds AGE van Velden, sing die koor Psalm 134.

Om 15:00 is daar ‘n diens gerig op die kinders en die jeug, ter wyding van die klok en horlosie. Dit word ingelui deur ‘n voorstelling van “Die Woord van God in beeld” deur ‘n aantal kinders. Ds OSH Raubenheimer lewer die wydingsrede met as teksvers, 1 Petrus 3:15, “Heilig die Here God in julle harte.” Na die eerste doopbediening in die kerk is ‘n insameling per koeverte gehou vir die klokfonds en is die verrigtinge afgesluit met gebed en die uitspreek van die seën.

Om 19:00 is dit die wyding van die ligte en ‘n diens vir jongmense. By hierdie geleentheid tree dr WA Landman op met as teksverse, Johannes 8:12, “Ek is die lig van die wêreld” en Matteus 5:14, “Julle is die lig van die wêreld.” Na ‘n kollekte vir die boufonds en gepaste koorsang onder leiding van mev Blok en begelei deur mev B Smith, volg ‘n dankgebed en is die seën uitgespreek. Voorwaar ‘n vol naweek van feesgeleenthede wat besonder goed bygewoon is. ‘n Vonk het opnuut lewe in die gemeente geblaas en dit was ‘n besondere voorreg om dit te kon beleef.

Die volgende feesgeleentheid is die gemeente se tiende verjaarsdag – om 15:00 Saterdag 24 November 1962, gevier met ‘n wydingsbyeenkoms in die kerk. Ds JS Gericke bring groete van Stellenbosch gemeentes, terwyl ds Van Velden ‘n dankbare terugblik gee en vir hernieude toewyding vra. Prof JJ Muller doen die wydingsgebed. Na insameling van wydingsoffers word verversings op die kerkterrein bedien terwyl die kinders koeldrank en lekkers geniet.

Na etlike gebeurtenisse, soos die aanvaarding van ds AGE van Velden se emeritaat op 12 Mei 1963, die beroep en bevestiging van ds HA Heyns, die afsterwe van ds Van Velden, die bou van die saal, ens., is die eerste kwarteeufees van 20 tot 27 November 1972 gevier. Die verrigtinge het met die viering van die heilige nagmaal begin op Sondagoggend, 20 November, gelei deur ds HA Heyns. Die aanddiens is gelei deur ds IH Verster wat as student op die eerste Kerkraad as diaken gedien het, die eerste onderhoof van die Sondagskool en eerste koster van die gemeente was. Op die gemeente-verjaarsdag, 24 November om 19:30, is ‘n dankdiens en biduur in die kerk gehou. By dié geleentheid het ds JG Steenkamp, leraar van die Sendinggemeente Stellenbosch-Wes (1964-1974), die Woord bedien. Om 20:30 is ‘n rolprent oor die eerste jare van die gemeente tot die voltooiing van die kerkgebou vertoon. Hierdie rolprent is nou op videoband en sal eersdaags beskikbaar wees.

Om die 25-jarige bestaan van die gemeente te vier, is op Vrydag 25 November 1977 ‘n geselligheid en dinee in die kerksaal gehou, met as gasheer en gasvrou, kol en mev JJ Nel, en seremoniemeester, ds HA Heyns. Na verwelkoming van die gaste het dr DJ Hattingh voorgegaan in gebed en Nicol Viljoen het ‘n klaviersolo gelewer. Nadat ds PJ Human die groete van die Ring van Stellenbosch oorgebring het, is die gemeente getrakteer op herinneringe uit die verlede deur dr JS Gericke en Dirk Joubert (J/seun). Lykele en Roelof Temmingh, die orrelis, lewer ‘n viool- en klaviernommer nadat die nagereg bedien is. Daarna is koffie en tee bedien en gekuier tot laat.

Op Saterdag 26 November is ‘n spele-aand vir kinders en jongmense in die kerksaal aangebied en Sondag 27 November om 10:00 het prof HW Rossouw (‘n seun van die gemeente) die feesdiens gelei. Hierna het ‘n konvooi motors na Somerset-Wes vertrek om ‘n krans op die graf van ds Van Velden te lê. Die aand is ‘n jeugdiens deur ds AJ de Klerk (onderhoof van die Sondagskool 1964-1966) gelei, waarna ‘n byeenkoms vir hoërskoolleerlinge in die kerksaal gehou is.

Die volgende 25 jaar was daar nie uitstaande feeste nie, hoewel 24 November elke jaar herdenk is as die kerk se verjaarsdag. Indien die 24ste nie op ‘n Sondag geval het nie, is spesiaal gedink aan die stigtingsdag op die Sondag naaste aan die 24ste.

VERDERE UITBREIDINGS – SAAL, KATEGESE-LOKALE EN PASTORIË

Van vroeg reeds was daar die behoefte aan ‘n saal en, soos die kerkskuld gedelg en onder beheer gebring is, is daar besluit dat ‘n saal gebou moes word. Op 27 Januarie 1969 is ‘n argitek, mnr P le Roux, aangestel om die saal te ontwerp. Aangesien die kerk dominant moes bly, het hy beplan om die saal nie te hoog te maak nie en dit eenvoudig, dog doeltreffend, te ontwerp om by die kerk te pas. Weens sy werkdrukte kon hy nie onmiddellik begin nie en vra dat die Kerkraad hom kans gee tot die einde van die jaar. Die planne is eers in 1971 finaal voltooi en goedgekeur.

Tenders vir die bou van die saal is gevra en CP Konstruksie se tender vir R84 718 is op 9 Augustus 1971 aanvaar. Mnr Basson, die eienaar van CP Konstruksie, het vinnig gewerk sodat die kompleks, bekend as die Jeugsentrum, op 6 en 7 Mei 1972 ingewy kon word. Dit was ook ‘n ware feesgeleentheid wat reeds op Saterdagaand 6 Mei 1972 begin het.

By dié geleentheid oorhandig mnr A Basson die sleutel van die saal aan die koster, mnr JP Neethling wat die saal oopsluit en die gemeente binnelaat. ‘n Kort diens is deur ds AGE van Velden (1952-1963), die vorige leraar, gelei. Hierna volg ‘n woord van dank deur ds HA Heyns, Voorsitter van die Boukommissie, en ‘n kort toesprakie deur die argitek, mnr P le Roux. Die Kweekskoolkoor, onder leiding van mnr (later ds) Louwrens Strydom – toe ook orrelis in die gemeente – sorg vir koorsang uit Psalms 47, 66, 124 en 150. Groete word oorgebring namens die Moedergemeente, ds JG Steenkamp namens die Sendinggemeente Stellenbosch-Wes, en deur dr DJ Hattingh namens die Ring van Stellenbosch. Daarna is die nuwe elektroniese orreltjie, deur Dirk Joubert geskenk, in gebruik geneem deur gemeentesang van Psalm 116 te begelei. Ook die klavier, geskenk deur die vroue van die gemeente, is in gebruik geneem vir enkele klaviersolo’s. Nadat die Kweekskoolkoor weer opgetree het, is die verrigtinge afgesluit met verversings. Op Sondag, 7 Mei 1971, het dr JS Gericke die oggenddiens gelei waarna die kinders na die saal verskuif het waar ‘n kort boodskap ook gebring is. Die aanddiens is waargeneem deur prof WD Jonker, en prof FC Fensham het daarna ‘n praatjie gelewer oor “Nuwe argeologiese ontdekkings en die ou Testament,” toegelig met skyfies.

Die kelder onder die saal se verhoog is dadelik deur die jeug betrek om dit in te rig as ‘n gesellige area en koffiekroeg. Hoewel klammigheid gedurende die eerste wintermaande sake effens bederf het, het die werklike skok die volgende winter gekom toe die kelder met meer as 300 mm water oorstroom was. Oral is raad gevra en die mure, as die sondaars beskou, is op alle maniere diggemaak en selfs met glasvesel bedek. Hoe harder probeer is om die mure waterdig te maak, hoe makiker het die water deur die vloer gesypel wanneer die grondwatervlak gedurende die wintermaande styg. Uiteindelik is die kelder so te sê afgeskryf. Die fout was dat die waterdigting nie van die begin af die nodige aandag geniet het nie.

Om die hantering van die breekware te vergemaklik en hulle op ‘n eenvoudige manier op te berg, het Loedolff die huidige trollierakke ontwerp en laat vervaardig. Dit was ‘n ongewone dog doeltreffende oplossing wat later gevolg is deur Kuilsrivier-Suid toe hulle ‘n saal bou.

Die volgende uitbreiding was die bou van ‘n pastorie op die kerkgronde. Op 9 Februarie 1976 is mnr Pauw, van die firma Pauw & Green, aangestel as argitek. Op 6 Desember 1976 is mnr F Neethling se tender van R53 520 aanvaar en die bouwerk het in alle erns op 21 Februarie 1977 begin. Gedurende Desember 1977 betrek ds Heyns die nuwe pastorie.

Die kerk was redelik vol en, hoewel elke moontlike plek in die saal benut is vir kategeseklasse, was die ruimte steeds beperk. Daar het dus ‘n ernstige behoefte ontwikkel vir ten minste nog tien kategeselokale. Aangesien mnr P le Roux die saal ontwerp het, is hy op 26 Maart 1980 aangestel om ook die aanbouing van kategeselokale te behartig. Mnr Jimmy Basson se tender van R68 500 vir die bou van die lokale is aanvaar en die kontrak vir die werk is op 4 Junie 1981 onderteken. Die bouwerk het goed gevorder sodat die nuwe lokale op 29 Oktober 1982 voltooi en in gebruik geneem kon word. Die finale koste was R83 000.

Na verskeie pogings het die saal se kelder steeds gelek. Terwyl mnr Le Roux besig was met die aanbou van die lokale is hy gevra om ‘n verslag op te stel en aanbevelings te maak vir ‘n finale oplossing van die probleem. Dit is duidelik gestel dat hy geen vergoeding hiervoor sou ontvang nie omdat dit ‘n latente fout in sy oorspronklike plan was. Sy uiteindelike plan was weereens ooglopend foutief deur slegs aandag aan die mure te gee en nie aan die vloer nie. Op voorstel van GF Loedolff is sy verslag en aanbevelings summier verwerp en is Loedolff, as ingenieur, gevra om aandag aan die saak te gee. Sy plan van aksie is voorgelê en die Kerkraad het hom opdrag gegee om voort te gaan met die werk. Die eerste stap was om ‘n vangput (sump) in die vloer te maak waarin die syferwater kon versamel en met ‘n outomatiese dompelpomp uitgepomp word sodra die put te vol word. Toe die vloer deurgebreek is, is gevind dat die beton nie van ‘n baie goeie gehalte was nie, slegs sowat 75 mm dik en sonder enige staalbewapening in die vloer. Die vloer was dus nie behoorlik ontwerp nie, in teenstelling met die argitek se verklaring dat die vloer wel ontwerp was teen waterdruk. Die stelsel het R341.95 gekos en is met behulp van mnre Chris Keyser en Boet Pienaar (elektrisiën) en ander helpers self geïnstalleer.

Hierdie eerste oplossing was onsuksesvol, sodat oorgegaan moes word na die bou van ‘n nuwe vloer waarvan die pomp en vangput deel sou vorm. Vir die tweede fase is volledige planne en spesifikasies opgestel. Dit sou bestaan uit ‘n klipgruis laag, bedek met ‘n waterdigte membraan, gevolg deur ‘n gewapende vloer van goeie beton, dik genoeg om die waterdruk, wat toe bekend was, te weerstaan en nie te dryf nie. Mnr RM Moser, ‘n bouer, het die werk suksesvol verrig vir R3960. Die pomp en vangput is behou en die water onder die vloer kon nou deur die gruislaag na die vangput dreineer. Sodra die water te hoog styg, word dit uitgepomp. Die symuurtjies is hoog genoeg om te verseker dat, selfs gedurende ‘n strawwe winter, die vloer nie oorstroom nie. Die jeug kon weer daar intrek en na byna 15 jaar is die kelder steeds droog, ten spyte van baie nat winters, en word dit tans as stoorplek gebruik.

Die kerk se mure is intussen afgespuit voordat dit geverf is. Die spuitproses het heelwat stof veroorsaak wat die uurwerk van die horlosie binnegedring het. Mnr Keay, die oorspronklike leweransier van die horlosie, het die horlosie weer skoongemaak. Om verdere besoedeling te voorkom, het mnr J van Rensburg ‘n netjiese redelik stofdigte kas teen R350 om die horlosie gebou.

Nadat ds Heyns afgetree het, het ds W van der Merwe oorgetrek na die nuwe pastorie. Die onderhoudkoste van die Herholdstraat pastorie het sodanig gestyg dat besluit is om dit te verkoop en óf ‘n nuwe pastorie te bou óf een te koop. Eers is oorweeg om ‘n nuwe pastorie op die kerkgronde te bou maar, op aandrang van mnr Piet Carinus, wat gepleit het dat die oop erwe langs die kerk nie deur ‘n huis ontsier moes word nie, het die Kerkraad besluit dat huisvesting in Onder-Papegaaiberg verkry moes word sodat die nuwe leraar in daardie gebied van die gemeente kon woon. ‘n Huis, Patrysstraat 8, is intussen as pastorie vir ds en mev RH Dick, wat op 29 April 1989 bevestig is, gehuur terwyl ‘n nuwe pastorie beplan is. ‘n Leë erf op die hoek van Troupant- en Hamerkoplaan wat aan die Munisipaliteit behoort het, en wat oorspronklik vir woonstelle geoormerk is, is gekies. Die Munisipaliteit het aanvanklik R35 000 vir die erf gevra maar, na onderhandelings, bied hul dit aan teen R30 000 op voorwaarde, onder andere, dat dit slegs vir die bou van ‘n pastorie benut word.

Die perseel is aangekoop en mnr Botha Pretorius, ‘n tekenaar, se planne vir ‘n pastorie is aanvaar en op 7 Augustus 1989 gefinaliseer. Mnr ML Joubert bereken dat die koste ongeveer R185 750 (teen R552 per vk m) sou wees indien die Kerkraad as eienaarbouer optree, dus self die bouery onderneem. Die Kerkraad aanvaar hierdie voorstel en die Boukommissie word aangestel om toesig te hou oor die bouery. Mnr Paulsen word as bouer aangestel en begin feitlik onmiddellik met die werk, waartydens mnr JP Ditewig uitstaande dienste verrig met reëlings in dié verband asook die verkryging van boumateriaal. Sy belangstelling, ywer en invloed op die bouproses was van onskatbare waarde. Toe die pastorie teen ongeveer April 1990 voltooi is, kon ds Dick en sy gesin intrek. Hier is weer met ‘n kelder probleme ondervind – die inhoud muf weens ontoereikende ventilasie en lugbeweging. Die Kerkraad laat vervolgens die nodige herstelwerk doen.

Gedurende 2000 is die patio oorkant die kombuis in die kerksaal toegebou en in ‘n doelmatige jeuglokaal met ‘n gesellige kaggel omskep. Dit is ook gebou om as moederskamer, met kringtelevisie tydens kerkdienste, te dien. Die gronde om die kerk is eers bedek met gruis, gratis verskaf deur JP Neethling. Met reën was dit egter onvermydelik om met modderskoene die kerk te betree, dus net na die bou van die saal in 1978, is besluit om die hele gebied met asfalt te bedek.

Die seringbome om die kerk het wel skaduwee verskaf, maar ‘n behoefte vir meer bome en skaduwee het ontstaan. Die gronde ten ooste van die kerk is eers verhuur en bewerk en, by geleentheid, het mnr AA Krige dit selfs met gladiolusbolle vir snyblomme beplant. Die leivoor is eers in stand gehou en die gebied met leiwater besproei met die kerk se leiwaterbeurt. Hierdie situasie het wel die gronde om die kerk nie nutteloos gelaat nie maar dit was ook nie juis winsgewend nie, dus is later met die leiwatersloot weggedoen, die grond gelykgemaak en met gras beplant.

Die behoefte vir verfraaiing en koelte het die Kerkraad oorreed om bome te plant. Hier is Paul Roux se ywer weer ingespan. Hy wou self ‘n laning Italiaanse eike op sy plaas plant, maar kon nie genoeg bome plaaslik kry nie. Na aanleiding van ‘n advertensie in die Landbouweekblad, besoek hy die Tweespruit Kwekery in die Vrystaat. Hul groter boompies was reeds bestel, maar kon kleiner boompies te verskaf. Drie weke later word 30 boompies, 40 cm hoog, in swart plastiekhouers teen 55c elk op Stellenbosch-stasie afgelewer. Omdat die bome te klein was, plant Paul hulle eers in sy tuin om hul groter te maak. Drie jaar later, nadat die saal gebou is, plant hy die bome op die kerkgronde. Vandag versier hul die terrein en verskaf skaduwee wat baie welkom is gedurende die somermaande.

Om voldoende water te voorsien vir die grasperke en tuine om die kerk (hoofsaaklik beplan deur mevv Van Velden en Neethling) sou die Kerkraad jaarliks ‘n aardige som gekos het indien Munisipale water aangekoop moes word. Intussen het Van der Stel Voetbalklub vir water geboor en sterk water gekry. Ouderling Crafford stel toe voor dat op die kerkgronde ook vir water geboor word. Mnr Piet Carinus voer sake dadelik verder, stel ‘n waterwyser aan om die beste boorplek aan te wys en kry ‘n boormasjien om die werk te doen. Sterk water teen 9000 gelling per uur (40 000 liter p u) op 122 vt (37 m) is raakgeboor teen ‘n koste van R579.38. Die pompe en pypwerk het R4768.24 gekos, terwyl van die boere gehelp het om die stesel te installeer teen ‘n beraamde koste van R2300.

Hiermee was die Kerk se besproeiingsprobleme opgelos, maar ook nie sonder probleme nie. Die water bevat spore van yster wat neig om die mure waarteen dit spuit, geel te kleur. Dié probleem veroorsaak dat die mure dikwels geverf moet word. Die sproeiers is later, waar moontlik, so gestel dat hul nie direk teen die mure spuit nie.

ORRELISTE EN KERKKOOR

‘n Klavier, geskenk deur mev Swart, was die eerste musiekinstrument om gemeentesang te begelei. Mej Marianne Stipp (later mev SAS van Zyl) het haar dienste as klavierbegeleier gratis aangebied totdat mev B Smith, die eerste orrelis, dié taak op 18 Julie 1955, net voor die kerkinwyding, oorgeneem het. Telkens, wanneer die Kerkraad met mej Stipp wou onderhandel oor vergoeding was haar reaksie, “Niks vir my nie, gee dit liewers vir die orrelfonds.” Marianne het dié rare gawe gehad om Psalm 95 lekker singbaar te begelei, iets wat meer ervare orreliste soms nie kon regkry.

Reeds vroeg in 1953 het mev Ans Blok aangebied om die koor te lei. Sy was ‘n ware inspirasie en ons het spoedig ‘n sterk koor gehad. Haar keuse van liedere, ook dié van haar oorlede man, G Kroes, was besonders. Haar besondere ywer het gelei tot die uitvoering van etlike kantates, oratoria en ander uitvoerings van hoë gehalte. Een uitstaande geleentheid was die Kersoratorium van 24 November 1956. Sy het ook die koor goed afgerig vir gepaste liedere met die eerste sooispit-geleentheid, die hoeksteenlegging en, uiteindelik, die kerkinwyding. Van die oorspronklike koorlede is nog net mev A Goosen en GF Loedolff oor.

‘n Ander uitstaande gebeurtenis was die eerste orreluitvoering van die blinde orrelis, mnr AC van Velden, van die Strooidakkerk, Paarl, ons predikant se broer. Wat ‘n voorreg was dit om Psalm 33 deur hom gekomponeer en onder sy begeleiding, te sing. Die koor, deur mev Blok afgerig, het eers gesing en daarna het die gemeente lustig saamgesing.

Nadat mev Smith as eerste orrelis aangestel is op 18 Julie 1955, het mev Blok voortgegaan met koorafrigting tot 9 Oktober 1961 toe sy uitgetree het en plegtig afskeid geneem is van haar as koorleier. Daarna het mev Smith die koor gelei tot sy teen die einde van 1961 ook as orrelis uitgetree het.

As orrelis neem prof GZ van der Spuy op 1 Januarie 1962 oor en benut sy sangtalent, soos mev Blok, om die koor tot nuwe hoogtes te lei. Terwyl prof Van der Spuy by geleentheid oorsee was met studieverlof, het prof R Ottermann waargeneem. Teen die einde van prof Van der Spuy se termyn, was hy dikwels ongesteld; toe het mev C Celliers en mej M Uys uitgehelp. Op 15 Julie 1970 bedank prof Van der Spuy finaal uit sy pos as orrelis. Hy wou vroeër reeds bedank, maar die Kerkraad het hom telkens oorreed om aan te bly. Sy broer, mnr HH van der Spuy, het ook vir ruim ‘n jaar waargeneem.

Gedurende die volgende jaar was mnr P de Lange die orrelis en is opgevolg deur mnr WML Strydom tot einde 1972. Die koor het steeds voortgegaan onder leiding van mnre Van der Spuy en De Lange. Met sy besondere gawe en ywer het mnr Strydom nuwe lewe in die koor geblaas. Dit was besonder aangenaam en inspirerend om onder sy leiding te sing.

Prof Roelof Temmingh het aan die begin van 1973 die koorleiding oorgeneem. Verskeie lede het kort daarna verhuis en toe belangstelling daal, het die koor uiteindelik ontbind. Ons is bevoorreg om steeds die dienste van prof Temmingh te benut.

Enkele jare later het mev Maggie Visagie weer ‘n koor op die been gebring. Na haar dood het mev Anita Fouché die koorleiding oorgeneem en weer ‘n koor opgebou. Twee van die oorspronklike koorlede van 1953, mev A Goosen en GFLoedolff, het weer aangesluit. Mev Fouché het vir ongeveer drie jaar leiding geneem totdat dit vir haar te veel geword het om dié werk saam met haar ander aktiwiteite te behartig. Sedert 1998 is daar met weinig sukses pogings aangewend om weer ‘n koor te stig.

Onder leiding van mev Emsie Human het ‘n groepie lidmate met liefde vir musiek en, in die besonder, kerkmusiek om God te verheerlik, saamgekom en ‘n musiekbediening begin. Hul liefde vir musiek wou hulle graag met mekaar deel maar ook gebruik in diens van die Here omdat musiek almal se verheerliking van God as skepper en verhoorder van gebede, so effektief uitdruk. Hierdie groep neem nou leiding met gemeentesang voor die oggenddienste, asook met ander sake rakende musiek in die kerk as ‘n bydrae tot effektiewe godsdiensstrukturering. Die doel van hierdie groepie is ook om die gemeente te help om bekende liedere beter te sing en onbekendes te leer liefkry. Soli deo gloria.

DIE KATEGESE

Hoewel ds Van Velden die beroep na Stellenbosch-Wes reeds aanvaar het, maar nog nie bevestig is nie, het hy saam met die Kerkraad besluit dat die Sondagskool reeds aan die begin van die nuwe skooljaar in 1953 tot stand moes kom. Die eerste onderhoof, IH Verster, is bygestaan deur die eerste sekretaris, Jannie Malan, sodat die eerste Sondagskoolklasse reeds op 26 Januarie 1953 ‘n aanvang kon neem. Alle moontlike ruimtes in die DS Bothasaal, soos kleedkamers en kantore, is vir die klasse gebruik. Gelukkig was die Sondagskool by Vlottenburg nog aan die gang wat die druk op ruimtes vir die dorp se Sondagskool verlig het.

Na mnr Verster, het mnr CGS Volschenk (oom Vollie), betrokke by die CSV, die leiding oorgeneem. Hy het dié taak verrig totdat die nuwe gemeente gevestig is. Hierna is die leiding kronologies geneem deur mnre CE Matthee, CS Bredenkamp, H Liebenberg (1960-63), AJ de Klerk (1964-66), G F Loedolff (1966-1989), Hannes van der Walt (tot 1991), Johan Grobler (vanaf 1992), Chris de Waal, en Johan van der Merwe. Tans is mev Mariëtta van der Worm die onderleier van die hele kategese.

Klasse was oral versprei in die kerkgebou, wat dit soms bemoeilik het vir die Kategete. Nadat die saal in gebruik geneem is, het die juniors (sub A-std 4) onder leiding van Loedolff in die saal vergader, terwyl die seniors (std 5–std 9) in die kerk onderrig is onder leiding van mnr NJ de Kock, die onderhoof.

Die kindergetalle het gegroei en toe die senior groep van Vlottenburg aansluit, word nuwe lokale ‘n dringende behoefte. Gelukkig was die Kerkraad te vinde vir die skep van nuwe lokale en is tien nuwe lokale aangebou, toegerus met die modernste kryt- en viltbordgeriewe, ontwerp deur Loedolff. Toe die nuwe lokale in gebruik geneem is, was die Sondagskool juniorledetal alleen oor die 200. In 1990 het dié getal gestyg tot 240, en die seniors tot 140.

Die aantal kinders het die kerk tot oorlopens volgemaak, sodat in 1973 besluit is dat die juniors gedurende die eerste deel van die erediens, wat ‘n kort boodskap vir hulle sou insluit, in die kerk sou bly en na ongeveer 20 minute, tydens die sing van ‘n gesang, die kerk sou verlaat vir Kategese van 40 minute in die saal. Aanvanklik is daar gevrees dat dié kerkverlating steurend sou wees en te lank sou duur. Hulle het egter die kerk binne twee minute verlaat, sonder enige steurnis. Die senior groep het die volle diens en daarna hul kategeseklasse bygewoon.

Hierdie stelsel is vir enkele jare gevolg maar, weens die beperkte ruimte in ‘n oorvol kerk met die bywoning van die junior kinders, is besluit dat ‘n kinderdiens vir die juniors elke Sondag in die saal gehou word. Die diens het 10 minute voor die kerkdiens begin en het ongeveer 30 minute geduur. Dit was ‘n volwaardige kerkdiens met ‘n predikant en betaalde orrelis. Mev Visagie was die eerste klavierbegeleier van die sang. Daarna het mej Goosen (dogter van mnr en mev Johan Goosen), mev Arina Carstens, en laastens mej Jo-an Jordaan die begeleiding waargeneem.

Gedurende 1975 is aan mnr Fanie Goosen die taak opgedra om die kollektes in te samel tydens die kategese en om ook as koster te dien. Menige Saterdagaand het hy man-alleen die stoele in die saal reggesit en gesorg dat alles in orde is. Hierdie taak verrig hy steeds getrou en met groot liefde.

Die senior groep woon steeds die kerkdienste by en vergader daarna in die saal vir kategese. Nadat mnr De Kock die tuig neergelê het, het teologiese student, Wilhelm Burger, oorgeneem, gevolg deur prof P Human, mnre C Ackermann, B Cronje, C Keyser (in 1989), WJ Moller (in 1990), Hennie Barnard, Carl van der Merwe en Ben Malan. Tans is mev Mariëtta van der Worm aan die hoof.

FUNKSIES

Met Kersfees 1956 is die eerste Kersboomfunksie deur mnr PJ Carinus gereël. By dié geleentheid was daar ‘n kerssangdiens en na die diens het elke kind ‘n pakkie lekkers gekry. Mnr W Ackerman het die lekkers kosprys by De Wets, waar hy werksaam was, se kruideniersafdeling gekry. Die vorige aand het die jongmense en dié wat nog nie met vakansie vertrek het nie, die lekkers in pakkies opgemaak.

Hierna was daar vir ‘n aantal jare gereeld Kersboomfunksies met lekkers vir die kinders totdat mnr Ackerman uit die gemeente verhuis het. De Wets se kruideniersafdeling het gesluit en die lekkers het later te duur geword. By al hierdie funksies, het veral die Kinderkrans kinders ‘n voorstelling aangebied.

By geleentheid is die klavier voor die preekstoel geskuif. Dit het ‘n onberekende beweging gemaak en sy hoek het die kanselkleed geskeur. Die Kerkraad het eers oorweeg om die leerbekleedsel te vervang met houtpanele. Gelukkig het hul weer mnr Spears, die ontwerper van die preekstoel, geraadpleeg. Hy het onmiddellik dié plan afgekeur en aanbeveel dat slegs die beskadigde paneel vervang word, wat teen 1969 gedoen is.

‘n Sondagskool sonder ‘n jaarlikse piekniek was ondenkbaar. Aan die begin van 1957 is ‘n waatlemoenfees gereël by die Plankenburgrivier. Vir enkele jare was dit die aangewese plek totdat later verskuif is na die kampterrein in Jonkershoek, waar die Landsdienskamp nou staan. Die volgende mooi terrein, De Oude Molen, Wemmershoek, met ‘n groot swembad, poele vir die kleintjies, en plek vir die ouers om te ontspan, was ideaal geskik vir dié doel, dus is dit vir etlike jare gebruik. Die ingangsfooie en die (dikwels) nie-beskikbaarheid van die terrein, het na die laaste piekniek in 1989, die terreinkeuse laat verskuif na Katryntjiesdrift, Wellington. Waatlemoenfeeste op die kerkterrein het nie aan verwagtinge voldoen nie, sodat dit later afgeskaf is.

DIE SONDAGSKOOL BY VLOTTENBURG EN LYNEDOCH

Lynedoch

Die Sondagskool by Lynedoch is onder leiding van ds AF Louw in 1943 gestig, met mnr Paul Roux as leier omdat dit te ver van Stellenbosch was vir studente om per fiets daarheen te ry om dié klasse daar aan te bied. Hiermee is be-oog om meer formele, georganiseerde onderrig aan te bied.

Die vergaderplek was die huis van mnr Ackerman, plaasbestuurder van Welmoed Ko-op Wynkelder. Die ou herehuis het etlike vertrekke gehad, sodat ‘n groot vertrek afgestaan kon word vir die Sondagskool. Verskeie dames het oor die jare vir Paul bygestaan met onderrig veral van die kleiner kinders. Mnr Herman Prins, tweelingbroer van prof FX Prins van die Departement Tandheelkunde van die Universiteit van Stellenbosch, het sy dienste aangebied en het vir jare klasgegee terwyl Paul die katkisante onderrig het. Toe die gemeente Stellenbosch-Wes in 1952 gestig is, was hierdie Sondagskool reeds goed gevestig.

Teen die einde van 1962 is Herman verplaas terwyl Paul, na 20 jaar diens, ook besluit het om uit te tree. Die ouers is intussen aangemoedig om hul kinders na Stellenbosch-Wes se Sondagskool te neem. In 1963 het mnr Tertius Visser beheer oorgeneem, veral met aandag aan kinders wat nie vervoer na Stellenbosch gehad het nie. Mettertyd, soos vervoer verbeter het, het die Sondagskool hier gekwyn en het dié bedrywighede gesluit.

Vlottenburg

Teen die middel veertiger jare was die Sondagskool reeds goed gevestig en was ‘n bate vir Stellenbosch-Wes toe die gemeente afstig. Verskeie Kweekskool studente het dié Sondagskool beman. Onder andere, was teologiese kandidaat, Dawid de Villiers (later professor aan die Kweekskool) verantwoordelik vir die katkisasieklasse, terwyl teologiese kandidaat, AP Treurnicht (later predikant en volksraadslid) die gewone klasse gelei het.

Vlottenburg was maklik per fiets bereikbaar vir studente, sodat daar selde ‘n tekort aan kategete was omdat studente dié geleentheid aangegryp het om deel te neem aan godsdiensonderrig. Die Sondagskool het floreer en in 1970 moes mnr Paul Roux met sy werknemers nog twee klaskamers aanbou om voorsiening te maak vir kinders wat in die klubhuis onderrig ontvang het.

Gedurende 1953 het teologiese kandidaat DJ Schutte en P de Wit buitedienste by Vlottenburg gehou. Hulle is opgevolg deur teologiese kandidaat HB Heymans, HG Louw en teologiese kandidaat IH Verster. Dit word aanvaar dat hulle ook by die Sondagskool as leiers opgetree het. Ander persone wat gehelp het met dié buitedienste se name is onbekend.

Na ‘n kort diens vir almal in die saal, het die kinders na hul klasse verdaag. Daarna het hulle weer in die saal vergader vir die afsluiting.

Vir etlike jare het mej Janet van Velden, Braam se suster, die sang op ‘n klavier begelei. Toe die klavier redelik vals word, is dit in 1976 met ‘n nuwe vervang. Mnr JH Neethling het meer as die helfte van die koste van die nuwe klavier gekollekteer en die res is deur die Kerkraad bygedra.

Soos dit destyds die gebruik was, moes die Sondagskool kinders, psalm- en gesangversies leer, voordra in die klasse, en met die afsluiting sing, saam met Hallelujaliedere. Dit is jammer dat hierdie gebruik oral gestaak is.

Van al die Vlottenburg Sondagskool leiers, word mnr Frans Bezuidenhout seker die beste onthou. Hy was ‘n student in Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch. (Sy vader het by die Spoorweë gewerk en hulle het in ‘n spoorweghuis, suid van die treinspoor by Vlottenburg gewoon.) Frans het ‘n hele aantal jare die leierspos met vrug beman en tot 1975 waardevolle werk onder die jeug gedoen.

Toe Stellenbosch-Wes dié Sondagskool oorneem teen die einde van die vyftiger jare, is besluit dat dié finalejaar katkisante by Stellenbosch-Wes se senior groep moes aansluit en wel by die groep onder leiding van een van die predikante. In 1970 besluit die Kerkraad dat al die kinders ouer as 12 jaar ook die Sondagskool op Stellenbosch moes bywoon, terwyl by Vlottenburg voortgegaan is met onderrig aan jonger kinders.

Van 1975 tot 1977 neem mnr JH Neethling die leierskap van die Vlottenburg Sondagskool oor en word later bygestaan deur mnr CC Nel wat veral die senior kategese lei. Mnre Jan Liebenberg en Jan Niederheitmann het tot 1980 oorgeneem. Die krimpende aantal kinders by Vlottenburg en leiersprobleme lei tot die besluit teen die einde van 1980 om die Sondagskool te sluit en dat die kinders die hoof Sondagskool by Stellenbosch-Wes moes bywoon.

DIE KERKORGANISASIE

Die eerste erediens in die nuwe gemeente, gelei deur ds AGE van Velden, die konsulent, is in die DS Bothasaal gehou op 14 Desember 1952, na aanleiding van Efesiërs 6:11, “Die wapenrusting van God.” Die eerste Kerkraad was hoofsaaklik kerkraadslede van die Moederkerk en hulle is die volgende Sondag, 21 Desember 1952, deur ds Van Velden voorgestel. Die eerste doopplegtigheid (van André Louis Roux) is op 4 Januarie 1953 deur ds GD du Toit waargeneem. Die eerste nagmaalviering is indrukwekkend waargeneem deur ds AF Louw met as teksvers Mattheus 26:50, “Vriend waarvoor is jy hier?”

LERAARS

Die eerste leraar, ds AGE van Velden, is deur dr JS Gericke op 28 Februarie 1953 bevestig. Ds van Velden lewer sy intreepreek op 1 Maart na aanleiding van Kolossense 2:18-19, “Vashou aan die hoof, Jesus Christus.” Op 30 Maart stel hy die eerste nuwe lidmate voor.

Ds van Velden se minsame geaardheid, nederigheid, sterk oortuigings en geloof, het hom by een en almal bemind gemaak. Hy was ‘n ware leier, wie se voorbeeld vir almal ‘n aansporing was tot inniger, dieper geestelike lewe. Maar hy was ook bedeeld met ‘n goeie humorsin – ‘n platjie soos min! Hy was effens hardhorend in die een oor en, by geleentheid, vra sy vrou of hy nie vir haar £5 het nie. Hy vra dat sy in sy regteroor moet praat. Sy vra toe plegtig, “Ouman het jy nie vir my £5 nie?” “Vra liewers by die ander oor wat beter hoor,” reageer hy. Sy vra toe £10 in plaas van £5. “Nee vrou, vra maar liewers by die £5 oor!”

Toe ds Van Velden se gesondheid begin ingee, het hy op 13 Maart 1963 sy demissie aanvaar en sy afskeidspreek gelewer. Die Kerkraad wou nie die gewone afskeidsadres as ‘n dokument vir hom gee nie, en vra vir AJ de Klerk en GF Loedolff om iets te reël. Hul besluit toe om vir hom ‘n foto-album met gepaste byskrifte te gee, om sy verblyf op Stellenbosch in herinnering te roep. Etlike mooi foto’s is gevind en die album is saamgestel. Tot almal se vreugde was hy baie ingenome hiermee.

Ds HA Heyns, die volgende leraar, is op 12 Oktober 1963 bevestig. Op 65 jarige ouderdom moes hy volgens Sinodale besluit aftree. Op 24 April 1988, na ‘n vrugbare bediening van 24 jaar en 6 maande, ontvang hy sy demissie.

Ds Heyns het gedurig verlang na die kansel om die Woord te verkondig, en ná vakansieverlof kon hy nie wag om die kansel te bestyg en te preek nie. Sy toewyding, erns en ywer om die Woord te bedien, is sprekend van sy lewe.

Ds Heyns beleef etlike hoogtepunte. Onder sy leiding, word die kerksaal, pastorie in Papegaaistraat en die kategeselokale gebou. Ds en mev Heyns was alombemind en deur die gemeente waardeer. Sy boodskappe vanaf die preekstoel vir die gemeente, en mev Heyns s’n vir die vrouens, het ‘n mens altyd inspireer. Ds Heyns was by uitstek ‘n student wat sy Bybel goed geken het. Hy het altyd iets nuuts na vore gebring en hoe kan ons ooit sy preek vergeet oor Tubal-Kain, die eerste ystersmid waarvan die Bybel melding maak!

Tydens ds Heyns se bediening het die Kerkraad besluit dat ‘n tweede leraar beroep moes word. Met die pasvoltooide nuwe pastorie en die een in Herholdstraat beskikbaar, was die tyd geskik. Prop DJ Smit is op 30 Oktober 1977 beroep, op 4 Februarie 1978 ontvang en bevestig, en op 5 Februarie 1978 het hy sy intreepreek gelewer.

Dit was vir prop Smit ‘n moeilike besluit om die beroep aan te neem aangesien hy besig was met sy doktorale studie en het nog nie praktiese bediening in ‘n gemeente oorweeg nie. Volgens hom was die leiding wat hy van die Here ontvang het baie duidelik dat hy die beroep moes aanneem en het sommer dadelik begin werk. Hy het ‘n ware kameraad in ds Heyns gevind en hul kon vir drie jaar met vreugde, vrug en toewyding saamwerk. Die Universiteit van Weskaap het egter iemand van sy kaliber benodig vir hul Teologiese Fakulteit, en toe hy beroep is, was daar min twyfel dat hy sou gaan. Op 7 Desember 1980 aanvaar hy sy demissie.

Op 8 Desember 1980 is ds W van der Merwe as medeleraar beroep en word op 27 Maart 1981 in die gemeente ontvang en bevestig, by watter geleentheid sy vader, ds WP van der Merwe, emeritus, as prediker optree. Ds Willem lewer sy intreepreek op Sondag 29 Maart na aanleiding van 2 Korintiërs 4:7 (die skat in kleipotte). Sy gesin betrek eers die pastorie in Herholdstraat en, na aftrede van ds Heyns, betrek hulle die nuwe pastorie.

Die vakature deur ds Heyns gelaat, is gevul toe ds R Dick die beroep (uitgebring op 06.02.1989) aanvaar. Hy word op 28 April 1989 ontvang en op 29 April bevestig, by welke geleentheid ds Denzel Dick, sy broer, die bevestigingsrede lewer. Hy lewer sy intreepreek op 30 April.

Aanvanklik is ‘n huis, Patrysstraat 8, Onder-Papegaaiberg, gehuur om tydelik as pastorie vir ds Dick te dien. (Die Kerkraad het dit raadsaam gevind dat ‘n leraar in Onder-Papegaaiberg woon – ‘n belangrike deel van die gemeente; die wysheid van die besluit het spoedig duidelik geblyk.) By die voltooiing van die nuwe pastorie in Troupantstraat, trek ds Dick se gesin in. Die verhouding wat ds Dick met die gemeente en veral met daardie deel van die gemeente opgebou het, is duidelik waarneembaar. Sy vrugbare diens word steeds hoog waardeer.

In die NG Kerk Stellenbosch-Wes het menige teologiese kandidaat praktiese opleiding gedoen en proefpreke gelewer. Kandidaat PK Mentz was die eerste wat sy proefpreek op 8 Oktober 1956, in die Wes kerk gelewer en ook later sy prakties daar gedoen het.

Menige paartjie is in die Stellenbosch-Wes kerk getroud. Die eerste paartjie was mnr George Conradie wat met mej A Delport van Ertjiesdam, Caledon getroud is.

  • AGE van Velden, 1953 – 1963
  • Hendrik Albertus Heyns, 1963 – 1988
  • R Dick, 1989 –
  • DJ Smit, 1978 – 1980
  • W van der Merwe, 1980 –