NG Gemeente Rouxville

Die kerkgebou se hoeksteen is in 1879 gelê deur die eerste leraar, ds. Charles Morgan. Die argitek was Richard Wocke.

GESTIG

1870

RING

Smithfield

ADRES

Kerkstraat, Rouxville

EERSTE PREDIKANT

Die NG Gemeente Rouxville is ’n gemeente in die Suidoos-Vrystaat binne die Ring van Smithfield, waarvan dit die vierde oudste gemeente is, naas Smithfield, Bethulie en Edenburg. Met sy stigting in 1870 was Rouxville die 14de gemeente in die Vrystaat en die 101ste in Suid-Afrika. Die NG Gemeente Fauna is ‘n gemeente in die Vrystaatse Sinode.

Agtergrond

Tydens die tweede sitting van die Vrystaatse Volksraad, in Februarie 1865, is die president gemagtig om die vereiste stappe te doen om ’n dorp in die Vrystaat teenoor Aliwal-Noord aan die oorkant van die Oranjerivier in die Oostelike Provinsie te stig. Dit was veral as gevolg van die onreëlmatighede wat met die versending van pos uit die Kaap plaasgevind het. Die dorp is egter eers in November 1863 deur ’n komitee van die NG Kerk gestig.

In 1862 was Smithfield en Aliwal-Noord al dorpe in die omgewing waar daar ’n kerk binne 100 myl was. Die gemeenskap het op kerklike gebied onder die NG Gemeente Smithfield geval met ds. Piet Roux as leraar. Hy was die oupa aan moederskant van drie groot Afrikanerkultuurleiers: Mabel Jansen, opvoedkundige, skrywer, joernalis, kultuurleier, politikus en baanbreker in die bevordering van Afrikaans, dr. Samuel Henri Pellissier, die stigter van die Volkspelebeweging en prof. George Murray Pellissier, agtereenvolgens die predikant van NG Gemeentes Pietermaritzburg, Dundee, Carolina en later professor in die teologie aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit teologie (afdeling B).

In 1863 is ’n komitee deur die kerkraad van Smithfield, wat self maar in 1848 gestig is as slegs die vierde gemeente in die Vrystaat, om ’n nuwe dorp tussen die Oranje en Caledonrivier te stig. Die lede van die komitee en dus ook die stigters van Rouxville en sy NG gemeente, was P.J.C. Swanepoel, P.C. Pelser, P.J. du Plooy en C.N. Zwaanepoel.

Dié komitee het die plaas Zuurbult, sowat 2 100 ha, in die wyk Onder-Caldeon van Ernest Wepener vir £1 500 gekoop. J.M. Orpen het die plaas opgemeet en in erwe verdeel. Honderd erwe is verkoop om die geld te kry vir die bou van ’n kerk. Ds. Roux het aangebied om drie maande lank dienste in die gemeente Zuurbult waar te neem. Uit dankbaarheid teenoor die Smithfieldse leraar het die gemeente besluit om die dorp Rouxville te noem. Tien jaar lank het ds. Roux die gemeente as konsulent bedien totdat ds. Charles Morgan, indertyd die leraar van die NG Gemeente Middelburg, Kaap, in 1873 die tweede beroep aanvaar het wat op hom uitgebring is en as predikant hier bevestig is. Intussen is Rouxville in 1871 tot distrik verklaar. Die eerste landdros was P.J. Robertson en in 1872 is J.C. Reyneke as staatsonderwyser benoem.

Vroeë jare

Die eerste dienste is gehou op die plaas wat later as Oude Werf sou bekendstaan. Later is die ou kerk sonder sitplekke opgerig en moes elke aanbidder sy of haar eie stoel saambring. Die hoeksteen van die teenwoordige klipkerk is op 11 Julie 1879 deur ds. Morgan gelê. Die teksvers op die steen is Jesaja 28:16: “So sê die Here my God: Ek gaan in Sion ’n klip neersit, ’n uitgesoekte klip, ’n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie” (1983-vertaling).

Nog in daardie jaar is ds. Morgan na Bloemfontein beroep en twee jaar sou die gemeente vakant bly tot die 28-jarige ds. Andries L. Albertyn, van die NG Gemeente Steynsburg in die Noordoos-Kaap, die dertiende beroep aanvaar wat die kerkraad uitgebring het. Hy het die gemeente 23 jaar lank tot aan sy dood op 6 Mei 1906 getrou bedien. In 1893 is die gemeente Zastron onder ds. Albertyn se leiding afgestig. Dit was ook in ’n ander opsig vir Rouxville ’n belangrike jaar, want nadat die dorp 20 jaar lank dorpsbestuur gehad het, het hy in 1893 ’n munisipaliteit gekry met J.C. Chase as burgemeester.

Tydens die donker dae van die Tweede Vryheidsoorlog toe al die bewoners van Rouxville deur lord Roberts in Aliwal-Noord se konsentrasiekamp geplaas en die dorp ’n spookdorp geword het, het ds. Albertyn die kommando as veldprediker na die slagveld gevolg nadat die burgers met die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 onder genl. J.H. Olivier opgeroep is om op kommando te gaan. Ná die oorlog is op Rouxville onder sy leiding ’n Christelike Nasionale skool as protes teen die onderdrukking van die inwoners se taal en volksbestaan opgerig. Dit het die fondament van die onderwys in die Vrystaat geword wat aan die eise van die volk en Kerk beantwoord het.

Agt maande ná ds. Albertyn se heengaan is ds. H.S.M. Botha bevestig en hy het die gemeente langer as 36 jaar deur die mees kritieke tyd in die Vrystaat se geskiedenis gestuur. Hy aanvaar sy emeritaat op 31 Augustus 1943, waarna ds. C.J. Perold, van Rossville, die beroep hierheen aanvaar. Hy word op 3 Februarie 1950 opgevolg deur ds. G.N.P. Cloete van die NG Gemeente Keetmanshoop in Suidwes-Afrika.

Predikante

  • Charles Morgan, 6 Desember 1873 – 1882
  • Andries Adrian Louw Albertyn, 8 Desember 1883 – 3 Mei 1906 (oorlede in die amp)
  • Harold Sydney Muskett Botha, 16 Februarie 1907 – 29 Augustus 1943 (emeriteer)
  • Cornelis Johannes Perold, 7 Oktober 1944 – 1948
  • Gert Nicolaas Petrus Cloete, 1950 – 1952
  • Pierre Rossouw, 6 Desember 1952 – 1958
  • Heinrich Franz Heyman, 2 Augustus 1958 – 1961
  • Hendrik Jonathan van Niekerk, 1965 – 1970
  • Barend Jacobus Cronjé, 1976 – 29 Augustus 1982 (emeriteer)