NG Gemeente Roossenekal

Die NG kerk Roossenekal, ontwerp deur Gerard Moerdyk, is geleë by Laersdrif aan die R555 tussen Roossenekal en Middelburg, Mpumalanga. Die argitek was ene A.D. Theron. (FOTO: Wikipedia/Isabella Maria le Roux)

gestig

9 Januarie 1885

afgestig van

NG Gemeente Middelburg, Transvaal

ring

Ring van Middelburg

adres

Laersdrif

Sluit in

Roossenekal, Laersdrif en Stofberg

eerste predikant

Ds CJ Brink

 

Die NG gemeente Roossenekal is ’n gemeente in die Oostelike Sinode met sy setel naby die dorpie Laersdrif in die provinsie Limpopo.

Die gemeente Roossekenal – so genoem ter ere van die twee kommandante Roos en Senekal wat in die Mapochse oorlog gesneuwel het – is afgestig van die moedergemeente Middelburg (Transvaal) in die jaar 1886, en sy eerste predikant was ds. C.J.Brink. Die eerste Godsgebou is op die toe pas gestigte dorp Roossenekal opgerig, maar is met notuleboeke en registers en alles gedurende die Boereoorlog deur die vyand verbrand, ’n ramp wat hom dekades lank nog laat voel het deurdat dopelinge van net voor die genoemde oorlog moes sukkel om ’n doopseel in die hande te kry vir ouderdomsdoeleindes en vir ander sake van belang.

Vooruitgang

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is egter, onder leiding van ds. P. van der Hoven wat toe predikant van die gemeente was, ’n nuwe kerkgebou aangepak en op De Lagersdrift opgerig, maar nie sonder teenstand van dié deel van die gemeente wat op Roossenekal gewoon het nie. Slegs nadat ooreengekom is dat ’n steen bokant die hoofingang van die kerk sou ingemessel word met die naam van “Ned. Herv. of Geref. Kerk Roossenekal”, het die gemoedere genoegsaam tot bedaring gekom om met die bouwerk op De Lagersdrift voort te gaan. Die hoeksteen is op 25 Januarie 1919 gelê en presies 23 jaar later, naamlik 24 Januarie 1942, is die voltooide kerkgebou ingewy, danksy die bekwame en toegewyde leraar ds. S.P. Schoeman, wat toe die predikant van die gemeente was.

Die kerknedersetting op Lagersdrift is geleë in die hart van die gemeente Roossenekal, en in die beginjare het dit op finansiële gebied met sowel die gemeente as die nedersetting baie moeilik gegaan. Reeds voor die Tweede Wêreldoorlog was daardie jare egter verby en was die gemeente al baie jare nie meer hulpbehoewend nie en kon sy al haar geldelike verpligtings nakom en het ook toe ook al haar baie skulde van die verlede vereffen.

Met die Oktober-nagmaal van 1951 het die gemeente haar 65ste verjaardag gevier en is ’n grootse poging aangewend om genoegsame geld in te samel vir die aanbou van ’n kerksaal en ander geboue en vir die verfraaiing van die terrein van die kerkgebou.

Leraars

Die volgende leraars het in die eerste 65 jaar sedert die stigting in die bediening gestaan: di. G.J. Rossouw, 1907–11; H.J. de Vos, 1912–’15; P. van der Hoven, 1915–’22; A.G. Driessen, 1923–’24; N.J. Veltman, 1925–’28; J.P. le Roux, 1930–’36; S.P. Schoeman, 1938–’46; J.W. Dednam 1947–’71.

Opvoeding

Die gemeente het hom ook baie beywer vir die onderwys sodat hier ’n tyd lank belangrike opvoedingsentrums, onder meer ’n landbouskool, huishoudskool en later ’n skoolplaas bestaan het, maar ook hier, soos oral op die platteland, het die skole selfs 70 jaar gelede begin leegloop leeg omdat die jong mense weggetrek het na die stede. Reeds in 1952 was hier net ’n groep-II-skool benewens ander kleiner skole in die wyke. (Geskryf deur Morne van Rooyen).

Predikante

  • Cornelis Johannes Brink, 10 Sep. 1898 – 3 Apr. 1903 (demissie)
  • Gideon Jacobus Rousseau, 2 Nov. 1907 – 1911
  • Hendrik Johannes De Vos, 13 Apr. 1912 – 1915 Paulpietersburg
  • Johannes Hendrik Malan Stofberg, 1913 – 1914 (Hulpprediker)
  • Pieter Van der Hoven, 13 Jul. 1915 – 1922
  • Adriaan Gysbert Driessen, 10 Aug. 1923 – 1924
  • Nicolaas Jacobus Veltman, 28 Mrt. 1925 – 1928
  • Jacob Philippus Le Roux, 29 Nov. 1930 – 6 Jun. 1938
  • O S A Robertson, 1935 – 1937  (Hulpprediker)
  • H J Strauss, 1935 (Hulpprediker)
  • Stephanus Philippus Schoeman, 29 Okt. 1938 – 1946
  • Jan Willem Dednam, 8 Feb. 1947 – 1971
  • Christiaan Lemmer Venter, 1972 – 1978
  • S S Walters, 1978 – 1981
  • C S Engelbrecht, 1982 – 1994
  • Hendrik Adriaan Prinsloo, 1996 – 2003
  • Frans Willem Conradie, 2003 – 2012 (Hulpprediker)