NG Gemeente Hantam

gestig

5 April 1847

later bekend as

NG Gemeente Calvinia

Die NG Gemeente Hantam is op 5 April 1847 gestig. Dit was die verwesenliking van die ideaal waarvoor ds. De Roubaix hom sedert 1837 beywer het en herhaaldelik by die Ring gepleit het.

Die stigtingsvergadering is op 19 Januarie 1847 op die plaas Tygerhoek gehou onder voorsitterskap van ds. J.C. Le Febre Moorrees, die vader van prof. Adriaan Moorrees van die Stellenbosse Kweekskool en die man na wie Moorreesburg genoem is omdat die gemeente tydens sy land dienstyd op Malmesbury van Swartland afgestig is.

Die nuwe gemeente was nog herderloos, maar die twee ouderlinge en vier diakens, wat deur die Ringskommissie benoem is, is op 12 Desember 1847 voorgestel en kon met die aanvoorwerk begin. ’n Stuk grond van 1 200 ha is aangekoop van die eienaar van Hoogekraal, veldk. Abraham van Wyk, ’n grootjie van ’n latere moderator van die NG Kerk, dr. Abraham van der Merwe, wat in 1897 in die distrik gebore is. Op dié stuk grond is die dorp aangelê en die kerk, wat op 7 September 1849 ingewy is, gebou. Omdat Hantam sowat vier jaar herderloos sou bly, moes ds. De Villiers van die moedergemeente, wat die dogter se konsulent was, verantwoordelikheid vir die fondamentlegging aanvaar, tesame met die verantwoordelikhede in sy eie, reusagtige gemeente, wat darem in 1850 nog ietwat verklein is deur die afstigting van Namakwaland.

Die kerkraad se volgende taak was die bou van ’n pastorie, maar toe die eerste leraar, ds. N.J. Hofmeyr, later een van die eerste twee hoogleraars aan die Kweekskool, op 12 September 1851 verwelkom is, was dié pastorie met sy uitsonderlike drie gewels aan die voorkant onvoltooid. Dit sou Calvinia eindelik 99 jaar as pastorie dien en is later gesloop.

Die ou pastorie met sy kenmerkende drie gewels is omstreeks 1852 voltooi, maar is, nadat dit die gemeente 99 jaar gedien het, in die tweede helfte van die 20ste eeu gesloop. Dié foto is waarskynlik kort na die voltooiing van die kerkgebou vanuit die toring geneem. Die ry huisies op die agtergrond was tuishuise, ‘n noodsaaklikheid in ‘n uitgestrekte gemeente soos Calvinia, waarin kerkgangers oor naweke tuisgegaan het.

Nuwe naam

Op die eerste gewone kerkraadsvergadering het ds. Hofmeyr voorgestel dat die nuwe kerkdorp herdoop moes word ter ere van die kerkhervormer Johannes Calvyn. Dit is eenparig goedgekeur. Sedert die publikasie van die goewermentskennisgewing in die Staatskoerant van 30 Oktober 1851 staan die dorp as Calvinia bekend. Lees meer oor die geskiedenis van die gemeente by NG Gemeente Calvinia.