Gestig
1873
Ring
Harrismith
Adres
Brandstraat, Frankfort
Sluit in
Frankfort en distrik
Eerste predikant
George Thom (1894–1908)
Die NG Gemeente Frankfort is ’n gemeente met sy middelpunt op die gelyknamige Oos-Vrystaatse dorp Frankfort. Met sy stigting in 1873 was dit die 18de gemeente in die Vrystaatse Sinode.
Die gemeente is gestig op die plaas Roodepoort, 4 000 morge teen £1 000 van A. Allenberg gekoop. Die naam sou Cassel wees, maar ene Albert von Gordon, landmeter, afkomstig uit Frankfurt, Duitsland, het gratis opmeting aangebied mits die naam na sy geboorteplek Frankfurt (wat beteken “Frankedrif”) sou wees. ’n Grasdakkerkie met misvloer moes voorlopig as aanbiddingsplek dien.
Die behoefte aan ’n beter aanbiddingsplek was groot en op 5 November 1883 het pres. Jan Brand die hoeksteen van die eerste kerk gelê. Eindelik het ds. G. Thom in 1884 ’n beroep aangeneem en is hy deur Johannes (Hans) Fourie (later die eerste burgemeester van Frankfort) op Colesberg met wa en osse gehaal. Mev. Thom is later deur D.W. Steyn en N. van. Rensburg met ’n verewa op Kimberley gehaal.
Tweede Vryheidsoorlog
Onder die Vrystaatse Republiek het die gemeente gebloei en armoede was iets onbekends, maar in Oktober 1899 het donker oorlogswolke saamgepak en is die mooi republiek vernietig; die gemeente Frankfort het swaar gelyk en sy kerkgebou is in puin gelê. Die laaste kerkraadsvergadering voor die oorlog is in die tweede helfte van 1899 gehou. Die Britse troepe het die dorp heeltemal vernietig – al die huise, met alles daarin, asook die kerk en pastorie is afgebrand. Saam met die pastorie is alle kerklike boeke en registers met die boekery van die predikant vernietig, asook die brandkas met alles daarin. Die predikant, ds. G. Thom, en enige kerkraadslede is as krygsgevangenes na Ceylon verban. Hulle, sowel as die ander wat tot die einde toe gestry het, het ná die oorlog teruggekom, hoewel sommige op die slagveld gewond is.
Ná die oorlog
Op 14 Februarie 1903 het die predikant met lede van sy ou kerkraad in ’n tent vergader om planne vir die toekoms te beraam. Die medewerker van Ons gemeentelike feesalbum (1952) skryf: “Aandoenlik is die notule van hierdie eerste vergadering van gespaardes, waar sovele in die oorlog gesneuwel het. Met ‘geen kerk, geen pastorie, geen kerklike besittings’ is die predikant en kerkraad vasbeslote om uit die puin van die dwingelandy op te staan en die geloofsoog op die toekoms te rig.”
Ds. Thom is op 6 September 1908 oorlede, en op 3 Julie 1909 is ds. J.P. van der Walt suksesvol beroep. Op 25 Maart 1911 het oudpres. M.T. Steyn die hoeksteen van die nuwe kerk gelê. Die inwyding het op 19 Julie 1912 plaasgevind.
Reeds in 1884 is ’n begin gemaak met sendingwerk onder die plaaslike swart mense. (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Predikante
- George Thom, 6 Jun. 1884 tot 6 September 1908 (oorlede in die amp; sy enigste gemeente)
- Johannes Petrus van der Walt, 2 Okt. 1909 – 12 Mei 1941 (emeritus)
- Wessel Charles Oswald du Toit, 1941 – 1945
- Jacobus Johannes de Necker, 1946 – 1949
- Louis Wessel Lehmkuhl, 29 Julie 1950 – omstreeks 1975