Labuschagne, Adriaan Johannes Jacobus

Ds. AJJ Labuschagne

GEBORE

28 Mrt. 1926

OORLEDE

3 Okt. 1985

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1964

ORDEN

1965

standplase

1965 Springbokvlakte

EMERITEER

 

Ds Adriaan Johannes Jacobus (Attie) Labuschagne (28.3.1926 – 3.11.1985); wat op 27.11.1983 weens swak gesondheid afgetree het nadat hy die leraar van drie NGK- en drie NGKA-gemeentes was, is in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein oorlede waar daar na ‘n hartomleidings-operasie komplikasies ingetree het. In Johannesburg, waar hy in die voorstad Melville gebore is, gaan hy by die Hoërskool Helpmekaar skool, maar in 1944 matrikuleer hy aan die Hoërskool Rustenburg. Nadat hy verskeie beroepe, o.a. die Staatsdiens, beoefen het, kry hy in 1957 die roeping om predikant te word. Om so gou moontlik in die bediening te kom, skryf hy dadelik by Unisa in en daardie jaar reeds lê hy die eksamens in ‘n paar vakke af. Gedurende nagenoeg sy hele studietyd werk hy snags, terwyl hy bedags klasloop. Op Stellenbosch verwerf hy in 1963 die kandidaatsdiploma en in 1964 die lisensiaat in die teologie, albei met lof. In laasgenoemde jaar gelegitimeer, word hy op 6.3.1965 met handoplegging as leraar van die klein Noord-Transvaalse gemeente Springbokvlaktes met ongeveer 250 belydende lidmate bevestig. Daarna bearbei hy die gemeentes Philadelphia (1968) en Phalaborwa (1973); albei van die Noord-Transvaalse NGKA, totdat hy in 1974 na die bediening in die moederkerk terugkeer om eers die leraar van Phalaborwa te word en in 1978 die van Kampersrus, albei in Oos-Transvaal. In sy laaste gemeente, Hlanganani (pas in 1981 gestig) van die Noord-Transvaalse NGKA, staan hy van 1982 tot sy aftrede. Met ‘n besondere sendingroeping en -ywer besiel, het hy al sy talente in diens van die Kerk aangewend en was hy ‘n toegewyde werker en ‘n kragtige verkondiger van die evangelie. Van die feit dat hy daarby ook prakties aangelê en ‘n man van die daad was, getuig die groot sendingkerke wat hy op Groblersdal en Phalaborwa en verskeie kleineres wat hy elders gebou het. In die omgang was hy spontaan en blymoedig. Hy het in die Sinodale Sendingkommissie en in ‘n aantal ander kerklike kommissies gedien, asook in die beheerrade van etlike hoërskole en in die besture van die Voortrekkers en die Rapportryers. Nadat hy in 1984 ‘n tydjie met die sending in Pongola gehelp het, woon hy en sy eggenote op Boknes naby Boesmansriviermond in Oos-Kaapland, maar van Januarie 1985 tot sy heengaan los hy nog op Vanstadensrusin die OVS af. ‘n Mens sou seker kon sê dat sy hele bediening vir hom ‘n hoogtepunt was, terwyl dit bo alle twyfel vas gestaan het dat hy met volle geloofsoortuiging daarna gestreef het om die verlange van sy hart, om die koms van die koninkryk te bevorder, in vervulling te laat gaan.