Alma E. Hultman, 1914— 1918.
Met die dringende behoefte aan verpleegsters in die sending, het die Kommissie besluit om twee wat hulle uit Amerika, van die Moody-Bybelskool aangebied het, aan te neem. Een van hulle was Mej. Hultman. Sy was ‘n Sweed van afkoms, maar in Amerika opgegroei. Besonder bevoegd in haar roeping, bemind van van karakter, was sy deur haar medewerkers en volk hooggeag. Na haar dood het daar van die hospitaaljongens, wat onder haar gewerk het, getuig: “Sy was net soos die Here Jesus.” Van gestel was sy nie al te sterk nie en geneig om haar kragte te ooreis. Toe sy op reis was vir haar rustyd om haar familie in Amerika te gaan besoek, het sy in Oktober 1918 in Kaapstad vir ‘n paar weke vertoef en juis toe breek die griep uit. Dadelik het sy begin help met verplegingswerk, maar ongelukkig was sy self een van die eerste slagoffers, en sy lê daar, ver van haar dierbares en vriende, begrawe. (Bron: Murray, A.C. 1931. Ons Nyasa-akker – geskiedenis van die Nyasa sending van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. p. 311-12)