Die Stofberg Gedenkskool is geleë naby Viljoensdrift in die Heilbron-distrik in die O.V.S. Die skool is op 1 Oktober 1908 deur die vier Gefedereerde Nederduitse Gereformeerde Kerke In Suid-Afrika opgerig met die doel om Swart onderwysers en evangeliste en leraars op te lei. Die skool is vernoem na wyle ds. Pieter Stofberg na aanleiding van sy welsprekende pleidooi op die Kaapse Kerk se Sinode van 1906.
Die klas vir evangeliste het begin met een dosent en een student. Die lektor was ds. Andrew Hofmeyr (1866–1936), die eerste hoof van die instelling, wat in dié amp aangebly het tot sy aftrede in Desember 1934, toe hy opgevolg is deur sy tweede oudste seun, ds. H. Murray Hofmeyr (1898–1977, later rektor van die teologiese skool aan die Universiteit van die Noorde). ‘n Groot instelling met talle onderafdelings het mettertyd ontwikkel.
Vroeg in 1956 het die Nasionale Party-regering die normaalkollege kragtens die Wet op Bantoe-onderwys (Wet. No. 47 van 1953) oorgeneem toe daar 16 personeellede en 364 in dié afdeling was. In die laerskool, wat as oefenskool vir die normaalkollege gedien het, was daar ses onderwysers en 326 leerlinge. Einde 1959, toe daar vier lektore en 120 studente in die teologiese skool was, moes die Stofberg-gedenkskool verskuif na ‘n “bantoe-gebied” omdat dit in ‘n blanke groepsgebied geleë was. Tot in daardie stadium is 84 predikante, 651 evangeliste en sowat 1 100 ten volle opgeleide onderwysers aan die skool opgelei. Die verslag van die Sinodale Sendingkommissie wat voor die Sinode van die NG Kerk van Transvaal van 1957 gedien het, het die omstandighede van destyds as volg beskryf: “Soos reeds gemeld moet al drie opvoedingsinrigtings (Stofberg-gedenkskool, Bethesda-normaalskool en Emmarentia Geldenhuys-skool) óf gesluit óf verskuiwe word binne vyf jaar omdat hulle volgens die Groepsgebiedewet swart kolle binne die wit kolle is, of inrigtings binne blanke gebiede. Na lange onderhandelinge met die Naturellasake Departement het dit geblyk noodsaaklik te wees, niks kon gedoen word om dit te voorkom nie. Die Besture het toe deur memorandums en onderhandelinge met die Departement probeer om die beste daarvan te maak deur uit te vind waarheen verskuiwe kon word en wat vir die Kerk die voordeligste sal wees om te doen en tog nog sy deel aan die opvoeding te behou sover dit enigsins moontlik is. Die Regering was baie toegeeflik, altyd genaakbaar en het die besture met die beste advies bedien.
“Stofberggedenkskool se Normaalskool-studente sal opgeneem word in die inrigtings van die Staat soos byvoorbeeld by Thaba Nchu in die Vrystaat en ’n moontlike opleidingskool in die Pietersburg-distrik. Die Teologiese afdeling van Stofberg, t.w. die opleiding van evangeliste en inboorlingleraars moet deur die Kerk voorsiening voor gemaak word; grond sal deur die Staat op trustgronde geskenk word en okkupasiereg verleen word om die kerklike geboue daar op te rig. Ruimte sal genoeg wees vir die bou van al die nodige geboue, klaskamers, hostels, privaat wonings, ens. Die Staat sal dit verwelkom as die Kerk sy inrigtings by hul opvoedingsinrigtings plaas vir die goeie invloed van sy leerlinge en studente. Die Kerk aan die ander kant sal dankbaar wees as hy van die Staat se opvoedingsinrigtings kan gebruik maak vir die akademiese opleiding van sy teologiese studente. Oor die verkoop van die gronde en geboue van Stofberg moet die vier Gefedereerde Kerke besluit.”
Sedert 1960 is die opleiding voorgesit op vier verskillende plekke. Die teologiese afdeling van die oorspronklike skool het na Turfloop naby die huidige Polokwane in die destydse Noord-Transvaal verskuif (waar die NG Kerk en die Hervormde Kerk saamwerk); ‘n nuwe teologiese seminarium is op Witsieshoek in die Vrystaat gestig en die seminariums op Dingaanstat in Natal en Decoligny by Umtata by die nuwe skema ingelyf. Dié vier instellings is deur ‘n sentrale bestuur beheer waarin die streeksinodes van die NG Kerk en die sendingkerke verteenwoordig is. Elke instelling het sy eie plaaslike komitee gehad.
Begin 1960 het die nuwe teologiese skole op Turfloop en Witsieshoek geopen met onderskeidelik 92 en 61 studente, vergeleke met die ou Stofberg-gedenkskool se 120 in sy laaste jaar, die meeste in dié skool se meer as halfeeu lange bestaan. Dit was nadat die studente van die gedenkskool einde 1959 tussen Turfloop en Witsieshoek verdeel is.
Turfloop, sowat 27 km anderkant Polokwane op die grootpad na Magoebaskloof, se amptelike opening was op 1 Maart 1960 waar onder andere ds. Arnold Meiring, moderator van die Algemene Sinode van die Transvaalse Kerk, ds. H.M. Hofmeyr, rektor van Turfloop, en prof. E.F. Potgieter, rektor van die “Bantoe-Universiteitskollege van die Noorde”, toesprake gelewer het. Destyds het Die Voorligter onder meer as volg oor die opening berig: “Die netjiese lesingslokale, biblioteek, koshuise en personeelwonings het ’n baie goeie indruk op die besoekers gemaak en vergelyk goed met die indrukwekkende geboue van die universiteitskollege. Die argitek en bou-eenheid verdien alle lof vir wat hulle in so ’n kort tydjie tot stand gebring het. Die mooi kapel met sy klipmure en hoë dak sal eersdaags voltooi word.”
Bron: Met erkenning aan https://af.wikipedia.org/wiki/Stofberg-gedenkskool
DIE OPLEIDING VAN EVANGELISTE DEUR DIE N.G. KERK
(deur dr. H.L. Pretorius)
Die opleiding van inheemse werkkragte was vanaf die vroeë jare van die moderne sendingbeweging ‘n prioriteit. Daar is besef dat bekeerlinge uit ‘n bepaalde kultuur ‘n groot voorsprong op verkondigers van die evangelie uit ‘n ander kultuur het. Die opleiding van evangeliste (en later ook swart leraars) wat deur die N.G. Kerk in Suid-Afrika onderneem is, moet in die lig hiervan gesien word.
Individuele Opleiding
In die praktyk van evangelisering was die behoefte en nood van die sendeling ‘n belangrike faktor. Hy het naamlik ‘n voltydse werkkrag nodig gehad om hom behulpsaam te wees om die Evangelie aan ‘n vreemde volk, met ‘n ander taal, kultuur en gewoontes te verkondig. Vir die pionier-sendeling met sy vol program was dit ‘n probleem om werklik reg te laat geskied aan die veeleisende taak. Hulp sou hom naamlik in staat stel om meer effektief te kon werk (De Villiers 1972:290).
Gedurende die laat negentiende eeu is indiwiduele en sporadiese pogings deur sendelinge en predikante op enkele plekke in die land aangewend om in die groot behoefte aan opgeleide inheemse werkkragte te voorsien. Hier is van individuele opleiding sprake. Vanaf 1868 het eerw. Stephanus Hofmeyr byvoorbeeld meer as 30 evangeliste in Soutpansberg opgelei “om het werk der evangelieverkondiging voort te zetten” (De Villiers 1972:217). Ook ander sendelinge het probeer om vir die opleiding van swart evangeliste voorsiening te maak: eerw. R.H. Daneel op Witsieshoek, ds. Henri Gonin op Saulspoort en eerw. E.B. Beyer op Mochudi asook ds. Pieter Stofberg wat ‘n evangelisteklas daar begin het. In 1894 het ds. A.M. Hofmeyr 19 evangeliste op Emandhleni by Greyton in Natal opgelei, terwyl ds. S.P. Helm rondom die eeuwisseling dieselfde taak vir Xhosa-sprekendes in Mthatha aangepak het.
Hierdie pogings het egter weens verskillende redes algaande doodgebloei. Slegs na enkele jare moes dit gestaak word. Die redes wat vir hierdie agteruitgang aangegee is, is interessant. Eerstens is besef dat die opleiding te elementêr was. Die studente het na kennis gedors, veral om Engels te leer wat nie by die skole aangebied is nie. Hulle het dan elders gegaan waar hulle ‘n beter opleiding kon ontvang. Tweedens is die status van die evangeliste as minderwaardig beskou in vergelyking met dié van ander kerke en genootskappe. Laasgenoemde het dan neergesien op die skole se studente. Derdens was die salarisse wat aan die studente gebied is, nie aantreklik nie. Teenoor die evangeliste van ander instansies wat byvoorbeeld op ‘n stadium £72 en meer per jaar ontvang het, het dié van die N.G. Kerk se evangeliste tussen £12 en £18 gewissel. In die geval van Mthatha was die opleiding nie volhoubaar nie aangesien daar op daardie stadium nog te min Xhosa-lidmate was uit wie se geledere studente na vore kon kom. Verder was daar geen dagskole van die N.G. Kerk wat as voedingsbron vir die evangelisteskool sou kon dien nie, terwyl daar nie vir die behoefte aan primêre onderwys voorsiening gemaak is nie (De Villiers 1972:223, 226).
Een moontlike uitkoms om die probleem aan te spreek, was om studente na die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap by Morija of die Skotse opleiding by Lovedale te stuur. Al het die N.G. Kerk oor die algemeen goeie betrekking met hierdie inrigtings gehandhaaf, het hierdie oplossing egter nie altyd aan die verwagtinge voldoen nie (De Villiers 1972:230). Intussen was dit belangrik om ‘n vaste basis van opleiding te hê en wel een in die hande van personeel wat daarvoor afgesonder is.
Jarelange samesprekings om doeltreffende en volhoubare opleiding moontlik te maak sou volg. In 1904 het ds P.B.J. Stofberg die inisiatief geneem om ‘n belangrike byeenkoms van sendelinge in Mochudi in Botswana te hou. Hier is die behoefte aan opleiding van inheemse evangeliste opnuut geformuleer en gemotiveer. Die idee om ‘n gesamentlike projek te loods is ernstig oorweeg. In die besprekings het ‘n duidelike insig na vore gekom: Daar moes ‘n algehele skeiding tussen die opleiding van die evangelis en leraar gemaak word. Eg. is gesien as ‘n eenvoudige, ouer arbeider by wie se opleiding dit nie om ”boekekennis” gegaan het nie. Hy moes net sy Bybel beter leer ken en is as ‘n tydelike hulpwerker gesien (De Villiers 1972:293). Die verwagting was dat die evangelis spoedig sou verdwyn en deur die leraar vervang sou word.
Drie belangrike vergaderings is in Johannesburg (1905), Bloemfontein (1905) en weer in Bloemfontein (1907) gehou wat as mylpale om die ideaal van ‘n gesamentlike skool te bereik, beskou kan word. In 1906 het die Vrystaatse Sinode ernstig besin oor die voortgang van sendingwerk en besluit dat die volgende o.a. van belang is: Die stigting van ‘n skool vir die opleiding van swart onderwysers, evangeliste en leraars (Crafford 1982:149). So is die fondamente van die stigting van die Stofberg-Gedenkskool gelê en so het die Skool sy beslag gekry.
Gesamentlike Opleiding: Die Stofberg-Gedenksool
In 1908 is die Stofberg-Gedenkskool vir die opleiding van evangeliste asook swart onderwysers van oor die hele land by Viljoensdrif naby Heilbron in die Vrystaat opgerig – ‘n onderneming van al vier die N.G. Kerk Sinodes wat destyds afsonderlik bestaan het. Die besluit om een sentrale inrigting daar te stel, is deur die verteenwoordigers van die N.G. Kerk na raadpleging met die inheemse leiers geneem. Die motivering: Daar moes “aan die opleiding van evangeliste gedink word, by wie nie boekgeleerdheid gesoek word nie, maar wat ‘n goeie kennis van die Bybel moes hê. Hulle sou veral nodig wees vir evangelisasiewerk van mense wat nog in klein krale of verstrooid op plase woon” (De Villiers 1985:245).
Net soos die model van ander kerke, was die blik aanvanklik ruimer as net die opleiding van evangeliste. Hieroor was die konstitusie van die inrigting baie duidelik: “De Stofberg Gedenkschool is eene Inrigting ten doel hebbende de opleiding van Naturellen Onderwysers, Evangelisten en Leraars” (De Villiers 1972:424). In die lig van die destydse sendingsituasie was dit ‘n wyse besluit.
Die Skool is begin met een dosent en een evangelistestudent. Dit is vernoem na ds. Stofberg van die Mochudi-sendingstasie, wat hom daarvoor beywer het, maar wat kort voor die stigting weens ‘n ongeluk gesterf het. In ‘n verslag oor “De Stofberg Gedenkschool” in De Koningsbode van Junie 1913 word genoem: “Tot dusverre hebben wij reeds veertien gecertifiseerde evangelisten en zeven onderwijzers uitgezonden. Met één uitzondering bereiken gunstige tijdingen ons van deze onze eerste vruchten.” In die uitgawe van De Koningsbode van Maart 1914 word genoem dat daar toe veertien evangelisstudente was De Koningsbode xxvi:6; xxvii:3; NGKSAA Tydskrifte
Die werwing van kandidate om by Stofberg te studeer, het deur die jare besondere aandag geniet. In 1915 is besluit om die inrigting in die tydskrifte Ilanga la se Natal, Abantu Batho, Tse la ea Batho, Leselinyana en De Zending Bode bekend te stel. Sedert 1937 is Stofberg in koerante en omsendbriewe geadverteer, terwyl dit in 1942 na kerklike en sendingblaaie uitgebrei is. In 1950 is eerw. A.A. Odendaal as amptelike werwer aangewys wat nuusbriewe aan Die Kerkbode en Die Ligstraal sou stuur. Later is ‘n omsendbrief oor die Stofberg-opleiding deur dr. J.A. van Wyk opgestel en aan alle gemeentes van die N.G. Kerk uitgestuur (De Villiers 1972:321).
Alreeds in die vroeë twintigerjare was daar sprake van ‘n studiefonds vir evangelis-studente aan Stofberg. Die werk van mnr. W.A. Theron om evangeliste te werf en om ook die nodige finansies vir die drie-jarige kursus te bekom, het goeie vrugte opgelewer. In 1952 is die Teologiese Opleidingsfonds deur die GGK (Gesamentlike Kerkkantoor Kommissie – skrywer) in die lewe geroep. In 1958 het dit op £1,097 te staan gekom. Studente sou aansoek om finansiële hulp uit dié fonds kon doen en as gevolg daarvan kon meer manne oorweeg om studie by Stofberg aan te pak (De Villiers 1972:222-223).
Vanaf die beginjare het die swart gemeentes finansiële ondersteuning aan die inrigting gebied. Die syfers van die jaarlikse bydraes toon aan dat dit nie aansienlik was nie, maar dit het tog aangedui “dat die dogterkerke deur al die jare wel ook ‘n beskeie bydrae gelewer het tot die instandhouding van die opleidingskool van hulle seuns en dogters” (De Villiers 1972:324).
Dit is van belang dat reeds voor die oprigting van Stofberg die taalmedium van die nuwe, gesamentlike inrigting as probleem gesien is en wel vanweë die verskeidenheid etniese groepe en dus tale waarvoor voorsiening gemaak moes word. ‘n Pleidooi is gelewer dat Hollands (en later Afrikaans) en/of Engels as medium van onderrig in die plek van ‘n Bantoetaal gebruik moes word (De Villiers 1972:249).
Nie watter Westerse taal of tale nie, maar watter inheemse taal sou egter die eintlike belangrike punt van bespreking word. Reeds by die Johannesburg-vergadering (1905) was die keuse tussen Sotho, Zoeloe of beide. Dit was aanvaar dat Sotho die mees bekende taal was. By die Bloemfontein-vergadering (1905) is idealisties beklemtoon dat die opleiding in die studente se taal aangebied moes word, terwyl daar later verskil van mening was oor die vraag of een of twee inrigtings a.g.v. die taalkwessie aangewese was (De Villiers 1992:255, 265, 282).
Uit die bronne, verslae van besprekings en notules, is dit opmerklik dat daar min aandag gegee is aan die feit dat taal ‘n deel van ‘n groter konteks is. Daar is dikwels na die verskillende tale van die studente verwys, maar nie na verdere verskille van die onderskeie etniese groepe nie. Hier is bv. ter sprake die verskil van kulture, gebruike, onderwyspeil en die ‘ontvangs’ van die Evangelie deur die onderskeie etniese groepe. Daar is moontlik aanvaar dat dít wat die studente gemeenskaplik gehad het, bv. hul verbondenheid aan die N.G. Kerk en hul begeerte om as evangeliste opgelei te word, die verskille sou oorkom.
Terwyl die toelatingsvereistes om by Stofberg te studeer geleidelik verhoog is, het die onderskeie vakke wat in die driejarige leerkursus aangebied is, met die verloop van die jare nogal drasties vermeerder. Dit is voortgaande uitgebou, o.a. na aanleiding van die aantal dosente wat vir die taak beskikbaar was. Die volgende inligting gee ‘n idee van hoe die kursus ontwikkel het:
1908:
Bybel, Bybelgeskiedenis, Uitlegkunde, Geloofsleer, Kerkgeskiedenis en Predikkunde.
1928:
Inleiding tot die Bybelboeke, Bybelgeskiedenis en -aardrykskunde, Bybelstudie, Kategismus, Christelike etiek, Sektes en ander kerke, Kerkregering, Kerkgeskiedenis, Preekoefening, Pastoraal, Burgerleer en Sosiologie.
1952:
Die kursus is nou in vyf hoofgroepe verdeel:
- Ou Testament – Inleiding en Kanon, Bybelgeskiedenis en Eksegese.
- Nuwe Testament – Inleiding en Kanon, Bybelgeskiedenis en Eksegese.
- Dogmatiese vakke – Kerkleer, Etiek, Geskiedenis van die Kerkleer, Sektes en Apologetiek.
- Historiese vakke – Algemene Kerkgeskiedenis, Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis en Sendinggeskiedenis.
- Praktiese vakke – Pastoraal, Kategetiek, Preekkunde, Preke en sketse, Kerklike administrasie, Kerkreg en Ekonomie.
Toe die kursus sy finale beslag gekry het, het die vakke dus vanaf die aanvanklike ses na 20 vermeerder (De Villiers 1972:328). In die lig van die reuse sendingtaak wat op hande was en daarby die feit dat daar ‘n terdeë bewustheid van die dringendheid en omvang van hierdie taak was, is dit opvallend dat geen noemenswaardige plek aan missiologie gegee is nie. Tog skryf die rektor van Decoligny later oor hierdie belangrike saak: “Dit is … neergelegde beleid van al vier Teologiese Skole Stofberg om, afgesien van die suiwer sendingkundige vakke wat aangebied word, in elke ander teologiese vak die sendingkant daarvan te beklemtoon. Die hele kursus is gevolglik missionêr ingestel” (Du Preez 1973:28).
Gedesentraliseerde Opleiding
Hoofsaaklik a.g.v. sekulêre ontwikkelinge – soos hieronder sal blyk – het die einde van ‘n tydvak van gesamentlike teologiese opleiding by die Stofberg-Gedenkskool deur die N.G. Kerk in 1959 aangebreek. Nadat dit vir ‘n halfeeu aangebied is, het dit verdwyn, maar dié onontbeerlike werk sou in ‘n nuwe gedaante voortgesit word.
In 1958 het die ligging van die hele Stofberg-kompleks in die gedrang gekom. Die blanke parlement van Suid-Afrika het naamlik daarop aangedring “dat die Stofberg-Gedenkskool by Viljoensdrif verskuif moet word, omdat dit in blanke gebied val, en dr. H.F. Verwoerd gevra het dat ‘n skool vir elke volk opgerig moet word” (Skeen 1984:168). Daar is “aanbeveel dat die kerke ook hulle teologiese opleiding by die etniese groepe en tale sal laat aanpas, d.w.s. daar sal meer as een Stofberg wees” (De Villiers 1972:409).
Die gedagte van verskillende skole is “na aanvanklike twyfel en teenkanting, aanvaar” (Skeen 1984:167). In 1958 het die Bestuur van Stofberg die beleid van desentralisasie voorgestaan en dit is deur die vier N.G. Kerk sinodes, aan wie Stofberg behoort het, finaal gesanksioneer. Daar is ook besluit dat die beheer van fondse deur ‘n sentrale bestuur behartig sal word en om die opleiding na vier verskillende skole te desentraliseer (De Villiers 1972:412). Die verspreide opleiding sou onder een sentrale bestuur funksioneer, terwyl elke skool sy eie plaaslike bestuur sou hê.
In 1960 is die proses van desentralisering voltooi toe die Stofberg Teologiese Skole tot stand gekom het. Die Algemene Sinode van die N.G. Kerk (wat in 1962 verenig het) het verantwoordelikheid vir die opleiding aanvaar, terwyl die N.G. Kerk in Afrika op beide die Sentrale Bestuur en die Plaaslike Besture van die vier onderskeie skole verteenwoordig is. Die Sentrale Bestuur sou sorg dat eenvormige beleid gehandhaaf word. Die opleiding sou voortaan by Witsieshoek in die Vrystaat, by Turfloop naby Polokwane (destyds Pietersburg), by Dingaanstat in Natal en by Decoligny naby Mthatha begin of voortgesit word (Crafford 1982:505-506).
In 1970, meer as sestig jaar na die aanvang van die opleiding van evangeliste, het die Sentrale Bestuur oor “Die evangelis en sy opleiding” besin. Die skriftuurlike grondslag van die amp van die evangelis, die taak van die evangelis en die toekoms van die evangelis en sy opleiding het ter sprake gekom. Die bevinding dat dit wenslik was “om as beleid te stel dat die opleiding van evangeliste nie onbepaald voortgesit kan word nie, maar beëindig behoort te word”, was van belang – ook vir die voortbestaan van die evangeliste-opleiding by Decoligny. (Notule van die Sentrale Bestuur, 10-12 Maart 1970, p.15, punt 52c; NGKSAA VGK-Sin 6).
Terugskouend
Die Stofberg-Gedenkskool het nie net teologiese opleiding gebied nie, maar moes dieselfde tyd dien as onmisbare voedingsbron vir kandidate om die teologiese opleiding na behore te kon benut. Die algemene onderwyspeil onder swartmense was laag, terwyl die meeste studente ‘n akademiese agterstand gehad het. Stofberg was in werklikheid later ‘n kompleks met vyf afdelings: ‘n primêre, sekondêre, normaal-, Bybel- en teologiese skool. Fasiliteite is vir studente geskep om van ‘n laer onderwyspeil na ‘n hoër een te vorder en om sodoende beter toegerus te kan word vir die bediening.
Al het die besluit – met die stigting van die skool – om die opleiding van die sprekers van verskillende inheemse tale gesamentlik te onderneem, voordele gehad, was daar ook nadele aan verbonde. Afgesien van Sotho kon geen van die ander inheemse tale tot hul reg kom nie. Dit is daarom belangrik dat daar met die verloop van tyd vir nie-Sotho groepe voorsiening gemaak sou word. Die besluit van 1959 om te desentraliseer was daarom in ‘n sekere sin ‘n natuurlike en gunstige ontwikkeling (De Villiers 1972:414), ten spyte van die feit dat dit soos hierbo aangedui, van staatskant gedwonge was.
Watter vrug het die opleiding van evangeliste en ander studente aan die Stofberg-Gedenkskool opgelewer? Toe die inrigting in 1984 75 jaar oud was, is die geleentheid in Witsieshoek gevier. Op daardie stadium het 1,217 evangeliste die kursus by die Skool voltooi (Skeen 1984:168). Die waarde van dié opleiding moet egter nie bloot van getalle afgelei word nie: “Die waarde van Stofberg moet veral daarin gesoek word, dat dit ‘n instrument in die hand van die Here was om oor ‘n tydperk van 50 jaar genoeg werkkragte te voorsien vir die steeds groter wordende aantal gemeentes van die dogterkerk. Hierdie manne is gevorm in ‘n gesonde geestelike atmosfeer, met die klem op die Woord van God. Deur die egtheid van hulle geloof en die kwaliteit van hulle lewe, het honderde van die kwekelinge van die Stofberg-gedenkskool tot groot seën gewerk in die deel van die kerk in Afrika waar God hulle geroep het” (De Villiers 1972:417).
Bron: Met erkenning aan prof Piet Jonas vir die opsomming.