de Jongh, Christian

Christian de Jongh, 1922 — 1929.

‘n Seun van die gemeente Koppies. O.V.S., het hy in 1922 as assistent-boumeester na Nyasaland gegaan. Onder sy medewerkers was hy as ,,Omie” bekend. Sy stille, bedaarde houding en vriendelike maniere het hom ‘n warme plek in die harte van almal verseker. Hy was meester van sy vak en geen rnoeilikhede in sy werk kon hom ontmoedig nie. Veral het hierdie karaktertrek van volharding geblyk tydens die bou van die Kasungu-kerk, toe daar byna onoorkomelike moeilikhede was deur gebrek aan werksvolk, ens. Hy was veral bekend vir sy kalmte en dapperheid in die grootste gevaar. En miskien was dit die oorsaak van sy dood. Hy het reeds elf leeus en drie-en-twintig tiers verniel, sommige toe hulle op hom stormgeloop het, daar hy ‘n dodelike skut was. Toe hy op Vrydagmore, 15 Maart, verneem dat ‘n tier die volk van hulle tuine verjaag het, ‘n halfmyl van Mkhoma-stasie het hy dadelik met ‘n paar volk daarheen gegaan. Met die eerste skoot skiet hy die tier se agterbeen af, en toe hulle die gewonde dier agtervolg, bestorm dit sy jong wat ‘n ekstra geweer dra, byt hom ‘n diep wand in die arm en verdwyn. Later gaan hy weer agter die tier aan in die ruwe gras en toe hy weer op hom skiet, bestorm die dier hom bliksemsnel en spring hom onderstebo. Daar vind toe ‘n hewige geveg plaas, waarin die broer se hande en bene en mond gruwelik verskeur word. Die geweerdraer kom toe by en wond die tier met sy asgaai in die blad, toe die oudier in die gras vlug, waar die volk hom die volgende dag gedood het, maar nie voordat hy nog twee ander van hulle ernstig gewond het nie. Br. de Jongh het toe na die huis van P. van Wyk gesukkel waar sy wonde verpleeg is. Maar ofskoon die wonde skoon was en begin genees het, het die broeder ‘n voorgevoel gehad dat dit sy einde was, en op die 23ste Maart het sy hart skieIik verswak en binne enige nra was hy nie meer nie. Hy was ‘n toegewyde dienskneg van die Heer en het elke Sondag wat hy te Mkhoma was, na ‘n buitepos gegaan om die liefde van Christus te gaan verkondig. (Bron: Murray, A.C. 1931. Ons Nyasa-akker – geskiedenis van die Nyasa sending van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. p. 315-6)