Daneel, Marthinus Smuts * 1912

 

Gebore

25 Nov. 1912

OORLEDE

20 Aug. 1997

UNIVERSITEIT

BA BTh (US)

gelegitimeer

1937

ORDEN

1938

STANDPLASE

1938 Mvera

1940 Kasungu

1952 Salisbury

EMIRITEER

Apr 1980

Ds Marthinus Smuts Daneel (BA, BTh) 25 Nov. 1912 – 20 Aug. 1997

Ds Marthinus Daneel het veral in Malawi en in die destydse Rhodesië baie diep spore getrap. Hy is op 25 November op Fraserburg gebore as seun van ‘ n predikant, ook ds MS Daneel. Sy broer is ds George Daneel, oudste lewende rugby-Springbok. Sy skoolopleiding het op Victoria-Wes begin, maar hy matrikuleer in 1930 op Somerset-Oos. Hy ontvang ook hier ‘n beurs om universiteit toe te gaan. Hy was daardie tyd ‘n uitblinker op sportgebied. Hy het sy BA-graad en later, in 1937, ook sy BTh-graad, aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Hy het reeds tydens sy studiejare intens belanggestel in die sending. Hy het ook sy gewig by die destydse CSV ingegooi en in die bestuur van die universiteitstak gedien. Hy is aan die einde van 1937 gelegitimeer.

In 1938 het hy na Mvera in Malawi gegaan waar hy baanbrekerswerk gedoen het. In 1940 het hy na Kasungu gegaan en vanaf 1952 was hy werksaam vanaf Salisbury. In hierdie tyd het hy die evangelie aan duisende swart mense verkondig veral deur middel van filmvertonings. Hy het ongeveer 20 kerkies in Malawi en Zimbabwe gebou. In 1977 het hy weens siekte by die dood omgedraai, maar hy het wonderbaarlik herstel. Hy het die voorreg gehad om deel te neem aan die stigting van die Sinode van KMAP (Kerk van Midde-Afrika Presbiteriaans) en was vir 10 jaar lank die moderator van hierdie sinode.

Sy eerste vrou was Elsie Maria Hugo. Hulle het drie kinders, Louise, Marthinusen Winifred, gehad en na haar afsterwe was daar reeds agt kleinkinders. Na Elsie se dood is hy op 20 November 1996 met Lydia Bouwer (gebore Lutz) getroud. Sy was die weduwee van mnr Bouwer wat ook besonder belanggestel het in die sending en wat met sy dood ‘n hoewe naby Harare aan die kerk bemaak het. Op hierdie hoewe het ds Daneel ‘n sentrum opgerig wat ontwikkel het in ‘n Bybelskool en waar die sittings van die KMAP-sinode Harare gehou is.

Ds Marthinus Daneel het in April 1980 geëmeriteer en in die Strand gaan woon. Lank na sy aftrede het hy nog hospitaalbearbeiding onder swart en bruin mense in die Skiereiland en die Strand gedoen. As literêre nalatenskap het hy die geskiedenis van KMAP-Harare in die Chewataal geskryf.

Hy sal nog lank onthou word as ‘n toegewyde en baie bekwame dienskneg van die Here. Maar hy was ook ‘n praktiese mens wat met sy hande kon werk en self help bou het aan die talle kerkies wat as monumente vir hom in Malawi en Zimbabwe staan. – Dirk Viljoen, aan die hand van ds Daneel se biografiese vorm wat hy op 1 Februarie 1997 ingevul het (Jaarboek).