Botha, Pieter Barend * 1924

Ds PB Botha

Gebore

17 Des. 1924

OORLEDE

02 Apr. 2009

UNIVERSITEIT

BA, M.A. (US)

gelegitimeer

1950

ORDEN

1951

STANDPLASE

1951 Clarens

1956 Senekal-De Rust

1963 Theunissen

1968 Universitas

EMIRITEER

1990

Pieter Barend Botha is op 17 Desember 1924 as die tweede jongste van ses kinders op De Doorns naby Worcester gebore. Die familie het hom Pieter genoem, maar by kerkmense was hy as Piet bekend. In 1928 het sy ouers as wingerdboere na Barrydale verhuis, waar hy later as vervoerkontrakteur goedere en pos tussen Barrydale en Buffeljagsrivierstasie vervoer het. Destyds was dit nog ‘n grondpad oor die Tradouwpas. Piet het altyd saam met sy pa gery, en die ervaring het hom sy hele leeftyd bygebly. Hy het sy skoolopleiding op Barrydale begin en was die laaste drie jaar van sy skoolloopbaan ‘n leerling aan die Hoër Jongenskool, Paarl, waar hy gematrikuleer het.

Piet het van kleins af geroepe gevoel om predikant te word, daarom het sy pad na matriek in die oorlogsjare (1939-1945) na die Universiteit Stellenbosch geloop, waar hy die graad BA (Admissie) behaal het. Hy het ook in Wysbegeerte presteer en later sy MA-graad behaal. Piet het vir die universiteit se eerste hokkiespan gespeel. In 1947 het hy hom ingeskryf aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy die teologie geniet en aan die einde van 1950 as proponent gelegitimeer is.

Proponent Piet Botha is op 4 Augustus1951 met handoplegging in die NG Gemeente Clarens in die omgewing van Golden Gate in die Oos-Vrystaat bevestig. Hy was een van die begenadigde leraars wat sy hele bediening van 40 jaar in die Vrystaatse kerk gewerk het. Op 5 Januarie 1952 is hy op Barrydale met Lourencia Lydia Oosthuizen, dogter van eerw. BF Oosthuizen, legendariese en geliefde sendingleraar op Barrydale, getroud. Dit was vir die leraarspaar ‘n wonderlike begin op Clarens. Op 1 Desember 1956 het Piet leraar van die NG Gemeente Senekal-De Rust geword, waar hy agt jaar lank die dorp en boere in die distrik aangeraak het met sy minsame geaardheid.

Die naweek van 24 tot 26 Januarie 1964 is die egpaar ontvang en bevestig in die NG Gemeente Theunissen, ‘n boeregemeenskap, Nadat hy verskeie beroepe bedank het, het hy ‘n beroep aanvaar na die NG Gemeente Universitas in Bloemfontein, waar hy op 28 Januarie 1968 ontvang en bevestig is. Piet was 22 jaar lank leraar in Universitas en het met verskeie medeleraars saamgewerk, onder andere met die liefdevolle en gerespekteerde kerkman dr Evert Kleynhans. Ds. Piet Botha was ‘n leraar met baie talente en het ook die Vrystaatse kerk jare lank in die moderatuur gedien, by geleentheid ook as moderator. In sy bediening het hy 35 beroepe ontvang en hom as ‘n geroepe bedienaar van die Woord onderskei. Hy was baie lief vir huisbesoek en prediking en het hom daarin uitgeleef.

Tydens sy dienstyd het Bloemfontein gegroei en verskeie gemeentes het afgestig, onder meer die studentegemeente Kovsie-kampus. Hy het dikwels uitsaaidienste waargeneem en was jare lank voorsitter van die SKDB in die Vrystaat. Op 30 April 1990 het ds. Piet sy emeritaat aanvaar en daarna het hulle in die buurgemeente Langenhovenpark gaan woon. Op 30 Oktober 1994 moes hy sy vrou aan die dood afstaan na ‘n huwelik van 42 jaar. Ds. Piet is daarna op 12 April 1997 met Riana Adendorff getroud.

Ds. Piet is op 2 April 2009 na ‘n siekbed van vyf weke oorlede en is op 7 April vanuit die NG Gemeente Universitas begrawe, waar die Vrystaatse moderator, dr Pieter van Jaarsveld van Bothaville, ‘n huldeblyk gelewer het. Hy word benewens sy vrou oorleef deur vyf kinders: ds. Deon Botha van Texas in die VSA, Michelle Schutte van Pretoria, Lourencia Janse van Rensburg van Wesselsbron, Zena  Kruger en Cecile Venter, albei van Bloemfontein. Sy vrou Riana skryf: “Hy was baie toegewyd en geliefd in al die gemeentes wat hy bedien het, sy werk was altyd netjies en presies, soos sy persoonlike lewe. Sy passie was om in diens van die Here te staan.” (Jaarboek 2010/385).