Botha, Ockert Johannes

 

Gebore

23 Des 1956

OORLEDE

16 Sept.1994

UNIVERSITEIT

BA, BD (UP)

gelegitimeer

ORDEN

STANDPLASE

1989 Ermelo

1992 Demissie

1993 Weltevreden

EMIRITEER

“Buurman” Botha is op 23 Desember 1956 op Nylstroom gebore. Hy het opgegroei as een van vyf kinders op ‘n plaas naby Carolina, waar hy ook gematrikuleer het. Hy het die naam ‘Buurman’ gekry omdat hy as klein seuntjie gereeld aan hulle eie voordeur geklop het en dan gesê het: Naand, Buurman!’

Aanvanklik het hy gaan boer. As boer het hy ingeskakel by die kerk, veral by die propagering en reëling van skoolverlaterskampe in Oos-Transvaal. Die Here roep hom as predikant en hy begin sy studies aan die Universiteit van Pretoria (UP); As student dien hy as voorsitter van die Studenteraad, “Deo Gloria” en UKJA. Hy is ook ondervoorsitter van die Huiskomitee van Sonop. Ook op sport- en kultuurgebied presteer hy en ontvang as erkenning die studenteraads-medalje (die hoogste toekenning van ‘n student aan UP); Hy verwerf ook Dux-kleure.

Sy eerste gemeente was Ermelo waar hy 3 Februarie 1989 bevestig is. In die kort tydjie wat hy daar is, dien hy reeds as skriba van die ring is voorsitter van die Ringskommissie vir die Diens van Barmhartigheid.

In Augustus 1992 ontvang hy demissie met die oog op verdere studie en verhuis hy en sy gesin na Randburg. In 1993 staak hy die studies en word weer beroepbaar gestel. Hy word beroep na die NG Gemeente Weltevrede met opdrag Polisie bearbeiding.

In die polisie het hy veral aandag gegee aan kontakkampe en kleingroepe waarmee hy baie sukses behaal het. Hy doen ook evangelisasieopleiding. Hy het ook ‘n besondere slag met kinders gehad en ‘n wonderkermis by Weltevrede was ‘n besondere geleentheid wat hy gereel het. Hy het ook as fasiliteerder in ander gemeentes opgetree aangesien sy BD-skripsie gehandel het oor die bestuurstaak van die predikant in die gemeente. Hy was voorts betrokke by die rekenaarprogram vir kinders ‘Walk Thru the Bible’ wat gerig is op die opleiding van gelowiges. Sy godsdiens was prakties en so ook sy preke. Hy wou die Woord laat grondvat in the alledaagse lewe. In die laaste tyd van sy lewe was hy betrokke by hulpverlening aan mense wat hulle werk verloor het.

Saam met sy studentemaat en boesemvriend ds. Pieter Boshoff wat ook polisiekapelaan was het hy ʼn  orienteringskursus by die Polisiekollege in die PaarI bygewoon en hulle twee is daardie naweek na Namakwaland om blomme te gaan kyk. Op 16 September 1994 sterf hulle albei in ‘n grusame motorongeluk.

Buurman Botha was ‘n persoon van wie baie mooi dinge gesê kan word. Hy was ‘n aangename mens om mee saam te werk. Kenmerkend was sy leierseienskappe en sy vermoë om met mense te werk. Hy was getroud met Heidi Groenewald en hulle het twee seuns: Wikus en Ruhen. Hy was ‘n gesinsman en het saam met sy vrou as ‘n span in die gemeente gewerk. Hy het intens met mense saam geleef en was ook lief vir die natuur, klassieke musiek en die uitvoerende kunste.- Kobus Sandenbergh – verwerk deur DJ Viljoen. (Jaarboek 1994)