Boshoff, Pieter Van Zyl

 

Gebore

10 Jul. 1960

OORLEDE

16 Sept. 1994

UNIVERSITEIT

B.Com. BA. BD

gelegitimeer

ORDEN

STANDPLASE

 –

EMIRITEER

Pieter Boshoff is op 10 Julie 1960 gebore op Potgietersrus waar hy ook op laerskool was en hoofseun was. Op 16 September 1994 is hy, saam met ds. Bumman Botha, oorlede in ‘n tragiese motorongeluk naby Moorreesburg.

Sy hoërskoolonderrig het hy ontvang aan die Hoërskool EG Jansen op Boksburg. Behalwe verskeie sportsoorte waaraan hy deelgeneem het, was hy ook redakteur van die skoolkoerant en lid van die leerlingraad. Hy ontvang ook akademiese, kulturele en weterskaps-erekleure van die skool. In daardie stadium was hy ook lid van die Junior Stadsraad van Boksburg en voorsitter van die Senior Kerk-Jeug-aksie (SKJA) en kategeet.

Na sy skoolloophaan het hy eers ‘n B.Com-graad (1986) in Handelsrekenaarswetenskap verwerf en toe die BA- ( 1981) en BD-graad (1991) aan die Teologiese Fakulteit, Afdeling B. Pretoria.

Tydens sy universiteitsverblyf het hy ʼn leidende rol gespeel in die studente, sosiale, godsdienstige en kerklike lewe. Hy was voorsitter van die gemeente Universiteitsoord se Universiteits Kerk Jeug-aksie (UKJA) in 1986/87: hy is ook diaken en ouderling met opdrag jeugbediening; voorsitter van die Studenteraad sowel as van Deo Gloria in 1988. Pieter het ‘n leidende rol gespeel in die studente-organisasie Jeugkrag waar hy takvoorsitter was en ook lid van die nasionale uitvoerende komitee. Hy doseer vir vyfjaar aan die Buitekurrikulêre Sentrum vir Hoogsbegaafde leerlinge. Akademies was hy ʼn pligsgetroue en roepingsbewuste student. Hy ontvang Studenteraadsmedaljes akademiese en leierskaps-erekleure (dus) asook die Studenteraad se eremedalje.

In 1992 het hy sy militêre diensplig gedoen en was in hierdie tyd ook ouderling in Wonderboomgemeente en kategeet. Hy ontvang die genl. Maj. JA van Zyl wisseltrofee vir die beste student in die leer en ook aanprysingssertifikate as bevelvoerder en grensdiens.

In 1993 is hy beroep as kapelaan na Pretoria Polisiekollege, waar hy met groot sukses gearbei het en by die inligtingsdiens betrokke was. Hy was juis besig met ‘n orienteringskurses in die Paarl toe die ongeluk plaasgevind het. Hy was ook betrokke by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Opleidingskollege in Pretoria-Wes.

Hy het sterk leiding gegee in die kursusse Walk Thru the Bible en het as rekenaardeskundige die Logosprogram vir rekenaars ingevoer, waarvan hy die ideaal gekoester het dat dit grootskaals benut kan word met die oog op die bediening. Hy was betrokke hy die daarstelling van die Bybel op rekenaar. Kort voor sy dood het hy ‘n rol gespeel in die kommissie vir werkverskaffing vir proponente, waarvan hy die skriba was.

As persoon was hy ‘n nederige mens maar ʼn dinamiese leier wat doelgerig maar sensitief teen oor almal opgetree het. Hy was ‘n aangename en joviale mens met gemaklike menseverhoudings.

Hy was ongetroud en laat ‘ n moeder, ʼn broer en twee susters na. DJ Viljoen. (Jaarboek 19 ).