Christelike Afrikaanse Rolprent en Fotografiese Organisasie (CARFO)
In 1939 het ‘n groep Afrikaners byeengekom en die Volksrolprentbond gestig om die invloed van die Engelse en Hollywood-filmbedryf teen te werk. Dit het later ontbind en dan in 1940 herleef as die Reddingsdaadbond-Amateurrolprentorganisasie (RARO) met die ondersteuning van die Reddingsdaadbond. Uiteindelik het ‘n groepie predikante van die NG Kerk en ‘n paar lede van die ontbinde RARO in 1947 die Christelike Afrikaanse Rolprent en Fotografiese Organisasie (CARFO) gestig. In September 1947 is dit as ‘n nie-winsgewende organisasie gestig met ds Rudolf Raath as die besturende direkteur.
In die begin is semi-dokumentêre films vervaardig van wisselende kwaliteit. Later is begin om vollengte speelfilms te maak en die gehalte het aansienlik verbeter. CARFO se films was veral op die platteland baie gewild omdat hulle op die afgeleë klein dorpe in kerksale vertoon is. Verskeie van die films is vervaardig onder regie van Kappie Botha en die draaiboeke is geskryf deur sy vrou Odie (Euodia Kritzinger).

Die volgende films is vervaardig:
- Ek sal opstaan
- Kyk na die sterre
- Die hele dorp weet
- Gee my jou hand
- Die reen kom weer
- Die voortreflike familie Smit
- Bennie Boet
- Twee broers ry saam
- Hulda Versteegh MD
- K9 Baaspatrolliehond
- Afspraak in die Kalahari
- Vrou uit die nag
- Ridder van die grootpad
- Terug na Thaba
- Irma
Klik hier vir die lys van films en die akteurs wat daarin verskyn.