Van Loggerenberg, Daniel Tobias

 

GEBORE

6 April 1928

OORLEDE

4 Desember 2000

UNIVERSITEIT

Pretoria

gelegitimeer

1954

GEORDEN

1955

standplase

1955 Petronella

1960 Soutpansberg

1967 Premiermyn

Emeriteer

7 September 1987

Ds. Daniël Tobias van Loggerenberg se lewensberig in die APK se Die Boodskapper van Maart 2001 is deur ds. W.M. Grové geskryf.

“Met ‘n byeenkoms van die Kerkjeugvereniging van die Ned. Geref. Kerk, Pretoria-Oos het ons mekaar ontmoet. Die teenstelling was opvallend: ‘n grootse kerkgebou van sandsteen en twee mense, klein van postuur – veral hy die (kortste) van ons twee. Groot is inderdaad die Koninkryk wat hy met toewyding en buitengewone nederigheid gedien het. Loggie – soos wat hy meestal bekend was – het in Ermelo groot geword en ook daar gematrikuleer. Aan die Universiteit van Pretoria voltooi hy sy studie in 1954. Sy gemeentebediening begin 1955 in die NG Gemeente Petronella, noord van Pretoria nadat hy as proponent vir `n tyd lank in Premiermyn gehelp en `n beroep daarheen bedank het. Daarna bedien hy Soutpansberg (Louis Trichardt) vir 7 jaar en toe Premiermyn vir sowat 19 jaar. Hier emeriteer hy in 1986 om swak gesondheidsredes – ernstige nierprobleme; hy ontvang dan ook `n nier.

“Hy was getroud met Maria Eliza-beth du Preez. Uit die huwelik is een seun en twee dogters gebore. Marietjie het soortgelyke probleme gehad en het ook `n nier ontvang. As jeugdige het hy polio gehad en merkwaardig herstel. Ten spyte van `n swak gestel (of juis ten bate van sy gesondheid) het hy as student deelgeneem aan boks en in sy volwasse lewe baie belang gestel in kampeer, jag en visvang.

“Na vier jaar as geëmeriteerde van die NG Kerk, word hy op 28.01.1990 predikant van die Afrikaanse Protestantse Kerk. Vanaf 01.08.1990 was hy bedienaar van die Woord in AP Kerk Trans-Magalies tot 30.04.1998 toe hy geëmeriteer het. Marietjie het hom op 19.04.1999 ontval. Loggie het egter nog bly werk in Trans-Magalies totdat hulle `n nuwe leraar in Januarie 1999 ontvang het. Toe het hy oral rond gehelp waar hy gevra is, totdat sy gesondheid hom dit nie meer toegelaat het nie.

“Al is Loggie nie meer by ons nie, bly sigbare bouwerk aan sy arbeid herinner, naamlik kerkgeboue in NG Kerk Soutpansberg, Premiermyn en AP Kerk Trans-Magalies. Monumentale geestelike bouwerk wat met groot liefde en getrouheid deur hierdie minsame dienskneg van die Here gedoen is – hy was `n uitnemende herder – kan ons nie sien nie, net daarvan weet en saam met hom sy Here prys.”