
GEBORE
11 Feb. 1919
OORLEDE
30 Jun. 1984
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
–
ORDEN
–
STANDPLASE
–
EMERITEER
–
Ds Albertus Venter Strydom (11.2.1919 – 30.6.1984) van Ermelo is slegs twee maande nadat hy einde April afgetree het, onverwags Oorlede. Hy geniet sy skoolopleiding op sy geboorteplek, Dordrecht in Noordoos-Kaapland, en werk na matriek agt jaar in die staatsdiens en in ‘n mynkantoor en lê algaande ook eksamens af wat op sy werk betrekking het, voordat hy in 1947 na die Universiteit Pretoria gaan om hom as predikant te bekwaam. Nadat hy beide die BA-graad en die Diploma in Teologie daar met lof behaal het en in 1953 gelegitimeer is, tree hy begin 1954 as die eerste predikant van Groenkloof (Pretoria) in die bediening. Van 1960 af staan hy vier jaar lank in die NGKA-gemeentes Boksburg en Mamelodi (Oostelike Pretoria) (1962); voordat hy na die bediening in die Moederkerk terugkeer om agtereenvolgens in Boksburg-Suid, Chrissies meer (1969) en Ermelo (1973) werksaam te wees. In 1960 was hy so ernstig siek dat hy in die loop van vyf maande ses operasies moes ondergaan. Drie maal het die geneeshere hom as sterwend beskou, maar telkens het hy op die volhardende gebed van baie herstel. Na sy aftrede sou hy nog as kollektant vir die Teologiese Opleidingsfonds optree. Hy was voorsitter van die Sinodale Begrotings- en Bedieningsfondskommissie van Oos-Transvaal en ook lid van die Algemene Fondsekommissie en die Transvaalse Kerkkantoorkommissie. Een van sy drie seuns, Gerrie, het in 1982 die eksamen vir DD geslaag en is tans dienspligkapelaan by die Lugmagkollege by Pretoria.