NG Gemeente De Hoop

Die klipsteenkerk met sitplek vir 700 kerkgangers, toring en uurwerk het slegs £4 810 gekos en is op 30 April 1910 ingewy. Foto: Morné van Rooyen

Gestig

5 April 1911

AFGestig VAN

Oudtshoorn

INGELYF BY

Oudtshoorn-Park

Ring

Oudtshoorn

Adres

De Hoop, distrik Oudtshoorn

Sluit in

De Hoop en omgewing

Eerste predikant

George Murray (1911-1916)


Die NG Gemeente De Hoop was ’n gemeente met sy middelpunt op die landbounedersetting De Hoop, sowat 14 km wes van Oudtshoorn. Omdat die gemeenskap mettertyd gekwyn het en daarmee saam die gemeente, is dit later by die gemeente Oudtshoorn-Park ingelyf.

Agtergrond

’n Sterk gemeenskap het van omstreeks 1850 af opgebloei in die omgewing rondom Oudtshoorn, waar die moedergemeente eers op 11 Oktober 1853 as die 53ste gemeente in die NG Kerk gestig is. In 1908 het die kerkraad van die moedergemeente besluit om op ’n plaas sowat 15 km wes van die dorp erwe te verkoop en ’n kerk te bou (van dié erwe het blykbaar teen 2013, toe die Park-gemeente die kerkgebou in die mark gesit het, steeds aan die kerk behoort).

Op 5 Mei 1909 is daar op die nuwe aanleg, wat die naam De Hoop gekry het, deur ds. George Murray van Oudtshoorn die hoeksteen van ’n kerkgebou gelê. Die argitek was Watson Hall (1876–1941). Intussen is ook ’n ruim pastorie gebou waarin ds. Murray, die vader van 16 kinders, as medeleraar van Oudtshoorn sy intrek geneem het.

Kerkgebou

Die sierlike klipsteenkerkgebou met sitplek vir 700 kerkgangers, toring en uurwerk het slegs £4 810 gekos en is op 30 April 1910 ingewy. In dieselfde jaar is die stigting van ’n selfstandige gemeente deur die Ring van George goedgekeur en op 5 April 1911 voer die Ringskommissie die besluit deur. Die jong gemeente ontvang van Oudtshoorn, sonder skuld, die pastorie en kerk, asook die predikant, want op 17 Junie 1911 is die godsalige ds. Murray (toe reeds 66 jaar oud) hier bevestig deur sy gryse broer, dr. Andrew Murray, wat weens sy hoë ouderdom (83 jaar) ingelei moes word.

Ds. George Murray

De Hoop was gelukkig om die waardige ds. George Murray, met sy rype ervaring en diepe godsvrug, as eerste leraar in sy deurslaggewende beginjare te kon hê. Veral in die donker dae van die Eerste Wêreldoorlog en die gevolglike rampspoedige ineenstorting van die volstruisveerprys, was hy en sy minsame gade ’n ware vader en moeder vir die beproefde gemeente. In dié rustige, landelike omgewing het daar uit sy pen verskeie belangwekkende werke gevloei, onder meer die insigryke Oom Willem Smit en Een Beker Zonder Oor. In 1916 het ds. Murray afgetree en op 18 Mei 1921 is hy in die ouderdom van 75 jaar oorlede.

Ná ds. Murray is die herderstaf agtereenvolgens gedra deur di. F.J. de Kock (1916-’21), J.C. Lamprecht (1927-’33), H.L. Pepler (1933-’45) en A.Z.A. van Jaarsveld (1946–?).

Groei en vooruitgang

Die gemeente is telkens gestrem deur water en watersnood: die teisterende droogte van 1927 en die dekade ná 1940 asook die oorstromings van 1916 en 1932 het diep spore nagelaat. Te midde van persoonlike skommelinge was daar egter, veral in die beginjare, bestendige ontwikkeling en finansieel is die hoogtepunt in 1948 bereik. Verbeteringe is gaandeweg aangebring: die kerksaal is in 1914 al opgerig, net soos die kerk en die pastorie van die pragtige plaaslike klipgebou; elektriese ligte vir die kerk, saal en pastorie is in 1939 aangebring en die nuwe orrel is op 5 Desember 1948 ingewy. In die middel van die dekade ná 1950 is die kerksaal vergroot.

Jare nadat die gemeente ingelyf is by Oudtshoorn-Park, is die kerkgebou in 2013 in die mark geplaas vir R1 995 000. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • George Murray, 16 Jul. 1911 – 25 Apr. 1916 (emeriteer; oorlede op 18 Mei 1921)
  • Frederik Johannes Potgieter de Kock, 1916–1926
  • Johannes Christiaan Lamprecht, 1927–1933
  • Hendrik Lodewyk Pepler, 1933–1945 (waarna NG gemeente Adelaide)
  • Adriaan Zacharias Albertus van Jaarsveld, 1946–1952
  • George Muller Theunissen, 1952–1961