NG Gemeente Hofmeyr

Hofmeyr se koraalpienk NG kerkgebou.

GESTIG

1876

voorheen bekend as

NG Gemeente Maraisburg

Ring

Cradock

Adres

Voortrekkerstraat, Hofmeyr

Sluit in

Hofmeyr en omgewing

Eerste predikant

J.H. Krige (1878–1919)



Die NG Gemeente Hofmeyr is geleë in die noorde van die sinodale gebied van Oos-Kaapland. Die swaartepunt van die gemeente is die dorpie Hofmeyr aan die R390, 65 km van Cradock en 46 km van Steynsburg af geleë.

Agtergrond

Omstreeks 1870 het ene Daniel Marais op ‘n plaas op die grense van die distrikte Cradock en Albert (met sy middelpunt Burgersdorp) gewoon. Dié twee dorpe is sowat 160 km uitmekaar. In die uitvoer van sy pligte as diaken van die NG Gemeente Burgersdorp, het hy ontdek dat daar in sy omgewing jong mense was van 14 tot 16 jaar wat nog nooit die binnekant van ‘n kerk of skool gesien het nie. Hy het gevolglik besluit dat dié toestand nie langer kon voortduur nie en omdat die mense nie tot die ver verwyderde dorpe gebring kon word nie, het hy tot die oortuiging gekom dat die kerk en skool na die mense gebring moes word. Om sodoende skool en kerk na die mense te bring, is die plaas Boorfontein gekoop en die dorp Maraisburg in 1873 aangelê.

Hofmeyr se vorige kerkgebou.

Gemeentestigting

In 1876 is die gemeente Maraisburg gestig en het prop. J.H. Krige in 1878 die beroep hierheen aangeneem. Van Kaapstad af het prop. Krige en sy ewe jong vrou per boot tot in Port Elizabeth gekom. Op Alicedale, destyds die naaste spoorwegstasie, het ene mnr. C.J.F. Botha en sy broer A.L. Botha die jong egpaar met ‘n perdewa en ses muile gaan haal.

Ds. Krige het die gemeente 41 jaar lank bedien. Huisbesoek het hy met kar en perde en dikwels te perd gedoen. In 1919 het ds. Krige sy emeritaat aanvaar en het ds. B.F. van der Merwe hom opgevolg, wat sy taak in 1920 aanvaar het. Hy was van 1915 af vir die eerste vyf jaar van sy loopbaan verbonde aan die NG Gemeente Fordsburg. Gedurende ds. Van der Merwe se bediening is die ou kerk gesloop. ’n Taamlike stryd het ontstaan oor waar die nuwe kerk gebou moes word, maar uiteindelik het die kerkraad besluit die aangewese plek is op die fondament van die oue.

In 1946 het ds. Van der Merwe afgetree en is hy deur ds. Samuel. Murray opgevolg, wat van 1947 tot 1950 die herderstaf hier opgeneem het toe hy na die NG Gemeente Leonard in die destydse Suidwes-Afrika vertrek. Op 31 Maart 1951 is prop. Andries Groenewald hier georden en bevestig. Hy het in 1956 na die NG Gemeente Burgersdorp vertrek.

Naamsverandering

Ten einde verwarring met Maraisburg aan die Wes-Rand te voorkom, is die dorpie se naam in 1911 verander na Hofmeyr, ter ere van Onze Jan Hofmeyr. Omdat die NG Gemeente in Maraisburg, Transvaal, Kriel geheet het tot dit by die gemeente Florida ingelyf is, kon daar nie verwarring oor die gemeentenaam bestaan nie, maar dit is nietemin in die dekade ná 1970 ook na Hofmeyr verander. In die Jaarboek van die NG Kerke van 1973 heet die gemeente Maraisburg-Hofmeyr, maar enkele jare later net Hofmeyr.

Eerste leraar in 15 jaar

In 2016 het Hofmeyr prop. Quintin Nel beroep as leraar nadat die gemeente byna 15 jaar lank herderloos was. Prop. Nel is bevestig as predikant op Saterdag 9 April om 11:00 en lewer sy intreepreek op Sondag 10 April om 09:30. Ná die bevestiging is ‘n tee in die kerksaal aangebied en ná die intreepreek ‘n gemeente-ete in die Karoobos Lodge. Die nuwe leraar tree op 28 April in die huwelik met Kryska Bence. Albei kom van Despatch, ook in die Oos-Kaap. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • Johannes Hermanus Krige, 1878 – 1919
  • B.F. van der Merwe, 1920 – 1946
  • Samuel Murray, 1947 – 1950
  • Andries Groenewald, 1951 – 1956
  • Nathan Frans Wilson, 1959 – 1964
  • Van der Merwe, Cornelis Gerhardus, 1964 – 1967
  • Hennie Strydom, 1975 – 1980
  • Everhardus van Nuholtz (Evard) Huisamen, 1981 – 1985
  • William Stefanus Egelhoff, 1988 – 1997 (demissie)
  • Ferdinand Jacobus Johann Boll, 1998 (tydelik), 1999 – 2001
  • Quintin Nel, 2016
  • Marius Collin Barnard, 2017 – hede