NG Gemeente Dutoitspan

Die NG kerk Dutoitspan. Dis ingewy op 11 Mei 1957.

Gestig

1872

Ring

Kimberley (voorheen Dutoitspan)

Adres

H.v. Rose- en Dyerplek, Beaconsfield, Kimberley

Sluit in

Beaconsfield en omgewing

Eerste predikant

S.H. Kuhn (1877–1880)


Die NG Gemeente Dutoitspan is die oudste NG gemeente in Kimberley, hoewel die gemeente wat die latere stad se naam dra en vroeër Vooruitzicht geheet het, die NG Gemeente Kimberley, eerste ’n eie leraar beroep en bevestig het. Die twee gemeentes is kort ná mekaar in 1872 gestig.

As gevolg van die proklamasie van sir Henry Barkly in 1871 het die diamantvelde binne ’n grondgebied geval wat nie deur die Kaapse of Vrystaatse Kerk gedek is nie. Die Vrye Gemeentes van Dutoitspan en Vooruitzicht kon dus nie deur die een of ander Ring van die genoemde Kerke “afgestig” word nie, soos die gebruik was.

Die gemeente Dutoitspan se sinkkerkie is op 1 Desember 1881 ingewy. Dit het 81 jaar diens in die gemeente gedoen: van 1 Desember 1881 tot Julie 1940 as kerk en van 1940 as kerksaal, waarna dit in 1962 gesloop is.

Die Kaapse Sinode het egter tydens sy sitting in 1870, met dr. Philip Eduard Faure van die NG Gemeente Wynberg as moderator, die noodsaaklikheid van die geestelike bearbeiding van die delwers besef en besluit om ’n afgevaardigde na die diamantveld te stuur. Die keuse het geval op ds. G.W. Stegmann sr. en op 16 Februarie 1871 vertrek hy na Dutoitspan.

In Julie 1871 het ’n vergadering van die lidmate van die NG Kerk op Dutoitspan byeengekom om die eerste kerktent-komitee te kies. Op 10 April 1872 is ’n versoek voor die Ring van Fauresmith gelê om te vra dat die gemeentes van Dutoitspan en New Rush (Kimberley) gestig word.

Dutoitspan was die eerste werkkring van die NG Kerk hier en is die oudste gemeente van die Kerk op die diamantveld. Die plaaslike ring het lank die naam Dutoitspan gedra, waarna Kimberley ’n afsonderlike ring geword het, net om eindelik met Dutoitspan saam te smelt onder die naam Ring van Kimberley, toe te min gemeentes oorgebly het om twee ringe te regverdig. Dit was nadat die gemeentes Kimberley-Noord, -Suid en -Militêr in 1999 as Kimberley-Harmonie saamgesmelt het.

Ds. P.J. Perold se bediening

Binne vier maande ná die vertrek van ds. Abraham Kriel na die Rand in 1893 het Dutoitspan verneem dat prop. P.J. Perold, tydelike hulpprediker van Oudtshoorn, die beroep na Dutoitspan aangeneem het. Op Vrydagoggend 30 Junie 1893, was ’n groot aantal gemeentelede op die Beaconsfield-stasie om die jong leraar en sy eggenote te verwelkom. Alles in die natuur was nat en mooi, want dit het die vorige aand baie gereën.

Ná die gebruiklike bekendstelling is almal na die Mission Hall. Ds. J.D. Kestell, die konsulent, het daar ’n gebed gedoen en daarna ’n kort welkomswoord tot hulle gerig. Namens die kerkraad het die skriba toe ’n adres aan hulle voorgelees. Die gemeentelike verwelkoming het die Vrydagaand in die Beaconsfieldstadsaal plaasgevind. Op die “tea meeting”, te midde van die gemeente, vriende, ds. J.D. Kestell en ander besoekende predikante het die burgemeester, namens die plaaslike stadsraad, ds. en mev. Perold baie hartlik verwelkom. ’n Aantal dames het gesorg vir ’n paar lieflike musieknommers.

Met die bevestiging, op Saterdagaand 2 Julie het ds. P.J. Perold, die nuwe predikant se broer, van Warrenton die bevestigingsrede gelewer. Die volgende dag, Sondag, het die jong leraar ’n treffende intreerede na aanleiding van Hebreërs 10:7 gehou: Kyk, ek kom om U wil, O God, te doen. Hy het dit baie duidelik gestel dat hy gekom het om te dien, solank die diens na die Wil van God is. In geen ander sin kon hy die dienaar van die gemeente wees nie. Almal teenwoordig was dankbaar dat die vakature so gou weer gevul is.

Op sy eerste kerkraadsvervadering het hy in sy toespraak voor die kerkraadslede dit beklemtoon: “Dat wy ons van den Heere geroepen gevoelen moeten om Gods werk te doen.” Daarna is al die belangrike boeke van die gemeente, soos die “wette en bepalinge”, notules, registers en dokumente deur die kerkraad vir veilige bewaring aan ds. Perold toevertrou.

Behalwe sy gewone gemeentelike werk wat hy met toewyding verrig het, is die volgende belangrike besluite deur die kerkraad geneem is: In die toekoms sou daar twee tafels met die Nagmaalsviering wees, een vir dames. Verder sou daar in die vervolg twee maal per jaar katkisasie en aanneming gehou word; eenmaal elke ses weke sou hy ’n diens op Duplooysburg gaan hou; en een diens per maand, op ’n Sondagaand, sou in Engels gehou word.

Voorts is herstelwerk aan die pastorie goedgekeur; drinkwatertenks is voorsien; die preekstoel sou verander word en ’n nuwe musiekinstrument is uit Europa bestel. Die publieke skool, onder die bekwame leiding van die skoolhoof, mnr. R. Keating en sy vier assistente, is nog in die skoolgebou van die kerkraad gehuisves. Die leraar en sy kerkraad het opregte belangstelling in die vordering van die leerlinge getoon en jaarliks die is deur 15 onderwysers onderrig. Ook die twee jongeliedeverenigings in Dutoitspan en Duplooysburg het nog die belangstelling van die jong mense geprikkel.

Vroeg in 1895 het ds. Perold beroepe na Sutherland en Franschhoek ontvang. Tot groot teleurstelling van die gemeente besluit hy om na Franschhoek te gaan. Op 14 April, tydens ’n groot Nagmaal, is van Duplooysburg afskeid geneem. Die opkoms was buitengewoon groot omdat die band tussen Duplooysburg en die leraar “innig en nou was”.

Ná die diens is ’n adres en ’n beurs aan hom alleen aangebied, want weens siekte kon mev. Perold nie teenwoordig wees nie. In sy antwoord wat baie gevoelvol was, het hy almal baie hartlik bedank. Sy afskeidspreek in Dutoitspan is op Sondag 21 April gehou oor Fil. 4:9 „Hetgeen gy ook geleerd en ontvangen en gehoord hebt, doet dat, en de God des Vredes zal met uw zyn.” Op daardie en die daarop volgende dae het hulle ook van die Sondagskole, die sendinggemeentes en die konsulentgemeente, Kimberley, afskeid geneem.

Die gemeentelike afskeid het in die stadsaal van Kimberley in die vorm van ’n “tea meeting” plaasgevind. In die teenwoordigheid van die burgemeester, vriende en leraars van naburige gemeentes is adresse en beurse deur die kerkraad en CJ. aan ds. sowel as mev. Perold aangebied. In sy bedanking het hy verklaar dat hy altyd tot lof van die gemeente sou praat. Persoonlike omstandighede, waaronder die siekte van sy eggenote, was die enigste oorsaak waarom hy die gemeente so gou verlaat het. Iets wat hy nooit sou vergeet nie, was dat in die skaarstyd daar ruim £40 in beurse aan hul geskenk is.

Op ’n gekombineerde kerkraadsvergadering gehou op Woensdagoggend 24 April 1895 het hy sy akte van demissie ontvang. Die bande sou egter nooit losgemaak word nie, want die gemeente het hulle liefgehad en seënwense het hom en sy huisgesin vergesel. Nadat hulle eers ’n paar dae by sy broer, ds. P.J. Perold, op Warrenton gekuier het, het hulle op Donderdag 9 Mei na die Boland vertrek.

Omstreeks 2010 het die NG Gemeente Dutoitspan amper duisend belydende lidmate en twee medeleraars gehad, maar teen 2016 het dit afgeneem tot 644 en een leraar. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Dogtergemeentes

  • Diamantveld

Predikante

  • Stephanus Hendrik Kuhn, 1877 – 1880
  • Abraham Kriel, 1881 – 1893
  • Stefanus Jacobus Perold, 1893 – 1895
  • Willem Francois Petrus Marais, 1896 – 1912
  • Jacob Rabie, 1913 – 1916
  • Christiaan Rudolph Kotzé, 1916 – 1918
  • Stephanus de Villiers, 1919 – 1926
  • Jozua Francois Naudé jr., 1940 – 1945
  • Johannes Visser, 1945 – 1952
  • Cornelis Theron, 1953 – 1957
  • Hermanus Louwrens Burger, 1954 – 1955 (eerste leraar van dogtergemeente Diamantveld)
  • A.P. Smit, 1958 – 1959 (word argivaris van die Kaapse Kerk)
  • Johannes Hermanus Frier, 1964 – 1968
  • Hendrik Christoffel de Wet, 5 Oktober 1974 – 7 April 1985
  • Lucas Marthinus Coreejes, 19 Desember 1987 – 1995