NG Gemeente Jacobsdal

Jacobsdal se NG kerk. (FOTO: Jens Friis)

GESTIG

1860

Ring

Fauresmith

Adres

H.v. Kerk- en Andries Pretoriusstraat, Jacobsdal

Sluit in

Jacobsdal en distrik

Eerste predikant

E.A. du Toit (1866–1880)



Die NG Gemeente Jacobsdal is ’n gemeente in die Vrystaatse Sinode met sy middelpunt op die dorp Jacobsdal. Dis in 1860 gestig as die sewende gemeente van die Vrystaatse Kerk en die 81ste gemeente in die hele NG Kerk. In die Vrystaat is net Winburg (1841), Fauresmith (1848), Bloemfontein (1848), Harrismith (1849) en Boshof (1856) ouer.

Stigting

Ten tyde van Jacobsdal se stigting was hierdie gebied nog deel van die Kaapse Kerk en bekend as die Transgariepse Ring. Daar is dadelik begin met voorbereidings vir die bou van ’n kerk en ’n pastorie en die vind van ’n predikant. Tog is met al drie baie gesukkel en die eerste beroep is eers in 1865 uitgebring en die derde beroep was eers suksesvol, dié op prop. E.A.J. du Toit. Ds. Du Toit was van 1866 tot 1880 predikant van die gemeente en was verantwoordelik vir die eerste kerkgebou wat in 1879 ingewy is.

Gedurende hierdie tydperk het die ramp in verband met die diamantveldkwessie die gemeente van feitlik twee derdes van sy lede beroof. Op 14 Junie 1877 is ’n versoekskrif van die gemeente Jacobsdal voor die Vrystaatse Volksraad ingedien, waarin versoek is dat die distrik van Jacobsdal gebiedsuitbreiding moet kry na Boshof en Fauresmith se rigting om te vergoed vir die verlies en ook £10 000 kontant om die bou van die kerk moontlik te maak. Hierdie bespreking was baie uiteenlopend. Gedeeltelike gebiedsuitbreiding is toegestaan en £2 000 vir die bou van ’n kerk.

Vanaf 1881 tot 1899 is die gemeente bedien deur ds. Andrew Murray (die seun van prof. John Murray van die Kweekskool), wat in 1893 die pragtige ystertraliewerk om die kerk laat aanbring het teen ’n koste van £1 100. Ds. P.J.J. Boshof het die gemeente van 1899 tot 1904 gedien. Gedurende hierdie tyd het die verskriklike oorlog gewoed en is die geestelike werk onder baie moeilike omstandighede gedoen.

Met die aanval van die Jacobsdalse kommando op die Britse besetting in die dorp in Oktober 1900, het die dominee ook onder verdenking gekom en is hy ’n nag lank saam met ander in die kruithuisie buite die dorp opgesluit, waar hulle byna versmoor het; die dag daarna is die dominee deur die owerheid uit die dorp verban, wat hy per trapfiets moes verlaat met net die nodigste agter op. Baie huise en ook die pastorie is deur die Britse magte in Jacobsdal verniel. Jacobsdal was die eerste Vrystaatse dorp wat in Engelse hande geval het en wel op 15 Februarie 1900. In die Slag van Rooilaagte op 25 November 1899 het die Jacobsdalse kommando hom besonder dapper gedra en groot verliese aan lewens gely.

So het Jacobsdal se NG kerk gelyk voor die toring in 1930 aangebou is. Die argitek van die verbouing van die kerk was Wynand Louw.

Twintigste eeu

Tot omstreeks die dorp en gemeente se eeufees het ook die volgende leraars hier gedien: S.J. Perold (1904 – ’07), in wie se tyd die orrel aangekoop en die galery vergroot is; A.A. Weich (1908 – ’27), in wie se tyd die orrel ingewy is en groot ywer vir die sending geheers het; H.A. Hanekom (1927 – ’30), in wie se tyd die kerk vergroot is en die toring aangebou is; J.S. Dreyer (1931 – ’48); S.C. Biggs (1949 – ’58).

As gevolg van die destydse versnippering van die distrik en die ontstaan van die diamantdorpe Kimberley en Koffiefontein, is die gemeente geografies besonder moeilik geleë om vanaf die dorp te bedien. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • Egbert Andries Jacobus du Toit, 29 September 1866 tot 1880 (waarna Brandfort tot 1894; oorlede op 5 Maart 1926)
  • Andrew Murray (seun van John Murray), 1881 tot 22 Januarie 1899 (oorgegaan na die Hervormde Kerk)
  • Pieter Johannes Jurgens Boshoff, 1899 tot 1904
  • Stefanus Jacobus Perold, 24 November 1904 tot 1907
  • Alfred August Weich, 8 Februarie 1908 tot 28 Maart 1927 (aanvaar sy emeritaat)
  • Hendrik Andries Hanekom, 27 November 1927 tot 1931
  • Jacob Stefanus Dreyer, 14 Februarie 1931 tot 1948
  • Stanley Charles Biggs, 1949 tot 1958
  • Burger, Johannes Matthys, 2 Mei 1959 tot
  • Petrus Albertus Pretorius, 16 Januarie 1981 tot omstreeks 1985