Zuid-Afrikaansch Athenæum

Zuid-Afrikaansch_Athenaeum

Byna terselfdertyd as dié skool het die Zuid-Afrikaansch Athenæum ontstaan, merendeels danksy die bemoeiing van NG predikante, want op 14 Oktober 1828 is in die konsistorie van die vorige Groote Kerk ’n byeenkoms van Nederlands- en Engelssprekende Kapenaars onder voorsitterskap van sir John Truter gehou “ten einde in overweging te nemen, of niet in deze Volkplanting, en zoo ja, op welke wijze, op het doelmatigste zou kunnen worden voorzien in de behoefte, zoo algemeen gevoeld, van hooger onderwijs voor de Kaapsche jeugd“. By hierdie geleentheid is ’n kommissie benoem, bestaande uit sir John, voorsitter; dr. Abraham Faure; C. Hough, J. Adamson, J.M. van Sateveren (al drie predikante); W.F. Hertzog (landmeter-generaal van die Kaapkolonie); F.L. Mabille; D. Hertzog; sir Christoffel Brand; H. Roos; en Johannes de Wet (sekretaris), Marie Koopmans-de Wet se vader. Aan dié kommissie is die taak opgedra om ’n plan op te stel vir die oprigting van ’n “seminarium”. Die werk het so ywerig verloop dat toe die kommissie op 4 Junie 1829 verslag doen van sy werk, besluit is om ’n tweetalige inrigting vir hoër onderwys daar te stel wat die naam Het Zuid-Afrikaansch Athenæum sou dra.

As grootste lokaal in die stad was die Hollandse kerk die aangewese plek vir die plegtige opening van die instituut op 1 Oktober 1829 nadat, so is dit genotuleer, “’s smorgens te 9 ure alle de leerlinge, benevens de Directeuren, Professoren, Senatoren en Deelnemers in het gebouw van het Athenæum waren byeengekomen, en in eene processie, met den Pedel aan het hoofd naar de Kerk gegaan“. Die kollege het twee doelstellings gehad: om Suid-Afrikaans in die volste sin van die woord te wees en te ontwikkel in ‘n universiteit wat met die beste ter wêreld kon vergelyk. Jare lank sou die kollege egter grotendeels ‘n gekombineerde laer- en hoërskool wees met ‘n klein universitêre afdeling, want eers nadat die land se rykdom genoegsaam toegeneem het om die groter opvoedkundige las te dra, kon die ZA College die tweede deel van sy oorspronklike ambisie begin verwesenlik.

Van die Kaapse NG kerkraad se 14 benoemde lede vir die eerste bestuursliggaam van die ZA Athenæum, wat op 4 Junie 1829 in die Groote Kerk se konsistorie gekies is en uit 15 lede sou bestaan, het 11 by die verkiesing die paal gehaal. Dr. Abraham Faure (die gemeente se medeleraar van 1822–1867) het maklik die hoogste getal stemme gekry en van 1829 tot 1873 in die kollegeraad gedien. As lid van die raad sowel as voorsitter van die senaat is hy deur verskeie leraars van die Groote Kerk gevolg. Ook was dr. Faure die eerste hoogleraar in Nederlands aan die kollege; later het dr. S.P. Heyns (medeleraar van 1834–1864) en ds. Gilles van de Wall (medeleraar van 1874–1875) dié stoel gevul.

Die Groote Kerk se ondersteuning het meer as net mannekrag behels. Eers was die kerkraad bereid om £100 aan aandele in die inrigting uit te neem, maar toe die publiek in 1829 gevra word om £2 000 in 200 aandele van £10 elk voor te skiet, het die kerkraad hul vroeëre aanbod met die helfte verminder. Aandeelhouers het die reg verkry om een student te laat matrikuleer aan die inrigting teen verminderde klasgeld. Die Vrymesselaars, waarvan sir John Truter ’n gesiene lid was, sou £50 per jaar bydra en die Openbare Biblioteek, wat nie self geld gehad het nie, het aangebied om boeke uit te leen.

‘n Jaar later het die kerkraad onder leiding van di. J.H. von Manger (medeleraar van 1802–1839) en dr. Faure onomwonde ten gunste van godsdiensonderwys binne die mure van die kollege self besluit. Dié besonderse band tussen die gemeente en die SA Kollege is in die destydse inrigting se eeufeesjaar, 1929, in herinnering geroep toe die Universiteit van Kaapstad dr. J.P. van Heerden, die Groote Kerke se medeleraar van 1899–1935, vereer met ‘n LL.D. Die kerkraad het sy akademiese toga en hoed voorsien. Ook het die kerkraad graag die gebruik van die Groote Kerk vir ‘n eeufeesdiens afgestaan.

Sir John Truter was die eerste voorsitter van die ZA College se beheerraad. Ten einde toegang tot die skool te verkry, moes seuns kon lees en skryf en ’n basiese kennis van rekenkunde (matesis) hê. Drie onderwysers (hoogleraars) – bygestaan deur ‘n assistent of twee – het hulle onderrig, wat die titel professor gekry en £200 per jaar verdien het (plus £100 wat uit skoolgeld ingesamel sou word). Die eerste drie hoogleraars was eerw. E. Judge (Engelse taal en alle nie-wetenskaplike vakke), dr. Abraham Faure (Nederlandse taal) en eerw. J. Adamson (matesis en wetenskap). Lyfstraf is nie toegelaat nie, maar in geval van moeilikheid, kon ‘n leerling met toestemming van die Raad uit die instelling verban word.

Het Oude Weeshuis, Langstraat, Kaapstad

Reeds in Augustus 1829 het die drie hoogleraars met drie lede van die raad van 15 saamgekom om die eerste senaat te vorm. Aanvanklik was daar 115 “studente” in die kollege, van wie die meeste laerskoolseuns was, maar teen 1841 het dit afgeneem tot net 16 nadat die instelling teëspoed beleef het, veral weens die beknopte omstandighede in enkele vertrekke aan die voorkant van die SA Weeshuis. Goewerneur sir Benjamin D’Urban het in 1837 ‘n verordening goedgekeur wat die kollege se bestaande stelsel van administrasie en finansies ‘n regtelike en amptelike beslag gegee het.

Bron:

SACS: https://af.m.wikipedia.org/wiki/SACS?fbclid=IwAR0ovRfax2vtSsGPLd29RiPim5WOJp9dhaGaaAZv2jXRWlsMsI6ac3pa72s