gebore
13 Des. 1921
OORLEDE
21 Des. 2004
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1947
ORDEN
1948
standplase
1948 19 Jun. 1948 – 30 Jan. 1950 Swellendam
1950 Gansbaai
1959 Kuilsrivier
1964 Kuilsrivier-Suid. Kerklike Werk (Status behou)
EMERITEER
1985
Jacob Louis Philip Zietsman is op 13 Desember 1921 in Ladybrand gebore, die jongste kind van sy ouers, Jakob Louis Philip Zietsman en sy moeder Anna Margaretha Badenhorst. Kort voor sy geboorte het sy ouers uit die omgewing van Mosselbaai na die Vrystaat getrek en hulle aanvanklik by Hobhouse in die Oos Vrystaat gevestig en later op ʼn plaas in die omgewing van Heilbron. In die omgewing deurloop hy sy laerskooldae en ry met ʼn perd skool toe. Japie is vanaf 1935 tot 1939 leerling aan die Hoërskool Heilbron waar hy matrikuleer en in sport uitblink. Hy het goed rugby gespeel en ook aan paalspring deelgeneem. Sy paalspringrekord het jare lank gestaan.
Sy dogter Esther skryf: “Na skool het hy by die Spoorweë in Durban gaan werk, want daar was nie geld vir voltydse studies nie. Lede van die Strewersvereniging waarvan hy lid was, het agtergekom dat hy geroepe voel om predikant te word en hom aangemoedig om Stellenbosch toe te gaan vir sy teologiese studies en het ook sy uitgawes vir sy eerste jaar betaal. Daar was ook ander wonderlike mense wat hom finansieël gehelp het. Hy was die eerste kind van die gesin wat aan ʼn universiteit studeer het. Later het een van sy broers, Casper, ook voltyds, aan die Universiteit van Pretoria sy teologiese studies voltooi.
Die jong Japie studeer vanaf 1941 tot 1947 op Stellenbosch en is ʼn student aan die Teologiese Seminarium waar hy einde 1947 as proponent gelegitimeer word. Prof Bennie Keet het as student ʼn groot invloed op die jong Japie, iemand met wie hy gereeld kontak het. Japie speel ʼn belangrike rol in die CSV, is een van die studenteleiers op Stellenbosch en speel ook rugby vir die Universiteit se derde span. In die Eikestad ontmoet Japie vir Alta Malan, wat haar BSc-graad in Huishoudkunde behaal en opgelei word vir die onderwys. Hulle trou op 22 Mei 1948, en die huwelik is deur ds. Willie Alheit bevestig. Uit die huwelik van 56 jaar, is vier kinders gebore: Louis (*1949); Esther (*1950); Anna (*1952) en Alta (*1954).
Japie word op 19 Junie 1948 met handoplegging in die NG Gemeente Swellendam ontvang en bevestig, dit is ook die jaar waarin die geskiedkundige gemeente sy eeufees vier. Na goeie tye saam met sy kollega ds. WA Alheit, verlaat hy die gemeente om op 11 Februarie 1950 leraar te word van die NG Gemeente Gansbaai. Hier is hy betrokke met die bou van ʼn nuwe kerkgebou wat in 1953 feestelik ingewy word. Dit was dan ook sy voorreg om in 2003 by die Nagmaalsviering deel te wees met die 50-jarige herdenking van die kerkgebou. Die bejaarde dienskneg van die Here was reeds verswak en in ʼn rystoel, maar het in ʼn stadium spontaan weggeval en ʼn gebed gedoen.
In 1959 word hy leraar van die NG Moedergemeente Kuilsrivier in die Kaapse Skiereiland, waar hy vyf jaar lank die Woord bedien. In 1966 word hy leraar van die NG Gemeente Kuilsrivier-Suid, waarhy in ʼn tydperk van agt jaar uitstekende werk verrig. Hy is ook betrokke by die bou van ʼn nuwe kerkgebou en het ook die voorreg om in sy eie huis te woon. Op 22 September 1972 word hy leraar van die NG Gemeente Buffeljagsrivier, waar hy ook met die verlof van die kerkraad die sendinggemeente Zuurbraak bedien. In al sy gemeentes is huis- en siekebesoek van groot belang en nuwe intrekkers is gereeld besoek.
Sy dogter Esther skryf: “Hy was nooit ʼn lid van die Broederbond nie en sy standpunt tydens die apartheidsjare was beslis nie die populêre standpunt nie. Die kleiner groep predikante met daardie siening het dit nie altyd baie maklik gehad nie. Dit was wonderlik dat hy in sy leeftyd tog kon sien dat dinge in Suid-Afrika begin verander het”.
Ds. Japie Zietsman tree op 12 Oktober 1985 af op die ouderdom van 63, om plek te maak vir ʼn jong proponent. Na sy aftrede dien hy as ouderling op Stellenbosch. Hy versorg graag die bosslapers van die omgewing en help gedurende etensure om die poskantoorwerkers geestelik te bedien. In 2001 verhuis die egpaar na Hermanus. Kort voor sy heengaan word hy in ʼn versorgingsoord opgeneem waar hy op 21 Desember 2004 sterf. Die begrafnisdiens word deur ds. Christo Alheit gehou, die seun van sy eerste kollega op Swellendam wat hulle 1948 in die huwelik bevestig het. – Dr Gerdrie van der Merwe.