Zaki Biam (1913)

Met die vermeerdering van personeel kan nou aan ‘n tweede sendingstasie gedink word. Na ondersoek word op Zaki Biam besluit, ‘n dorp op die groot trekpad van die noorde en ooste na die suide, waar daar ook ‘n groot konsentrasie van Moslem-Hausas, die rondtrekkende handelaars van Nigerië, is. Op 2 April 1913 vertrek ds. en mev. Strydom en mejj. De Villiers en Edwards vanaf Wukari na Zaki Biam om die nuwe stasie te begin.

Na die Raadsvergadering gaan eerww. Botha en Brink ook met die opbou van die nuwe stasie, Zaki Biam, help. Hier pas eerw. Brink die eerste maal die dryfdakmetode van dak-dek in Nigerië toe. Op 11 Julie 1913 word Catharina, die eerste baba van ds. en mev. Strydorn gebore. “Dit is heel waarskynlik die eersteblanke kind wat in Noord-Nigerie geboreis” en sy is gevolglik ‘n groot aardigheid vir die Tiv.

In Februarie 1914 besôek die Sendingsekretaris, ds. (later prof.) J. du Plessis,die Soedan. Tydens sy besoek bevestig hy op Wukari die huwelik van eerw. Attie Brink en mej. A. M. Mathewson. Na die plegtigheid vertrek die bruidspaar na Zaki Biam, hul sendingstasie: die bruid in ‘n hangmat en die bruidegom te voet. G’n wonder dat ds. Du Plessis daarná skryf nie: “Zoo prozaïsch vangt hier in de Sudan de wittebroodstijd aan” (Bron: Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p, 243-5).