Woest, Jan Christiaan

Ds Jan Woest

gebore

1 Mei 1958

oorlede

29 April 2020

UNIVERSITEIT

 MA DTh (US)

gelegitimeer

1986

ORDEN

1988

standplase

1988 Bothasig

1993 Leonard

2004 Academia (Opdrag: PSD Gemeentelike Ontwikkeling)

Dr Jan Woest (61) se skielike dood op 29 April 2020 na ’n frats-skietongeluk op sy plaas naby Dordabis, 140 kilometer van Windhoek, stuur steeds skokgolwe deur die kerkgemeenskap. Met Jan se innemende persoonlikheid kon hy maklik kommunikeer en sy wye netwerk van kontakte oor grense heen, het die evangelie bevorder. Jan was gewild, geliefd, innemend, super-intelligent, ’n belese teoloog wat nederig en beskeie aan die voete van die Here gesit het. Hy was lief vir die Here. Sy bekende groetwoord: “Genade vorentoe” – het baie mense se lewe oorspoel en ons herinner dat ons uit genade leef.

Jan Christiaan Woest is op 1 Mei 1958 gebore op Keetmanshoop. Hy kom uit ’n spoorweghuis, waar hy vroeg geleer het wat dit beteken om te dien, die beste van ’n situasie te maak en die Here met jou hele wese te vertrou. Hier het sy eg menslikheid, nederigheid en liefde vir eenvoud, gestalte gekry. Jan matrikuleer in 1975 aan die Hoërskool Keetmanshoop, studeer op Stellenbosch en word einde 1985 gelegitimeer. Na twee dienspligjare word hy op 26 Februarie 1988 leraar van die NG gemeente Bo­tha­sig, waar hy met die uitsig op Tafelberg sy eerste ervaring van die bedie­ning kry. In 1993 keer hy terug na sy geboorteland as leraar van die NG gemeente Leonard, waar Jan as vriendelike boere-dominee, die leefwêreld van die mense met sy opregtheid en evangeliese krag verander het.

In 2006 word ds Jan Woest beroep en bevestig as leraar van die NG gemeente Academia (Windhoek) , met opdrag predikant in sinodale diens vir Gemeentelike Ontwikkeling. Die unieke pad wat Jan tot met sy skielike dood met die NG Kerk in Namibië gestap het, is enorm en verdien om beskryf te word. Dr Jan was ’n formidabele teoloog en het gehelp dat sinodale prosesse teologies gefundeerd bly, terwyl die hele NG Kerk verryk is met sy fyn waarneming, goeie formulering en deurleefde teologiese insig.

Toe sy leefwêreld in 2019 skeef loop weens die versengende droogte, het Jan se geloof vlerke gekry en was die berustende gelatenheid waarmee hy homself in die Here se versorgende hand gegee het, ’n getuienis na buite. Mag die Here sy vrou Nicolene, drie kinders Pieter, Friedrick, Nico en gesinne vertroos. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek)