Wiegand, Heinrich Johannes

 

gebore

4 Apr. 1899

OORLEDE

29 Apr. 1998

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1932

ORDEN

1934

standplase

1934 Bloemfontein (hpr)

1939 Bloemfontein

1943 Rodenbeck

EMERITEER

1973

Ds. Heinrich Wiegand was een van die bevoorregtes wat baie sterk was (volgens die Psalmis) en nie alleen die ouderdom van 80 jaar verbygesteek het nie, maar 99 jaar oud geword het – dusbyna ʼn eeu. Toe hy op 29 April 1998 in Bloemfontein oorlede is en op 6 Mei uit die Tweetoringkerk, waar hy 64 jaar tevore sy intreepreek gelewer het, begrawe is, was daar ʼn bedroefde familieskaar rondom sy graf. Daar is in herinnering geroep dat sy lewe vir hulle ʼn wins was, ʼn genadegawe en voorreg, en dat sy heengaan ʼn oneindige leë plek in hulle harte agter gelaat het. Van hom was dit waar wat Jes. 46:4 sê: `Ook tot in julle ouderdom is ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra’ .

Heinrich Wiegand is op 4 April 1899 in die Vredefortdistrik gebore. Tydens die Anglo-Boereoorlog is hy saam met sy ma en oupa en ouma na die konsentrasiekamp (Greenlands) naby Vredefort geneem. As oorlewende kampkind het hy later by die gerestoureerde begraafplaas op Greenlands. die feesrede gehou en ʼn krans vir sy en ander se dierbares gelê. Sy hele rede het hy uit die vuis gelewer en almal daar verwelkom op `sy stukkie grond’ , want daar het hy sy eerste lewensjare deurge¬bring.

ʼn Interessantheid van sy lewensgeskiedenis is die volgende: hy is gedoop in ʼn dooprok wat voor die oorlog van 1899 deur sy moeder gemaak is – nog voordat sy na die konsentrasiekamp geneem is. Sy is op 23-jarige ouderdom daar oorlede. Die kinders van die hele Wiegand-familie is sedert daardie tyd in die rokkie gedoop, naamlik die twee Wiegand-seuns, Jannie en Riek, sowel as hulle sewe seuns. In 1968 is die eerste kleinkind-dogter sedert 1900 daarin gedoop en op 5 April 1998 ook sy agter-kleinkind-dogter, Anchen. Die rokkie was destyds. deur sy moeder in ʼn bliktrornmel gebêre waar dit later ontdek is, nog spierwit !

Heirich Wiegand het in 1918 op Bethlehem matriek geslaag en is toe na Bloemfontein waar hy hom as onderwyser be¬kwaam het. Later is hy na die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch om vir predikant te studeer. As gevolg van hoë studieskuld het hy saans by die telefoonsentrale gewerk. Op 3 Januarie 1933 het hy met mej J Laing van Durbanville getrou. Die paartjie het hulle in Bloemfontein gevestig waar hy weer by die telefoonsentrale gewerk het totdat hy in die Tweetoringkerk in Bloemfonteinas hulpprediker ontvang is op 28 April 1934. Op 13 Mei 1939 is hy as predikant van die NG Gemeente Bloemfontein bevestig. In hierdie gemeente het hy tien jaar gewerk voordat hy ʼn beroep na die Rodenbeck-gemeente, net buite Bloemfontein, aanvaar het. Hy het die volgende 30 jaar van sy lewe hier gewerk en telkens wanneer hy ʼn beroep na ʼn ander gemeente ontvang het, het hy gesê dat sy werk nog nie klaar was nie. Hy het op 31 Desember 1973 geëmeriteer. Hierna het die egpaar vir 23 jaar op hulle kleinhoewe gewoon voordat hulle aan die begin van 1998 na die huis van hulle seun Heinrich verhuis het.

Ds. Wiegand se verstand was helder tot op die einde, maar op 29 April 1998 is hy stil weggeneem – nie siek of swak nie, maar gereed om na sy Vader te gaan. In Mei 1991 het hy nog sy laaste preek in sy ou gemeente gehou (op 92 jaar) en almal was verbaas dat hy nog sonder notas gepreek het. Hy en sy vrou was gelukkige, begenadigde spanmaats’ vir 65 jaar en het hulle goue bruilof reeds. in Januarie 1983 gevier.

Hy was baie gewild by sy gemeente en kerkraad en altyd die eerste een om self iets te doen wat hy van die gemeente gevra het. Hy het die gawe gehad om ʼn kerkraadsvergadering kort en kragtig te hou tot almal se bevrediging. Sy humor was ook almal se vreugde. Hy kon ʼn huweliksonthaal, ʼn dinee, ʼn matriekafskeid – alles – omskep in ʼn heerlikheid. Daarom het hy ook so mooi oud geword. Humor was tot op die end deel van sy lewe.

Tog was hy ook ʼn diep gelowige en ernstige mens. Vir sy kinders en vriende het hy telkens gesê (en dit was ook sy lewensleuse); `Die Here regeer vir altyd.’ Sy lewe en sterwe is ʼn getuienis van hoe God sy lewe regeer het en van iemand wat die wedloop end-uit geloop het en tot eer van God voltooi het. Sy lewe is ʼn baken vir sy familie en talle gemeentelede, van iemand wat tot by die einde sy oë gevestig gehou het op die Voleinder van die geloof. – Dirk Viljoen aan die hand van notas voorsien deur sy seun Heinrich en ander bronne.