Weyers, Stephanus Salomon

Ds S S Weyers

GEBORE

15 Nov. 1903

OORLEDE

4 Aug. 1982

UNIVERSITEIT

BA

GELEGITIMEER

1932

ORDEN

1934

STANDPLASE

1934 Middelburg, K.P. (Hpr.)

1935 Venterstad

1938 Greykerk

1942 Durbanville

1948 Bethulie

1952 Kangovalleie

1953 Graaff-Reinet

1958 Brandfort

1963 Hartebeestfontein

EMERITEER

2 Mrt. 1969

Ds. Stephanus Salomon Weyers wat die Woord sowat 33 jaar met groot krag, ems en vrug in vier Oos- en twee Wes-Kaapse gemeentes, sowel as in twee in die Vrystaat en een in Wes-Transvaal, met groot krag, erns en vrug bedien het, is in ʼn langdurige siekte in die Universitas-Hospitaal in BIoemfontein oorlede. Hy was ʼn seun van Murraysburg, waar hy die skool op sy vader se plaas Platdrif bywoon, totdat hy in 1918 na die dorpskool gaan. In 1920 word sy skoolonderrig onderbreek en gaan hy in ʼn sakeonderneming êrens in Griekwaland-Wes werk. Die drang tot die evangeliebediening wat reeds. in sy vroeë kinderlewe onder die invloed van sy ouers en van ʼn godvresende onderwyser en onderwyseres ontstaan het en wat later deur die geseënde werk van wyle di C M Hofmeyr en G D du Toit in Murraysburg aangewakker is, is egter so sterk dat hy terugkeer skool toe op Murraysburg waar hy in 1925 matriek slaag. Ondanks die ernstige droogte van daardie jare en die ekonomiese krisistyd met sy groot geldskaarste beur hy vorentoe, sodat hy einde 1928 die BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, daarna die vierjarige kursus aan die Kweekskool deurloop en gelegitimeer word. Met sy ordening op 27.1.1934 begin hy sy bediening as hulpprediker in Middelburg (K) en daarna staan hy in Venterstad (*1935) en Greykerk aan die voet van Katberg (*1938); in beide waarvan hy deur sy taktvolle optrede en getroue arbeid daarin slaag om breuke te heel en die kudde weer bymekaar te bring. Daarop volg die heelwat rustiger gang van sy ryklik geseënde diens in Durbanville naby Kaapstad, waar die gemeente in die ses jaar van sy verblyf (1942-1948) op beide stoflike en geestelike gebied tot ʼn gesonde bloei kom. Nie alleen styg die dankofferinkomste aanmerklik nie, maar deels as gevolg van sy sieldeursoekende prediking neem die opkomste na die eredienste ook steeds toe. Op die Pinksterbidure wat hy gewoonlik in die vorm van “spesiale dienste” hou, rus daar besondere seën en verder word die inwyding van ʼn nuwe pastorie ʼn blye feesgeleentheid. Hierna voIg sy bediening in Bethulie (1948); Kangovalleie naby Oudtshoorn (1952); Graaff-Reinet (1953); Brandfort (1958) en Hartebeestfontein van 1963 totdat hy op 2.3.1969 geëmeriteer word. Van sy byna vyf jaar Graaff-Reinet het hy in 1969 geskryf dat dit nie alleen die gelukkigste jare van sy bediening was nie, maar dat dit ook die hoogtepunt daarvan geword het. Saam met ds. H C Kinghorn, destyds van die gemeente Nuwe Kerk aldaar – ʼn gemeente wat in 1922 weens ontevredenheid en stryd ontstaan het – en onder die seënende hand van God, smaak hy die vreugde van “toeskouer te wees van hoedat vrede inkom na jare van kwaaivriendskap, bitterheid en twis” en hoedat die Graaff-Reinet van baie jare “anders” word. “Daarna het bekerings ook plaasgevind, danksy die werking van die Heilige Gees.” In die drie sinodale gebiede waarin hy gestaan het, het hy onder meer in die Sinodale Kommissie Kaapland en OVS) en in die vir Openbare Sedelikheid (Kaapland en Transvaal); asook in die Antikommunistiese Aksie (Transvaal) en die kerkkantoorkommissie (OVS); gedien. Onder sy pennevrugte tel Na u belydenis (vir katkisante) en die twee preekbundels Hy klop aan die deur (vir kinders) en Die Pelgrimstog. In Hartebeestfontein waar hy en sy eggenote hulle na sy aftrede metterwoon gevestig het en ook in ander gemeentes het hy nog steeds gewaardeerde hulpdiens gelewer. Sy lewe is gekenmerk deur toewyding, erns, waardigheid en ʼn hoë agting vir die amp wat hy beklee het. Daarom is hy ook altyd met groot respek, liefde en waardering bejeën. (Jaarboek 1983)