Weich, Gustavus Adolphus

 

gebore

02 Mrt. 1909

OORLEDE

28 Aug. 1998

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1933

ORDEN

1934

standplase

 1934 Montagu (Hpr.)

1941 Douglas

1947 Die Vleie

1951 Epping-Wes

1957 Brakpan

1959 Hanover

1963 Barkly-Wes

1967 McGregor

EMERITEER

1973

Hy was iemand wat van kleins af baie lief was vir musiek. Reeds. op skool het hy klavierlesse geneem en later orrellesse op universiteit. Dit weerspieël ook sy aanvoeling vir die fyn en mooi dinge van die lewe.

Ds. GA Weich is gebore op 2 Maart 1909 te Victoria-Wes waar sy vader ʼn onderwyser was. As seun het hy al moeite gedoen om vir homself ʼn studeerkamer in te rig. Sy skoolloopbaan het hy op Middelburg in die Kaap deurloop waar hy in 1926 matriek slaag. Sy universiteits-opleiding was te Stellenbosch (*1926- 1933); Hy het die BA-graad in 1928 verwerf en in November 1933 is hy gelegitimeer.

Sy ordening en bevestiging het in 1934 te Montagu plaasgevind. Op 28 Mei 1934 het hy met Aletta le Roux getrou. Uit hierdie huwelik is ses kinders gebore: Maretha, Hendrika, Louis, Aletta, Gusto en Annalena. Hulle is intussen almal getroud en daar was in 1997 reeds. tien kleinkinders. Gustav en Aletta Weich het ook die voorreg gehad om hulle goue bruilof op 28 Mei 1984 te vier.

Vanaf Montagu is Gustav na Douglas beroep waar hy vanaf 1941 tot 1947 gearbei het toe hy na Die Vleie verskuif het. Vanaf 1951 was hy by Epping-Wes vanwaar hy vir ʼn kort tydjie na die Transvaal gegaan het om by die Brakpan-gemeente aan te sluit in 1957. In hierdie tyd het hy veral sy gawe van prediking beoefen. Hy het ʼn reeks spesiale dienste in die gemeentes Brakpan en Springs gelei wat uitgeloop het op ʼn afsluitingsdiens op die dorp se voetbalveld wat deur vier duisend mense bygewoon is. Die belangrikste aspek van Gustav se bediening was om “boodskapdraer van die Woord” te wees.

In 1959 het hy predikant van Hanover geword en in 1963 het hy na Barkly-Wes geskuif. Hy het sy bediening in die McGregor-gemeente afgesluit waar hy in 1967 bevestig is en gebly het tot hy op 30 Junie 1973 sy emeritaat aanvaar het.

Die Weichs het hulle eers te Montagu gevestig en later te Bloubergstrand en Kuilsrivier waar hulle in die aftree-oord Andante gewoon het. Hy het in hierdie tyd nog tydelik in die gemeentes Mariënthal, Bloubergstrand en Port Elizabeth-Die Bult gehelp.

Op 28 Augustus 1998 is hy oorlede. Intussen het sy vrou ook gesterf. – Dirk Viljoen, aan die hand van die biografiese vorm wat hy op 10 Februarie 1997 ingevul het. (Jaarboek 1999).