Wannenburg, Johannes Hendrik Lategan

 

gebore

12 Okt. 1928

OORLEDE

28 Jan. 1999

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1955

ORDEN

1956

standplase

1956 Cachet

1958 Carletonville

1962 Primroseheuwel

1988 Meyerspark, Pretoria

EMERITEER

1994

Die moord op Johan Wannenburg het ʼn skokgolf deur die kerk en die land laat trek. Hy en sy vrou, Erna, was met vakansie aan die Natalse Suidkus en sou die volgende dag na Pretoria terugkeer. ʼn biduur, was hulle pas terug by die huis toe drie jong mans skielik in die deur verskyn en geld geëis het. Toe Johan vorentoe gestap het, is hy tromp-op in die bors geskiet. Hy het net daar gesterf. Die aanvallers het weggehardloop sonder om iets te steel.

Vir mev Wannenburg was dit natuurlik ʼn geweldige skok. Sy moes sy liggaam in die huis insleep. Dit was voorwaar ʼn sinnelose moord op ʼn geliefde dienskneg van die Here wat niemand ooit leed aangedoen het nie, maar juis die evangelie met woord en daad verkondig het. Hy was inderdaad “ʼn vroom en toegewyde leraar wat die Here sy lewe lank met oorgawe gedien het. ʼn Mens verstaan nie hoekom hy so moes sterf nie” (Beeld in ʼn hoofartikel); By sy begrafnis in sy ou gemeente Meyerspark op 3 Februarie 1998, het die gemeentelede en talle familielede, vriende en bekendes met diepe hartseer, verslae by sy lyk gestaan.

Johan Wannenburg is op 12 Oktober 1928 gebore. Hy het die Paul Kruger-Laerskool bygewoon en daarna die Afrikaan Hoër Seunsskool in Pretoria waar hy in 1947 gematrikuleer het. Hy was ʼn sportiewe seun wat veral aan atletiek deelgeneem het. Aanvanklik het hy in die Staatsdiens gewerk waar hy maatskaplike werk gedoen het. Sy universiteitsopleiding het hy aan die Universiteit van Pretoria deurloop waar hy, na sy verwerwing van die BA-graad en die Diploma in Teologie, in 1955 gelegitimeer is. Hy is op 25 September 1954 met Erna getroud. Hulle het later vier kinders uit ʼn gelukkige huwelik gehad. Hulle is Karin, Andre, Hesta en Gerda. Daar is reeds. tien kleinkinders.

Sy eerste gemeente was Cachet waar hy op 27 April 1956 georden en bevestig is. In 1958 het hulle na Carletonville verskuif en in 1962 na Primrose-Heuwel. Die gemeente waar hy die langste gebly het en die grootste werk kon doen, was Meyerspark in Pretoria waar hy sewe en twintig jaar gearbei het tot sy emeritaat in 1994 op die ouderdom van 65 jaar.

Hulle het toe na ʼn sekuriteits-meenthuiskompleks in Faery Glen getrek. Hier het hulle gelukkig en veilig gewoon en ingeskakel by hulle nuwe gemeente tot op daardie onheilsdag toe hulle met vakansie by hulle strandhuis aan die Suidkus was.

Vir Johan was die prioriteit in sy bediening die sending. Die redding van siele en hulle inskakeling by die gemeente van Christus was sy groot strewe. Hy was baie konsensieus met sy huisbesoek en siekebesoek. Jeugkampe en ander kerklike geleenthede het hy altyd benut om die Woord oor te dra. Sy prediking was so eg Bybels en opreg dat mense jare later nog sekere van sy preke kon onthou. By sy begrafnis is die leed versag deur die gevoel van sekerheid van die opstanding wat op hom wag as kind van God. Die bymekaarkoms was dusmeer ʼn lofprysing en ʼn laaste geleentheid tot dankbaarheid, as ʼn saak van rou.

Die volgende gedig wat in die gemeenteblad verskyn het, spreek boekdele:

Hy was gewoond om oop te maak: deure en harte en die Woord van God. Hy kon klim op die berg van die Here omdat hy rein van hart en hande was – rein gewas in die bloed van die Lam. Hy was dienskneg van God, rigter van sy mense, eggenoot en pa.. Hy was mens.

En toe die groot deur toeklap agter hom – die deur tussen tyd en ewigheid – het ons verbysterd bly staan omdat ons hom nie kon volg nie.

Sy aardse liggaam, fynbesnede gelaat, hande wat kon dien en groet en seën, sal langsaam uit ons herinnering vervaag.

Maar as die hemel opgerol word soos ʼn tentdoek, as tyd in ewigheid versmelt, as Jesus wat ons Koning is die deur van skeiding oopsluit, sal ons weer ontmoet

Miskien sal juis die feit van sy gewelddadige dood, sy boodskap van vrede en sagmoedige liefde helderder en langer laat naklink. Nie net is dinge soos die Wyksbybelstudiegroepe in sy gemeente, die mens-tot-mensaksie en Projek 1:8 monumente van sy dienende liefde en diens nie, maar ook sy dood, wat skreeu teen onreg, sal mense steeds. herinner aan hierdie saggeaarde man en sy boodskap. – Dirk Viljoen, met die hulp van Erna wat sy biografiese en ander gegewens en berigte verskaf het. (Jaarboek 2000).