Vorster, Willem Stefanus

Ds. Vorster Willem

gebore

01 Des. 1941

OORLEDE

10 Jan. 1993

UNIVERSITEIT

(MA, BD, DD)

gelegitimeer

ORDEN

standplase

Lektor in Grieks aan UP

1971 Senior lektor, UNISA

1977 Direkteur: Instituut vir Teologiese Navorsing

EMERITEER

Prof Vorster het aan die Universiteit van Pretoria sy teologiese opleiding gekry. Terwyl hy studeer het, was hy reeds lektor in Grieks aan UP. Hy behaal sy MA in 1968 en sy doktorsgraad in die Nuwe-Testamentiese Wetenskap in 1974. In 1971 word hy senior lektor aan UNISA en in 1977 direkteur van die Instituut vir Teologiese Navorsing.

Vroeg in 1993 keer hy terug van ʼn vakansie en kry ʼn beroerte-aanval en sterf skielik op 10 Januarie.

Sy kollegas en vriende skryf soos volg oor hom:

“Prof Willem Stefanus Vorster en die Instituut vir Teologiese Navorsing van Unisa was sino¬niem. Nie net omdat hy die Instituut van die grond af opgebou het tot wat dit vandag is nie, nie net omdat hy die spil was waarom alles gedraai het en die inisieerder en inspirator van alle projekte was nie, maar ook omdat hy die simbolisering van die doel en wese van die Instituut was. Die Instituut was sy visie en is nou ʼn monument ter gedagtenis aan hom.

“Met sy kenmerkende ywer, intellektuele vermoë, toewyding, harde werk, belangstelling en lojale ondersteuning, het hy gelei en geïnspireer. Aan elkeen het hy die ruimte gegun om hulle beste te lewer.

“Hy was steeds. aan die voorpunt van teologiese en veral Nuwe-Testamentiese navorsing. Hy het nie net erkenning geniet nie, maar moes ook kritiek en aanslae verduur. Tog het hy onwrikbaar voortgegaan om nuwe weë te open. Sy skerp insig, breë visie, fyn emosionele belewing en diepe menswees sal gemis word.

“Hy het nie alleen diep spore in die wetenskaplike wêreld getrap nie en staan nie alleen uit as ʼn rigtinggewende baken in die Suid-Afrikaanse teologie en universele Nuwe-Testamentiese wetenskap nie, maar hy het ook die lewens van baie mense diep en positief beïnvloed. Die hemelse lig wat hy uitgestraal het, sal nog lank weerkaats”. (Personeel, CB Powell Bybelsentrum).

“Wanneer ek aan Willem dink, dan maal daar duisende gedagtes deur my verstand – en net soveel herinneringe aan dinge wat ek saam met hom beleef het. Ek het myself al hoeveel keer gevra met watter woorde ek hom sal kan beskryf – en dan besef dat ʼn mens soos Willem Vorster nie in ʼn paar woorde beskryf kan word nie. Tog het iets my te binne geskiet wat ʼn belangrike eienskap van hom uitlig (na aanleiding van die boekie van Eric Berne: Games people play); Willem was nie iemand wat ʼn spel gespeel het nie – nie met homself nie – nie met sy werk nie – nie met die Here nie – en ook nie met ander mense nie. In ons samelewing is daar so baie oppervlakkigheid en speel ons soveel speletjies met mekaar dat ons verhoudings oneg word. Daaraan was Willem nie skuldig nie en daarom kon ʼn mens met hom ʼn egte ontmoeting hê. Geen mens wat werklik met hom te doene gekry het, was daarna dieselfde nie – want hy het jou aan die dink gesit en jou ook met jouself laat worstel.

“Dit was juis hierdie eienskap wat hom in botsing gebring het met baie dinge wat tradisio¬neel aanvaar is en wat hom in soveel konflik gebring het met sommige mense – konflikte wat hom seergemaak het en weer laat soek het om verhoudings te herstel. Selfs sy grootste teenstander sal moet erken dat Willem ʼn mens met integriteit was.

“Ten spyte van sy intellek, groot gees en enorme werkvermoë wat hom in staat gestel het om met ʼn verstommende intensiteit op vlakke te beweeg waar min mense bykom, het hy ʼn nederige mens gebly en kon hy aandag gee en kontak maak ook met die geringste.

“Sy vrou en kinders het ʼn maat en ʼn vader verloor, sy familie ʼn seun en ʼn broer, die akademiese wêreld ʼn briljante geleerde, n aar ons almal het ʼn vriend en medemens verloor.

“Die herinneringe aan Willem Vorster sal ons steeds. inspireer om eg mens en eg gelowig te wees, en ons konfronteer met die baie belangrike vraag: wat maak jy met jou lewe en jou vermoëns wat jy uit die hand van ʼn genadige Vader ontvang het?

“ʼn Groot gees het by ons verbygegaan, n aar ook ʼn nederige en egte mens”. (- Daan Kilian). (Jaarboek 1994).