Viviers, Hendrik Olivier

 

gebore

29 Okt. 1913

OORLEDE

09 Aug. 2001

UNIVERSITEIT

(BA, MA)

gelegitimeer

1938

ORDEN

1938

standplase

 1938 Stanford

1939 Hopetown

1940 Komga

EMERITEER

As seun wou Hendrik graag na Nyassaland (deesdae Malawi) gaan om daar sendingwerk te doen, maar die Here het anders gelei sodat hierdie besondere dienskneg van Hom ʼn kleurryke en vrugbare bediening in die NG Kerk gehad het. Hy het sy kant gebring beide in sy gemeentes en op sinodale vlak.

Hendrik Viviers is op 29 Oktober 1913 in die Strand gebore. Hy was lid van ʼn sendelinghuisgesin. Sy vader was Gabriel Johannes Viviers en sy moeder Elsabe Johanna Christina Olivier, wat ook ʼn knap orrelis was. Terwyl sy vader se bediening hom soontoe geneem het, het hy beide sy laerskoolloopbaan (*1920 tot 1927) sowel as sy hoërskooljare (*1928 tot 1931) op Sutherland deurgebring.

Na matriek, wat hy in die eersteklas geslaag het, het hy na die Universiteit van Stellenbosch (*1932 tot 1938) gegaan waar hy die BA-graad in 1934 en MA in 1936 verwerf het. Hy is op 2 Desember 1938 gelegitimeer. As student het hy vioolonderrig aan die Konservatorium ontvang, katkisasie aangebied, Christelike uitreikbesoeke by Du Toitstasie georganiseer en deelgeneem aan die Strewers en gimnastiek.

Sy MA-verhandeling het gegaan oor: “ʼn Vergelykende studie van die werkwoord-vorm van Rhodesiese tale”.

Na sy legitimasie het hy in sy eerste drie gemeentes as hulpprediker gedien, naamlik Stanford (*1938); Hopetown (*1939) en Komgha (*1940); In hierdie jaar het hy ook in die huwelik getree met Hendrina Magdalena Holloway. Die Here het hulle met ses kinders geseën, Gabriel Johannes (*1941); Henri (*1942); Pieter Jacobus(1 945); Hester Maria (*1942); Johan Hendrik (*1948) en Francois (*1950); ʼn Hartseer gebeurtenis in die huisgesin was toe Johan se vrou, Helena, en twee van hulle kinders in 1991 in ʼn motorongeluk oorlede is. Hy is in 1992 weer getroud. Daar was in 1997 reeds. 21 kleinkinders.

Ds. Viviers is in 1939 op Hopetown georden, maar sy eerste beroep was na Durban-Suid in 1943. Vier jaar later het hy na Dannhauser geskuif en die gemeente gehelp om ʼn kerk te bou.

In hierdie tyd het vyf van die noordelike gemeentes wat nog aan die Transvaalse kerk behoort het, Utrecht, Vryheid, Louwsburg, Paulpietersburg en Babanango, oorgeskuif na die Sinode van Natal. Ds. Viviers was skriba van die sinode in daardie stadium.

Ses jaar later het hy ʼn beroep na Steynsrusin die Vrystaat (*1953) aanvaar en na nog ses jaar is hy op Cradock bevestig. In 1963 het hy ʼn beroep aanvaar na Tiervleigemeente, tans Parowvallei, in die Wes-Kaap. Ds. Viviers het vir sestien jaar hier gedien totdat hy in 1979 weens gesondheidsredes emeritaat aanvaar het.

Hy het onder andere gely aan die Meniere-sindroom, hartversaking en diabetis. Na sy aftrede het hulle hulle eers op Robertson gevestig (*1978 tot 1987) waar hy drie jaar lank hulpleraar was. Daarna het hulle na die Serenitas-aftreeoord in die Strand verhuis. Hy was egter nog bedrywig as voorsitter van die Siekeboeg-komitee, was leier van ʼn Bybelstudiegroep, koorlid en het nog af en toe gepreek.

In Natal was hy skriba van die sinode en ook van die Sinodale Kommissie, ook voorsitter van die Sinodale Kommissie vir die Bestryding van Maatskaplike Euwels, die SKDB, lid van die redaksiekommissie van Die Kerklig (Natalse kerkblad); verteenwoordiger van die Eksamenkommissie en die Musiekkommissie. In Kaapland was hy voorsitter van die Sinodale Kommssie vir Sending onder die Jode, die SSK en die Skiereilandse Sendingraad. Hy was ook voorsitter van die beheerraad van Huis Martina, lid van die direksie van Goeie Hoop-Behuisingsmaatskappy en het in verskeie ringskommissies gedien. Ds. Viviers het die eerste Algemene Sinode in die Kaap bygewoon.

Hy is op 09 Augustus 2001 in die Serenitas-aftreeoord in die Strand weens hartversaking oorlede.

As pa was hy altyd daar vir sy kinders, en hoewel hy streng was, het hulle geweet dat hy hulle liefhet. As predikant was sy toegewydheid die hoofindruk wat ʼn mens gekry het. Hy was so pligsgetrou dat hy altyd bang was dat hy iemand sou teleurstel. Hy laat ʼn ryke nalatenskap van ʼn vrugbare bediening na.(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 10/02/1997 ingevul het en ʼn gesprek met sy seun, Francois.) (Jaarboek 2002).