Visser, Michiel Hendrik

Ds. Visser Michiel

gebore

16 Okt. 1911

OORLEDE

13 Aug. 1997

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1941

ORDEN

1942

standplase

1942 Jagersfontein

1946 Colesberg

1953 Bethlehem-Wes

1957 Potchefstroom-Mooirivier

1960 Moorreesburg

1964 Kuilsrivier

EMERITEER

1976

Michiel (Gielie) Visser is op 16 Oktober 1911 op Hopefield as een van ʼn identiese tweeling gebore. Sy vader was ʼn sakeman aldaar. Hy matrikuleer in 1929 op die dorp. Vanaf 1929 tot 1933 het hy as klerk in Standardbank op Calvinia gewerk. Daarna het hy na die Teologiese Kweekskool van Stellenbosch gegaan. Hy het sy BA-graad in 1936 behaal en is in Desember 1941 gelegitimeer. Hy het eers hulp verleen in die Middelburg-gemeente in die Kaap en in Julie 1942 is hy op Jagersfontein, sy eerste gemeente, georden. Dit was tydens die Tweede Wêreldoorlog, die myn het stilgestaan en daar is ʼn aantal krygsgevangenes en andere in die leë mynhuise gehuisves. Omdat hulle geen manier gehad het om met hulle dierbares kontak te maak nie, het hulle tydens die bidure allerhande boodskappe in hulle gebede ingevleg, dinge wat hulle aan die Here vertel het, en dan het ds. Gielie Visser dit later aan die betrokke familie oorgedra.

Op 30 Junie 1942 is Michiel Visser met Susara Margaretha de Villiers getroud. Uit hierdie huwelik is vier kinders gebore, naamlik Wybrandt, Louise, Maria en Matthys. Met sy afsterwe was daar reeds twaalf kleinkinders.

Sy tweede gemeente was Colesberg waar hy op 21 September 1946 bevestig is en waar hy nege jaar gewerk het. In hierdie tyd het die gemeente groot probleme gehad met hulle agtkantige kerkgebou waarvan die akoestiek verskriklik sleg was, met die gevolg dat al die geraas van die hoofweg na die Kaap hoorbaar was. Hy het hieraan aandag gegee en die kerkgebou grootliks laat verander.

Hierna het ds. Visser na Bethlehem-Wes (14 November 1953 ) gegaan waar hy vir vier jaar gewerk het. Sy volgende gemeente was Potchefstroom-Mooirivier (Januarie 1957); Vandaar is hy na Moorreesburg, waar hy drie jaar gewerk het totdat hy in sy laaste gemeente, naamlik Kuilsrivier (5 Desember 1964); bevestig is. Hier het hy die laaste twaalfjaar tot by sy aftrede op 31 Oktober 1976 gewerk.

Na sy aftrede het hulle in die Strand gaan woon. Hulle het ook nog op Williston gaan aflos (1977 en 1978); Die laaste vier jaar voor sy dood was hy in die Strand in Huis PAM Brink aan sy bed en woonstel gekluister weens iskemiese hartversaking. Hy het dikwels luimig verklaar dat hy “onder huisarres” is. Ten spyte daarvan het hy nog getuig dat “genoegsame genade sy deel is.” Vir ʼn man wat dit as hoogste prioriteit van sy lewe beskou het “om Christus te verkondig,” kan daar slegs die verheerliking deur Christus wag.

Sy eggenote vertel dat hy ʼn wonderlike predikant en man was. Hulle was oor die jare nie net lief vir mekaar nie, maar steeds verlief op mekaar. Almal was lief vir hom omdat hy so ʼn beminlike mens was. – Dirk Viljoen, met behulp van ds. Visser se biografiese vorm wat hy op 27 Januarie 1977 ingevul het. (Jaarboek 1998).