Visser, Abraham De Villiers

 

gebore

1 Nov. 1911

OORLEDE

20 Jun. 1998

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1938

ORDEN

1939

standplase

1939 hulpprediker, Carnarvon

Benoni-Noord

1962 Capital Park-Oos

1962 Voortrekkerhoogte

EMERITEER

1976

MET die dood van ds. Amie Visser op 20 Junie 1998, het baie kollegas, lidmate en weermaglede ʼn geliefde vriend verloor. Sy spranlcelende lewenslustigheid, innemende geaardheid, ondeundheid, fyn geestigheid, saam met met diepe geestelikheid, het van hom ʼn beminde dienskneg van die Here gemaak.

Amie Visser is gebore in Brixton, Johannesburg. Sy vader was later skoolhoof van De Kroon Laerskool by Brits asook Volksraadslid vir Kemptonpark. Vir sy hoërskoolopleiding is hy na die Afrikaans-Hoër Seunsskool in Pretoria gestuur en hy behaal matriek in 1930. Hy was hoofseun en het veral in atletiek uitgeblink – hy was die Transvaalse Juniorkampioen in die kwart- en halfmyl en het ook Transvaalse erekleure kry.

In 1931 het hy ʼn student aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch geword. Hy verwerf sy BA-graad en word in 1938 gelegitimeer. Hy het sy atletiekprestasies op universiteit voortgesit en het onder andere die rekord vir die 880 treë gehou. Die rekord het vir 21 jaar gestaan. Hy verwerf ook Westelike Provinsie- en Suid-Afrikaanse Universiteits-kleure. Sy atletiektalent het hom later ʼn bekende gesig in die Weermag en Pretoriase atletiekkringe gemaak. Hy was bekend as afrigter, briljante afsitter, beoordelaar en skeidsregter met sitting in menige atletiek-bestuursvergaderings.

Menige atleet van formaat het, benewens hulle vriendskap met hom en hoë agting vir hom, by hom bemoediging gevind wat hulle tot besondere prestasies aangespoor het. Hy het ook gesê dat sy belangstelling in atletiek hom in staat gestel het om jongmanne te bereik, ook van ander kerke, wat andersins nie moontlik was nie. Amie Visser en Albertha Kuit het op 15 Oktober 1940 in die huwelik getree. Sy het hom oor die jare getrou bygestaan. Uit die huwelik is drie kinders gebore: De Villiers, Susanna (van der Merwe) en Albert. Die oudste seun sterf egter op 29 Junie 1963. Daar is tans 6 kleinkinders.

In Januarie 1939 het Amie as hulpprediker op Carnarvon begin. In Julie van dieselfde jaar is hy na Benoni-Noord beroep en daar bevestig. Dertien jaar later (*19 Oktober 1952) is hy in die NG Gemeente Capital Park-Oos in Pretoria bevestig. Daarna was hy ook vir tien jaar kapelaan in die militêre gemeente Voortrekkerhoogte en vanaf 1968 het hy in Voortrekkerhoogte-Oos gedien. Hy was die laaste kapelaan wat op 65-jarige ouderdom afgetree het (31 Oktober 1976); Sy lewenslustige en haastige gees het hom egter nie toegelaat om te gaan rusnie. Na sy aftrede het hy in meer as honderd gemeentes gewerk. Hy het ook sy belangstelling in atletiek behou en nog dikwels as baanbeampte opgetree. In tyd het hy ook na onder andere Israel en Frankryk gereis. Na ʼn val in Karmel moes hy en sy vrou op 28 Januarie 1997 heupvervangings-operasies kry en dit het hulle albei baie verswak.

Amie Visser was ʼn boeiende prediker wat meermale met die verrassende en aangrypende in sy tekskeuses en prediking na vore gekom het. Die soete herinnerings aan die lewe, liefde en besondere invloed van hierdie 85-jarige eerbiedwaardige vriend, leraat, kapelaan, eggenoot en vader sal troosryk wees tot in die verre toekoms. – Ds. DJJ Scheepers, aangevul en bygewerk deur Dirk Viljoen onder andere uit koerantberigte en uit ds. Visser se biografiese vorm wat sy dogter op 4 Februarie 1997 vir hom ingevul het. (Jaarboek 1999).